Kleurvolle lugruim met vlieërfees in Kaap


Santie Terreblanche en Greg Mountjoy gesels met Martelize Brink by Oggend op RSG oor die Kaapstadse Internasionale Vlieërfees en die ander internasionale feeste waar Greg al deelgeneem het.

Afrika se grootste vlieërfees is pas in Kaapstad gehou. Die lug by Muizenberg, Kaapstad, was gevul met kleurvolle vlieërs.

Santie Terreblanche  en Greg Mountjoy het met Martelize Brink by Oggend op RSG oor die Kaapstadse Internasionale Vlieërfees gesels wat op 27 en 28 Oktober by die Zandvlei Natuurreservaat in Muizenberg gehou is, en die ander internasionale feeste waar Greg al deelgeneem het.

Agtergrond oor Afrika se grootste vlieërfees

Vlieërs op die fees.

Die “groot vyf” was in die lugruim: Nemo, Tjokka, Seekat, Rooi Teddie en Bertie die wurm het op 27 en 28 Oktober by Muizenberg die lug ingevaar by die 24steKaapstadse Internasionale Vlieërfees. Dit is Afrika se grootste vlieërfees en vlieërgeesdriftiges van regoor die wêreld stuur asemrowende vlieërs die lug in ter ondersteuning van Cape Mental Health, Suid-Afrika se oudste geestesgesondheidsorganisasie.

Hierdie jaarlikse vlieër-skouspel is die hoogtepunt van die Geestesgesondheidsmaand-veldtog in Oktober en word sedert 1994 ter ondersteuning van Cape Mental Healthgehou.

“‘Styg op’ is ons tema vir 2018,” sê Ingrid Daniels, direkteur van Cape Mental Health en verkose president van die Wêreldfederasie vir Geestesgesondheid. “Ons glo elke mens word gebore met die potensiaal om bo sy of haar omstandighede uit te styg. Ons missie en die dienste wat ons lewer help mense om hierdie potensiaal te verwesenlik en om geestesgesondheidsuitdagings op hulle pad te oorkom. Vlieërs is een van die hulpmiddels wat ons gebruik. Bykans almal word geïnspireer as hulle bloot hulle koppe oplig en opkyk.”

Statistieke toon dat een uit vier mense jaarliks met geestesgesondheidsprobleme sal sukkel. Geestesgesondheid raak almal, maar vir mense in agtergeblewe stedelike of landelike gemeenskappe is die impak van ’n gestremdheid en armoede veral ’n uitdaging.

Vlieërs op verlede jaar se fees

Keith Mould & Greg Mountjoy met hul vlieërs

Teen net R40 per persoon (en R15 vir kinders 12 jaar en jonger) bied hierdie skouspelagtige vlieërfees bekostigbare buitelugpret wat goed is vir jou en jou gesin, terwyl dit ook mense met geestes-gesondheidsprobleme help.

Bring jou eie vlieër en vlieg dit in die toegelate area, koop ’n vlieër by die fees of maak een – daar is albei dae verskeie gratis werkswinkels vir kinders en volwassenes. Daar is ook volop vermaak (dans, musiek en komedie), ’n teetuin, koswaentjies en pretritte. Die gratis peuterspeelplek gee ouers ’n kans om bietjie hulle bene te laat rus en te ontspan. Feesgangers is welkom om ’n piekniekmandjie saam te bring, maar honde moet ongelukkig tuisbly.

Die 24ste Kaapstadse Internasionale Vlieërfees vind op 27 en 28 Oktober van 10 vm. tot 6 nm. by die Zandvlei-natuurreservaat in Muizenberg (op die hoek van Axminster- en The Row-straat) plaas. Daar is baie parkering by Muizenberg Hoërskool en toegang is maklik per trein (Valsbaai- of Muizenberg-stasies). Toegang is R40 (R15 vir kinders 12 jaar en jonger). Kaartjies is beskikbaar by die hek of via www.Quicket.co.za.

Vir meer inligting besoek www.capementalhealth.co.za, bel Cape Mental Health by 021 447 9040 / info@cmh.org.za of volg @CTKiteFest op Facebook, Twitter en Instagram.

Meer oor Cape Mental Health

Cape Mental Health is ’n bekroonde, niewinsgewende organisasie wat omvattende, proaktiewe en bemagtigende geestesgesondheidsdienste in die Wes-Kaap verskaf en fasiliteer. Ons is daartoe verbind om sosiaal beperkende en diskriminerende praktyke wat enige iemand se geestesgesondheid benadeel, uit te daag. Ons werk word onderlê deur ’n verbintenis tot gehalte, uitnemendheid en professionalisme. Ons bereik elke jaar sowat 19 000 mense en het 150 personeellede wat in 22 intervensieprogramme werk.

Ons gemeenskapgebaseerde dienste verskaf bemagtigende geestesgesondheidsorg aan mense wat probleme het om emosioneel aan te pas, asook diegene met geestesgestremdhede (intellektueel en/of psigiatries/psigososiaal), en volg ’n holistiese en gesinsgerigte benadering. Ons projekte gerig op lewens- en werkvaardighede vir mense met geestesgestremdhede sluit in ’n fokus op vaardigheidsopleiding en ondervinding in die werkplek, individuele indiensopleiding en voortgesette steun, ondersteuning by die werkplek vir werknemers en werkgewers, redelike akkommodasie en hulp met steunstelsels. Ons geniet erkenning op plaaslike en internasionale vlak en het in 2017 ’n toekenning vir innoverende praktyk van Zero Projects verower vir ons opleidingsprogram Training Workshop Unlimited, ’n intensiewe opleidingsprogram gerig op vaardigheidsontwikkeling en die vestiging van ’n beroepsrigting vir volwassenes met intellektuele gestremdhede.

Vir meer inligting bel 021 447 9040, stuur ’n e-pos aan info@cmh.org.za, besoek www.capementalhealth.co.za of volg ons op Facebook @CapeMentalHealth of Twitter @CMH_NGO.