Geluk aan RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie wenners!


Die wenners van die RSG/Sanlam Radiodrama skryfkompetisie uit die rekordgetal van 385 inskrywings, is pas op RSG bekend gemaak.

Al die tekste is anoniem beoordeel deur twee panele beoordelaars. Daar was 20 finaliste.

Die totale prysgeld is R155 000.

Adelle van Wyk

Die eerste prys van R70 000 gaan aan Adelle van Wyk vir Makkie onthou.

Die tweede prys van R35 000 gaan aan Hendie Grobbelaar vir Sterrereën.

Die derde prys van R25 000 gaan aan Philip Nolte vir Morgenster.

Die Jongskrywersprys van R15 000 is aan Adriaan Havenga vir Hulle noem hom Mamba.

Die aansporingsprys van R10 000 is aan Isabel Martenson vir Pap en Kaviaar.

Arbeidskonsultant se “epiese” radiodrama bekroon

‘n Arbeidskonsultant van Malmesbury in die Wes-Kaap is die wenner van vanjaar se RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie met ‘n “epiese” radiodrama. Adelle van Wyk (47) se Makkie onthou is uit altesame 385 inskrywings – ‘n rekord vir hierdie kompetisie – as die algehele wenner aangewys. Van Wyk ontvang R70 000 se prysgeld.

“Ek skryf al jare vir myself, maar het begin 2019, op die rype ouderdom van 45, besluit om myself aan die “mark te toets”, deur aan skryfkompetisie deel te neem,” vertel Van Wyk. Sy het in Junie 2019 RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool in Seepunt bygewoon. Sy was later die jaar ‘n finalis in die radiodrama-skryfkompetisie. Makkie onthou is dus haar tweede radiodrama.

Die beoordelaars het Adelle van Wyk se Makkie onthou as ‘n waardige wenner en uitstekende teks beskryf.

Die polisie word ontbied nadat Makkie Ghall ‘n lyk in die swembad ontdek het. Wie het Fisher vermoor? Twintig jaar later in die koue water van ‘n sementdam met die jongmense Katy en Patat wat kopkrap oor Makkie se eienaardige gedrag, begin die waarheid sy verskyning maak.

Dit is ‘n sterk, karaktergedrewe misdaaddrama met radiomatige dialoog. Die karakters is fassinerend en die skrywer verhef met die taalgebruik die vertelling na dié van ‘n literêre werk. Die verhaal boei uit die staanspoor en laat ‘n mens tot en met die laaste toneel kopkrap.

Hendie Grobbelaar

Hendie Grobbelaar (55), ‘n kommunikasie- en skakelwese-konsultant van Gouritsmond, ontvang die tweede prys vir die romantiese komedie Sterrereën. Sy wen R35 000. Dit is haar tweede radiodrama, nadat Johanna se Elvis (wat onlangs op RSG uitgesaai is) ‘n finalis was in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2019.

Grobbelaar sê die radiodrama-gogga het begin byt nadat sy ‘n kort praatjie oor radiodrama tydens die ATKV Winterskool van 2019 deur Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, bygewoon het.

Philip Nolte

Philip Nolte, ‘n 32-jarige skrywer, regisseur en inhoudsvervaardiger in die TV- en fliekbedryf, behaal die derde plek met Morgenster. Dit is Nolte se debuut en hy ontvang R25 000 vir sy postcovid-drama oor ‘n engel Azrael wat letterlik uit die hemel val.

Adriaan Havenga

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as dertig jaar) is deur Adriaan Havenga, ‘n 21-jarige student van die Universiteit van Stellenbosch, gewen. Havenga studeer drama en het R15 000 gewen met sy debuut, Hulle noem hom Mamba.

Isabel Martinson

Die beoordelaars het vanjaar vir die eerste keer ‘n merieteprys toegeken. Dit gaan aan ‘n skrywer wat aansporing verdien en steeds ‘n hoë gemiddelde punt ontvang het. Die 34-jarige Isabel Martinson ontvang R10 000 se prysgeld vir Pap en kaviaar.

Kompetisie is 24 jaar oud

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 24 jaar oud. En daar was altesame twintig finaliste. Die finaliste kon twee meesterklasse bywoon, is met RSG Sanlam geskenkpakke bederf en het mentorskap ontvang voordat die tekste in die eindronde weer eens anoniem beoordeel is.

Die totale prysgeld was R155 000 en die wendramas sal van April 2021 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2021 gehoor word.

Daar was vanjaar twee rondes met twee afsonderlike panele beoordelaars. Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar 385 inskrywings ontvang, sowat drie keer die hoeveelheid tekste wat gewoonlik ontvang word.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, is die oorweldingende belangstelling in vanjaar se kompetisie ook in voeling met die groot toename in luisteraars wat RSG sedert die Grendeltyd vroeër vanjaar beleef het. “Selfs die potgooisyfers van Radioteater laat deesdae die rekords spat en dui op die passie wat luisteraars vir stories in klank het. So, op die vooraand van die kompetisie se kwarteeuviering, dui dit op ‘n dramagenre wat aanhou vernuwe en terselfdertyd nuwe stemme lok.”

Mariska Oosthuizen, Hoof van Handelsmerk by Sanlam, sê dat die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie, wat hul reeds van sy ontstaan die ontstaan borg, na aan die Sanlam-groep se hart lê.

“Vanjaar se toename in inskrywings wys net hoeveel Suid-Afrikaners van skryf hou en met hul kreatiwiteit gewoeker het tydens hierdie ongekende jaar vol uitdagings. As n groep glo ons daarin om welvaart te skep vir toekomstige generasies en ons sien vele ooreenkomste in die manier hoe skrywers hul teks skep. Hulle beplan versigtig aan hul karakters en storielyn om ‘n suksesvolle eindproduk te lewer. Soos ons met waardevolle finansiële raad en daad ons kliente bystaan, bied hierdie skrywers vir Afrikaanssprekende luisteraars die voordeel van uitmuntende Afrikaanse literatuur en die lekkerte om eg Afrikaanse stories te geniet. Dit spreek beslis ook tot Sanlam as ‘n Pan-Afrikaanse handelsmerk wat almal steun om hul eie kultuur te omarm en te vier.”

Lees ook:

Rekords spat tydens radiodramaskryfkompetisie