Dubbeldoor Goëlstories: Luister weer
Goëlstorie 1: Die Kaptein en sy vrou

Die Kaptein en sy vrou, met Mariiechen Vosloo, Deon Lotz, Mariechen Vosloo, De Klerk Oelofse (voor), Johann Nel en Juanita Swanepoel beeld ‘n plattelandse bestaan uit en die musiek van Modest Petrovich Mussorsky, Op ‘n kaal berg, wat juis oor heksery gaan, skep ‘n besonderse stemming, volgens die regisseur Johan Rademan (heel links).
Die eerste is ‘n Russiese periodestuk wat in 1852 in ‘n dorpie buite Moskou, Lipsty, afspeel. Die Kaptein en sy vrou, met Deon Lotz, Mariechen Vosloo, De Klerk Oelofse, Johann Nel en Juanita Swanepoel beeld ‘n plattelandse bestaan uit en die musiek van Modest Petrovich Mussorsky, Op ‘n kaal berg, wat juis oor heksery gaan, skep ‘n besonderse stemming, volgens die regisseur Johan Rademan.
Goëlstorie 2: Die Spook van tant Letjie

Die span vir Tant Letjie is Johann Rademan (regisseur), Jane de Wet, Anrich Herbst, Zenobia Kloppers en André Samuels.
Die Spook van tant Letjie, met Jane de Wet, Anrich Herbst, Zenobia Kloppers en André Samuels is weer ‘n perd van ‘n ander kleur. Magshebsug en kontrole oor ander kom hier ter sprake. Die tegnieke is eenvoudig, maar treffend met ‘n tragiese einde in beide dramas. ‘n Jong onderwyser by ‘n plattelandse skool kry huisvesting op ‘n plaas in ‘n huis vol vreemde geluide…
Vandag met al die moderne inligting oor goëlery kan ‘n mens jou amper nie indink hoe naiëf die mens was nie, maar ook hoe skadelik die tegnieke met tragiese uiteindes kon uitspeel nie.
Izak David du Plessis is op 25 Junie 1900 in Philipstown in die Karoo gebore. Du Plessis was een van die vrugbaarste en veelsydigste Afrikaanse skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het. Hy was een van die sogenaamde Dertigers.
Naas spookstories, jeugverhale, navertellings van ou legendes en volksverhale, kortverhale, essays, werke oor die Maleiers en ‘n outobiografie is hy die skrywer van 21 bundels poësie – bloemlesings en versamelings uitgesonderd – waarin hy uiteenlopende vorme soos die ballade en sonnet, die biegvers en hekeldig, die volkse vers en kwatryn beoefen.