Elvis Presley en die Weskus-vissersvrou


Die kortverhaalskrywer Hendie Grobbelaar was verlede jaar ‘n finalis in die RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie met haar heel eerste radiodrama, Johanna se Elvis.

Hierdie Weskusverhaal kan op Donderdag 5 November om 20:00 op RSG gehoor word.

Johanna Apolis is ‘n voorslag as dit kom by die uithaal van blinklywe. Dit is haar ambisie om gereken te word onder die vistermanne deur die heel grootste vis van almal te vang. Sou dit haar beskore wees? En teen watter prys?

Om die grootste blinklyf te kan uittrek…

Op ‘n mooi dag kan alles goed verloop… Foto: Nigel Riley

‘n Versameling bekroonde akteurs vul die rolbesetting.

Lees meer oor Simone Benjamin in die artikel in die tydskrif SARAFINA: https://sarafinamagazine.com/2019/08/28/a-conversation-with-simone-benjamin/

Simoné Benjamin, bekend vir haar vertolking van Mina Afrika op RSG, vertolk die hoofrol as Johanna.

Dann-Jacques Mouton

 

Dann-Jacques Mouton van Noem my Skollie-faam maak sy buiging agter die radiomikrofoon as haar sagmoedige man, Gert.

Zenobia Kloppers

 

Zenobia Kloppers speel Mattie.

Denver Vraagom

 

Denver Vraagom is Jan Baartman.

Neels Coetzee

 

En jy hoor die stem van Neels Coetzee as Oumeneer.

 

Die regie word behartig deur Amor Tredoux met tegniese en akoestiese versorging deur Cassi Lowers.

 

Kyk na die video en vind meer uit oor die storie en die radio-opname:

DIE SKRYWER Hendie Grobbelaar

Hendie Grobbelaar

Hendie Grobbelaar is ʼn vryskut kommunikasie- en skakelwese-konsultant, woonagtig in die kusdorpie Gouritsmond, en het sowat vyf jaar gelede begin om kortverhale te skryf. Twee selfpublikasies het die lig gesien (Potskerwe en Striksvye) en sy publiseer soms in gesamentlike bundels, soos Kwarts-uitgewers se bundel Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale, waar die bundeltitel na haar storie vernoem is. Sy publiseer ook in tydskrifte soos Vrouekeur en op Litnet. In 2017 is een van haar kortverhale in die US Woordfeesbundel opgeneem en in 2019 was sy die algehele pryswenner van dié bundel.

Johanna se Elvis is haar debuut-radiodrama. Hendie het radiodrama begin skryf nadat sy ‘n aanbieding van Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, in 2019 tydens die ATKV se winterskool in Potchefstroom bygewoon het. “Dit is waar die gogga gebyt het,” sê sy.

DIE REGISSEUR Amor Tredoux

Amor Tredoux

Hendie Grobbelaar se teks beland in my inboks. Ek lees. Die taal is soepel en beeldryk. ’n Weskus-vissersgemeenskap van 1965 word opgetower. ‘n Jong vrou met ‘n ambisie om gereken te word tussen die manne… Dis ook ‘n tere liefdesverhaal.

Die drama is tegnies veeleisend. Dit speel grotendeels af op ‘n klein roeibootjie op die viswaters met ‘n dreigende storm. Cassi Lowers, vindingryke tegniese versorger van die produksie, laat die akteurs kaalvoet speel op ‘n plank om hul voetwerk geloofwaardig te laat klink. Hulle speel met voortdurend wiegende lywe om die effek van die see se deining weer te gee in hul dialoog.

Byklanke word grotendeels in die ateljee verskaf deur die byspelers. Daar word geplas in emmers water. ‘n Nat hand wat klap teen ‘n kaal maag en bors word die klank van ‘n vis wat spartel as hy uit die see gelig word.

En dan is daar Elvis Presley se liedjies wat die produksie deurspek.

Opname van dié stuk was groot sports, met deelname van ‘n span bekroonde akteurs. Die eindproduk… Besluit vir jouself. Ek hoop jy geniet dit soveel as wat ons dit geniet het om daaraan te werk!