Luister weer: ‘Katrina – die dansende taal’


RSG saai Donderdag-aand om 20h00 ‘n hoorbeeld-weergawe van KATRINA – DIE DANSENDE TAAL uit.  Hierdie klank-weergawe van die gelyknamige ballet vertel die verhaal van Ouma Katrina Esau, die laaste vlotspreker van die oer-oue N/UU-taal.

Sy vertel haar lewensverhaal in haar eie woorde, met konsep en musiek deur Coenie de Villiers en produksie en aanbieding deur Jacqui January. Die produksie is oorspronklik aangebied in samewerking met KunsteKaap as deel van dié teater se Erfenisjaar-produksies in 2018. Die choreografie is gedoen deur Kirvan Fortuin.  Die verhoogproduksie word ook hierdie jaar by die Woordfees in Stellenbosch aangebied.

Voorskou

Jacqui January gesels met Coenie de Villiers oor sy betrokkendheid by die skep van ‘n ballet oor Ouma Katrina Esau, die laaste volspreker van die oeroue N/UU-taal.

Ouma Katrina Esau by choreograaf Krivan Fortuin en Coenie de Villiers.

Luister na die volledige dokumentêr:

Meer oor die produksie

Die betowering van hierdie produksie berus by die storieverteller en haar besonderse verhaal. Ouma Katrina Esau, ook bekend as Ouma Geelmeid, is 85 jaar oud en die laaste persoon op aarde wat die oer-oue taal N /UU vlot kan praat.

Vir Ouma is dit haar lewenspassie. Sy bedryf smiddae ‘n beskeie tuisskooltjie op Upington vir plaaslike kinders waar sy vir hulle basiese N/UU kan leer.

Coenie de Villiers by Ouma Katrina Esau.

Coenie de Villiers het die konsep ontwikkel en die musiek daarvoor geskep. Hy het vanuit die staanspoor met die talentvolle Kaapse choreograaf Kirvan Fortuin saamgewerk.

Dit was vir De Villiers en Fortuin belangrik om ‘n eg Suid-Afrikaanse storie te vertel.  Hulle vertel self dat hulle wou musiek en choreografie skep wat Ouma se merkwaardige verhaal kon ondersteun en bekend stel aan ‘n groter gehoor.

Ná samesprekings met die plaaslike gemeenskap, het die projek in alle erns begin. Daar is wyd gekonsulteer met die San-raad en die gemeenskap.

De Villiers erken self dat nie hy of Fortuin die verhaal van Ouma en haar mense in al sy kompleksiteit kan oorvertel nie; hulle het ook nie die mandaat daarvoor nie. Hulle het wél probeer om ‘n enkele individu se verhaal te vertel met die deernis en trots wat dit verdien.

Hulle hoop dat dit belangstelling sal prikkel ten opsigte van die San-gemeenskap en ook ‘n groter kennis sal meebring wat betref die uitdagings wat hierdie gemeenskap moet trotseer.

Die kern van die produksie is Ouma Katrina se verhaal, wat vertel word in sewe dele.  Sy vertel die storie in haar eie stem en in haar eie geliefde taal. Die naatlose samevoeging van vertelling, musiek en dans is uniek Suid-Afrikaans en klink en lyk soos min wat nog op die verhoog gesien is.

Vir die radio-produksie vertel Jacqui January (wat ook die regisseur van die program is), die Afrikaanse teks oor die stembaan van Ouma. Die luisteraar hoor wel nog dele van Ouma se stem kan hoor. Hierdie vertaling is gemaak met Ouma Katrina sélf wat deurgaans volledig by die proses betrokke was, en die  vertaling is deur haar goedgekeur. Tydens die verhoogproduksie is die Afrikaanse teks as subtitels op die verhoog geprojekteer, en dis hierdie gedeeltes wat Jacqui January in die uitsaai-produksie aanbied.

Die musiek is geskep deur Coenie de Villiers, en die choreografie deur Kirvan Fortuin.  Ouma Katrina Esau vertel haar verhaal in haar eie woorde, en die kopiereg van elk word voorbehou met erkenning aan die San-gemeenskap. Die oorspronklike brokkie inheemse musiek is die Maandans, en word uitgevoer deur, en met erkenning aan, Oupa Jan Pietersen en die D.K. Saa-dansgroep van Witdraai in die Kalahari.

Hierdie produksie word gedoen ter ere van Ouma Katrina Esau en haar gemeenskap.  Die hoop is dat dit die soeklig sal fokus op die uitdagings van die San-gemeenskappe in Suider-Afrika. Dis nie alleen die N/UU-taal wat bedreig word nie – ook die ander inheemse tale staan onder druk.

Meer oor Katrina

Wat gebeur wanneer die laaste lewende persoon wat ‘n oeroue taal vlot praat, haar unieke verhaal vertel deur die gekombineerde talente van twee van Suid-Afrika se mees opwindende skeppende kunstenaars, waarvan die een ‘n veelbekroonde musikant is en die ander een van Suid-Afrika se mees talentvolle choreograwe?

Die resultaat is eenvoudig magies.

Hierdie verbluffende reis het begin deur samewerking tussen twee kunstenaars en is op die punt om deur Kunstekaap opgevoer te word as vlagskipproduksie as deel van hul Erfenisprogram in September.

Die choreograaf is die briljante Suid-Afrikaans- en Nederlandsopgeleide danser-choreograaf Kirvan Fortuin. Die komponis is die welbekende Coenie de Villiers, wenner van drie SAMA-toekennings en skepper van 21 albums van sy eie materiaal.

Maar die unieke betowering lê by die storieverteller en haar besonderse verhaal.

Haar naam is Ouma Katrina Esau.  Sy is 85 jaar oud en die laaste persoon op aarde wat die oeroue taal N/UU (uitgespreek met ‘n duidelike klik agter die tande) kan praat. Ouma Katrina woon in Upington op die rand van die Kalahariwoestyn en haar twee susters en broer praat ook steeds die taal. Vir Ouma is dit egter haar lewenspassie. Sy bedryf smiddae ‘n beskeie tuisskooltjie vir townshipkinders, waar hulle basiese N/UU kan leer.

De Villiers vertel verder: “Ek het Kirvan Fortuin by Kunstekaap ontmoet toe ons ‘n konsert met ‘n klomp kunstenaars gedoen het. Ek was diep beïndruk deur sy talent (Ek het twee linkervoete!) en Kirvan het ‘n versugting uitgespreek dat choreograwe meer inheemse werk benodig om nuwe werke te help skep. Voor die aand om was, het ons besluit om saam te werk.”

Dit was vir De Villiers en Fortuin belangrik om ‘n eg Suid-Afrikaanse storie te vertel. “Uit die staanspoor het ek en Kirvan vir die regte storie gesoek. Ek was bewus van Ouma Katrina, maar eers toe ek weer na haar besonderse storie gekyk het, het die konsep by my posgevat,”, sê De Villiers.  “Ek het gedink om Ouma Katrina te kry om haar storie met haar eie stem in haar eie taal te vertel sal tot iets ongeloofliks lei. Ek  wou probeer om musiek te skep wat bydra tot haar storie en dis belangrik dat die musiek ook vir Kirvan as choreograaf sal help – hy moet Ouma se verhaal in ‘n dans herskep. Bykomend sal die gehoor die geanimeerde subtitels kan volg.”

Fortuin is entoesiasties oor die projek. “Coenie het die idee aan my voorgelê en ek het onmiddelik ingestem,” sê hy. “Wat kan meer Suid-Afrikaans wees?” Hulle het die konsep met Kunstekaap bespreek en die teater het ingestem om Katrina – Die Dansende Taal, op te voer.

Albei kunstenaars is uiters sensitief oor die San-gemeenskap en die respek wat Ouma se storie verdien. “Dit is die oorspronklike inwoners van ons land hierdie en hulle taal gaan al ons tale vooruit,” sê De Villiers. “Ons het wyd gekonsulteer met die San-raad en verduidelik dat ons beslis nie die San se geskiedenis in sy volle kompleksiteit kan belig nie ; ons het ook nie die mandaat om dit te doen nie. Wat ons wel kan doen, is om te poog om ‘n enkele individu se verhaal te vertel met al die mooiheid en trots wat dit verdien. Ons kan slegs hoop dat belangstelling sal prikkel in die groter San-gemeenskap en al sy probleme, insluitend die voortbestaan van tale wat uitermate bedreig word.”

Die kern van die produksie is Ouma Katrina se verhaal, wat vertel word in sewe “hoofstukke”. Sy vertel die storie in haar eie stem en in haar eie geliefde taal. Wat die musiek betref het De Villiers baie navorsing gedoen en wyd gekonsulteer rakende inheemse en tradisionele instrumente. “Ek het leiding ontvang van kundiges op die gebied,” sê hy. Hierdie tradisionele klanke smelt saam met die kontemporêre musiek wat De Villiers geskep het. “Dis ‘n bietjie soos Vangelis wat sy wortels ontdek,” glimlag hy terwyl hy die klank probeer beskryf.

Insgelyks het Kirvan Fortuin die Kalahari saam met De Villiers besoek om die antieke dansvorms van die gebied na te vors. “Ons het die gemeensap van wyle dawid Kruiper besoek, waar ons bekendgestel is aan die dans deur die afstammelinge van die legendariese leier. Dit was baie belangrik om die spirituele grondslag van die dans te verstaan, asook die gewyde respek waarmee dit benader moes word.” Fortuin se choreografie het ‘n klassieke struktuur as grondslag en om tradisionele danswoordeskat te gebruik – hy skep ‘n kontemporêre, moderne gevoel.

As etnograaf en geskiedkundige dokumenteer Kirvan Fortuin sy dansnavorsing as deel van sy nagraadse studies by UCT. Alle materiaal wat Fortuin en De Villiers versamel en dokumenteer, sal gedeel word en teruggegee word aan die San-argief.

Die intellektuele eiendom van Ouma Katrina se verhaal bly haar eie deur die San-raad en ‘n paar van die aanvanklike tasbare resultate van die produksie sluit ‘n klaskamer/biblioteek in vir die kinders van Ouma Katrina se skooltjie, danksy AVBOB. Die skool trek binnekort na ‘n nuwe perseel en een van die produksieborge, Laeveld Agrochem, sal ‘n volhoubare groentetuin vir die kinders skep en die skool ondersteun d.m.v ‘n voedsame voedingsplan.

De Villiers en Fortuin stem saam: “Dit was ‘n uiters verootmoedigende reis. Toe ons ons reis saam begin het, sou ons nooit kon dink dat Ouma ons lewens so sou raak nie. Ons hoop dat hierdie produksie nie slegs gehore die klank van hul eie taal sal laat hoor nie, maar ook die warmte van haar hart sal laat beleef. Ons vertrou dat daar ‘n nalatenskap sal wees wat Ouma en haar gemeenskap tot eer sal strek.” Hulle kan nie wag om hul gemeenskaplike visie van die projek te deel nie: “Natuurlik hoop ons die gehoor sal ons skeppende visie en die daarstel van hierdie merkwaardige verhaal sal geniet,” sê hul met entoesiasme.