Luister weer: Boetie ontmoet ‘n alien
Boetie ontmoet ’n alien, ’n radiodrama uit die pen van Johann Smith, debuteer op Donderdag 26 November om 20:00 in RSG se Radioteater.
Die teks was ’n finalis in RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie van 2019. Dit is Smith se debuut as radiodramaturg.
Die storie

Pietie Beyers speel die hoofrol by ‘n spesiale mikrofoon wat ge-equalize en gedokter is as die alien in BOETIE ONTMOET ‘N ALIEN op 26 November om 8 nm in Radioteater.
‘n Doodgewone gesin op ‘n plaas op die platteland se lewe word heeltemal omvergewerp wanneer ‘n vreemde wese uit die ruimte (‘n alien) bo-op hul huis in sy tegnologies-gevorderde ruimtetuig land. Die wese trek dan tydelik by die gesin in. Elkeen worstel in die huis met persoonlike probleme en die alien spreek elkeen afsonderlik aan en help hulle.
Pietie Beyers vertolk die rol van die alien, Luan Jacobs is Boetie, wat graag ‘n ruimtevaarder wil word, Anton Schmidt is sy streng pa, Izél Bezuidenhout is die suster wat pas uit China teruggekeer het, en Christine Voorendyk die ma.
Die skrywer is Johann Smith en die regisseur Leon van Nierop.
DIE SKRYWER – JOHANN SMITH
Johann is ‘n skrywer vir die gewilde SABC-sepie 7de Laan en het ook voorheen vir die kykNet-sepie Binnelanders geskryf. Sy hart lê egter by die ontwikkeling van jong kunstenaars en hy is sedert 2004 gereeld by Tienertoneel betrokke, waar tien van sy tekste al tydens die ATKV Tienertoneelfinaal meegeding het.