Luister weer: Abraham Izak Perold – Die vader van Pinotage


Perold, die vader van Pinotage

Luister Donderdag 25 Maart om 20:00 na die dokumentêre program oor Abraham Izak Perold – Die vader van Pinotage. Die program is saamgestel deur Johan Rademan.

In 1814 stap die stamvader van Abraham Izak Perold (20/10/18880 – 11/12/1941), Roland Perrot uit Montrieux, Bretagne, Frankryk aan wal. Min wetend wat sy nageslag, terwyl hy self op Boschendal gaan boer het, vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf sou beteken.

Luister gerus na die storie van Abraham Izak Perold, waarin sy kleinkinders soos sy naamgenoot, Abraham en kleindogter, Sonja oor hul Oupa vertel, maar ook die agterkleinseun, Gerhard, wat ‘n “Perold Wine Shop” in die Somersetgraafskap, ongeveer 20 km van Bath, in Engeland geopen het.

Abraham Perold is op 20 Oktober 1880 op Kromvlei, Dal Josafat in die Paarl gebore. Hy was ‘n wetenskaplike en wynvisionêr wat met besondere insig die wynbedryf in Suid-Afrika uitgebou en gevestig het as ‘n mededingende wêreldgehalte produk. Hy het die kruising, Pinotage, gemaak wat die enigste egte Suid-Afrikaanse kultivar is. Vandag is dit die bedryf se troefkaart, en word dit as rooigoud bestempel.

Ons luister hoe Wines of South Africa(WOSA) se Maryna Calow ook vertel van die groei in Pinotage die afgelope jare en Beyers Truter van die Pinotage Assosiasie perspektief gee op die troefkaart waarmee Suid-Afrika al twee wereldkampioenwynmakers opgelewer het en ook met Pinotage in ‘n Cape Blend (Kaapse Versnit) die wêreld se voete onder hulle uitgeslaan het.

KWV bring vandag nog hulde aan Perold met hul wyne en ons deel op RSG in die huldiging.

Luister hier na die dokumentêr:

Agtergrond inligting oor Abrahan Izak Perold

Abraham Izak Perold is gebore op 20 Oktober 1880 op Kromvlei, Dal Josafat in die Paarl.

Hy was ‘n wetenskaplike en wynvisionêr wat met besondere insig die wynbedryf in SA uitgebou en gevestig het tot ‘n mededingende wêreldgehalte produk. Hy het die kruising Pinotage gemaak wat die enigste egte Suid-Afrikaanse kultivar is. Vandag is dit die bedryf se troefkaart en word as Rooigoud bestempel.

Voor, tydens en na Abraham Izak Perold

Perold het geleef in die vormingsjare van die Afrikaanse Taalstryd, maar ook die Anglo-Boereoorlog, Eerste Wêreldoorlog en hy is tydens die Tweede Wêreldoorlog in 1941 oorlede.

Perold as student

Sy skoolopleiding was in die Dal Josafat Gedenkskool en Boys’ High School Wellington. Sy klasmaats was mense soos AG Visser en boesemvriend die hoogleraar en skrywer DF Malherbe (bekend vir o.a. Hans die Skipper en Die Meulenaar) Hy word in die dampkring groot van die Du Toits, Hoogenhouts, JHH de Waal en die Patriot se redaksie. Hy dien ook in die GRA se taalkomitee.

Perold was 5 tale, nl. Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits en Frans vlot magtig en kon later in nog 3 tale, Spaans, Italiaans en Portugees, kommunikeer.

C Louis Leipoldt was een van sy goeie vriende. Hulle het buiten ‘n belangstelling in kos en wyn, ook letterkunde en blomme en plante as gemenedeler in hul vriendskap gehad. Tydens sy begrafnis in die Paarl op Helenasvlei, het Leipoldt, terwyl almal weg was nog vir ‘n halfuur alleen by sy graf gestaan om afskeid te neem van sy geliefde vriend.

Pinotage se seisoensiklus: Abaham Izak Perold het as wynwetenskaplike die prosesse noukeurig aangeteken

1901 het Peroldt het as jongman ‘n BA-graad met Wiskunde, Fisika en Skeikunde aan die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop behaal. In 1918 het die instansie se naam verander na die Universiteit van Suid-Afrika of te wel UNISA.

1904 behaal hy sy doktorsgraad in Skeikunde aan die Halle-aan-de-Saal universiteit in Duitsland.

1907 is hy in diens van die Kaapse regering en hul stuur hom op ‘n wynnavorsingsreis na Duitsland en ander Europesestreke asook Noord-Afrika. Hy keer terug met ‘n magdom kennis en voeg 177 wyndruifvariëteite by die nagenoeg 23 wat Suid-Afrika mee vertroud was. Hy ontmoet ook sy Duitse vrou Bertha Elizabeth Muller (Else) tydens die studiejare en trou in 1908. (Hulle het 2 seuns en 2 dogters gehad, maar is later geskei en hy het in 1931 met Martel, ook ‘n Duitse vrou, getrou.)

1910 stig hy die proefplaas Bellevue en ontdek toevallig in Novi in Algerië, oppad terug Suid-Afrika toe, ons tafel-en-uitvoerdruif se rooigoud Barlinka.

1912 word Perold hoof van die Elsenburg Landbou Kollege.

1917 word hy aangestel as Hoogleraar: Wynbou en Enologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy dien ook as die eerste dekaan van die pasgestigte Fakulteit Landbou, wat hom die eerste Professor in landbou in Suid-Afrika maak.

1925 is die jaar wat Afrikaans amptelike status verwerf het in Suid-Afrika en ironies of simbolies ook die jaar waarin Perold Pinot Noir en Cinsaut(Hermitage) gekruis het wat vandag as Pinotage bekendstaan. PINO van Pinot Noir en TAGE van Hermitage(Cinsaut).

Perold tydens n besoek aan die Victoria-waterval.

1926 skryf hy die eerste voorgeskrewe “Handboek oor Wynbou” in Afrikaans wat die volgende jaar in Engels aanvaar word as handleiding in o.a. Kalifornië en Australië.

1928 word Perold aangestel as Hoof Wyn-en-Wetenskaplike kundige. Hier bou hy sy eie mikrobiologiese navorsingsapparaat end eel die kollektiewe navorsing en wynverbouingstegnieke met die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die geheel.

In sy loopbaan lewer hy revolusionêre en profetiese bydraes in en oor:

  • Pinotage
  • Ysverkoeling
  • “Flor” vir Sjerrie
  • Portwyne
  • Skeiding van Parsgebied en Kelder
  • Wynhandleidings en wetenskaplike artikels plaaslik en internasionaal

1941 Abraham Izak Perold sterf aan ‘n hartaanval, ‘n dag na ‘n vermoeiende bergklim ekspedisie na Sneeukop in Klein Drakenstein op 11 Desember 1941.

1941 is die jaar waarin CT de Waal die eerste vaatjie Pinotage maak.

Perold se Pinotagewingerd naby Welgevallen

1959 – Pinotage wen die eerste maal in die geskiedenis die SA Jongwynskou met Pinotage as rooiwyn.
1961 vrygestel met druiwe wat van Bellevue af gekom het. Eerste kommersiële bottel Pinotage in die wêreld.

1961 is die jaar waarin die eerste kommersiële bottel Pinotage deur Stellenbosch Boere Wynmakery, nl die 1959-0esjaar onder die SFW Lanzerac Wines ettiket vrygestel is. (Van die Pinotage druiwe het toevallig van Bellevue, die destydse proefplaasgedeelte van Perold afgekom wat aan die Morkels behoort)

Izelle van Blerk(KWV Mentors) wynmaker by wyn wat Perold in die 1930’s by KWV gemaak het

Johan Rademan by 2 van die 5 kinders, Abraham en Sonja, van Prof Roland Perold(Lanbou-Ingenieur) wat voor hy oorlede is baie staaltjies oor hul Oupa, Abraham Izak Perold gedeel het.

Kiekies uit Abraham Izak Perold se reisalbum uit 1939, 2 jaar voor sy dood in ouderdom 61.

 

Perold in Noord-Afrika waar hy o.a. die Barlinka-tafeldruif ontdek het en in 1910 na SA gebring het. Uit 2000 variëteite was Barlinka onopgeteken en het Perold se raakproe ons uitvoertafeldruifboere skatryk gemaak. Nog rooigoud soos Pinotage!

Gerhard Perold, agterkleinseun van wynpionier, Abraham Izak Perold, plant Pinotage in Engeland. Hy is presies n eeu na sy Oupagrootjie in 1980 gebore

Gerhard Perold in die Somersetgraafskap in Engeland in sy wynboetiek, The Perold Wine Cellar

Gerhard brei sy Perold Wine Cellar uit met ander SA-produkte in die VK

Uitstalling in die Perold Wine Cellar in Engeland

Trots Suid-Afrikaans buite Bath in Engeland.