As ‘n dokter kanker-pasiënt word


‘n Mens sou dink dat omdat Trusia Burgers ‘n mediese dokter is, sy die diagnose en behandeling van borskanker beter as ander mense sou hanteer, maar sy sê dis partykeer erger om die mediese kennis te hê, want dan diagnoseer jy jouself in die ergste graad. In Borskanker Bewusmaking maand is, gesels ons in Gesondheid op RSG met Dr Trusia Burgers.

’n Diagnose van borskanker (of enige ander kanker) kan ‘n mens soos ’n vuishou in die maag tref. Hoe ervaar ’n dokter dit as sy met borskanker gediagnoseer word, en dan ‘n pasiënt word? Het sy wenke om ander pasiënte te help? Marí Hudson gesels in Borskankermaand met dr. Trusia Burgers van Somerset-Wes oor haar persoonlike stryd teen borskanker. Sy was altyd die een wat mense genees het, maar die dag toe Dr Trusia Burgers hoor sy het borskanker, het sy skielik die pasiënt geword. Hier is haar storie.

 Luister ook volgende Woensdag, 24 Oktober om 11:30 – 11:50, na RSG; onkoloog dr Rika Pienaar vertel van die jongste diagnostiese en behandelingsmetodes, wat baie vroue chemoterapie spaar.

Dr Trusia Burgers en haar gesin: haar man en Mieke (5) en Herman (3).

As voltydse mediese praktisyn, het die 44-jarige Dr Trusia Burgers van Somerset-Wes, ‘n vol en besige lewe gelei. Sy moes haar praktyk van 18 jaar bestuur en na haar man en twee kinders se behoeftes by die huis omsien.

In haar agterkop het sy op ‘n manier altyd verwag dat sy met borskanker gediagnoseer gaan word, vertel Trusia. “My ma het ook borskanker op ‘n jong ouderdom gehad, maar hoewel die skok dalk minder was omdat ek ‘n dokter is, het ek dadelik in ‘n pasiënt verander.”

Trusia vertel dat nie sy of haar ginekoloog die knop in haar bors opgetel het nie. Dit is tydens ‘n roetine ondersoek met ‘n mammogram opgetel. Die volgende dag het sy ‘n chirurg gesien wat deur ‘n naaldbiopsie te doen, die diagnose as stadium 2A borskanker bevestig het. (Lees meer oor die verskillende soorte borskanker: Die DNS van jou borskankerselle kan jou beste behandeling bepaal.)

“My man was in trane en baie meer geskok as ek,” vertel sy. Nietemin het hy, haar vriende van oral oor die wêreld en familie haar onmiddellik begin ondersteun en bemoedig. Haar twee jong kinders, Mieke (5) en Herman (3) was te klein om werklik die erns daarvan te verstaan en was baie bly dat hul ma nou meer by die huis is. My geloof, my man, vriende en familie het my deur alles gedra.”

Trusia het aanvanklik nie die nuus met haar pasiënte gedeel nie.  Sy moes onmiddelik ‘n bilaterale mastektomie en rekonstruksie ondergaan het. (Lees meer oor die nuutste neigings in kosmetiese chirurgie, insluitend borsrekonstruksie ná ‘n mastektomie).  Daarna het sy vir ses maande chemoterapie ondergaan wat haar baie moeg gemaak het. “Mense moes my huishouding oorneem, want ek het nie eens uit die bed opgestaan of my slaapklere uitgetrek nie. Die bestraling was beter, al was dit daagliks.”

Die onvoorspelbaarheid en nagevolge van die behandeling was vir haar die moeilikste om te hanteer. “Dit het gevoel of kanker my lewe oorheers.”

Dr Trusia Burgers by haar man en twee jong kinders, Mieke en Herrman.

‘n Mens sou dink dat omdat Trusia ‘n mediese dokter is, sy hierdie behandeling beter as ander mense sou hanteer, maar sy sê dis partykeer erger om die mediese kennis te hê, want dan diagnoseer jy jouself in die ergste graad. “En op die ou einde is jy ‘n pasiënt soos enige iemand anders. Maar die spesialiste, Drs Naomi du Toit en Rika Pienaar van Cancercare, is my kollegas, so ek kon maklik toegang tot hul kry. Dit het my laat veilig voel.”

“Deur dit alles het ek tyd gehad om stil te word en bietjie introspeksie te doen. ‘n Mens besef watter dinge in die lewe belangrik is en dat jy meer tyd daaraan moet spandeer, soos om rustig tyd met jou kinders te spandeer en tyd te maak vir jouself. Ek het ook ‘n geestelike verdieping gehad wat ek vir niks sal verruil nie. Op die ou einde is jou verhouding met die Here die heel belangrikste en niks kan dit van jou wegneem nie.”

Vandag kan Trusia terugkyk na ‘n moeilike tyd wat verby is. Sy probeer deesdae baie meer tyd aan haarself spandeer, minder rond te jaag en tyd maak om ander mense te help. Haar raad aan ander kanker-pasiënte is: “Moenie te vêr vooruit dink nie en omring jouself met mooi dinge soos blomme,  gaan stap langs die see of in die berge en laat mense toe om jou te help. Moenie net aan jouself dink nie, maar help ander wat deur moeilike tye gaan, dan besef jy daar is altyd baie om voor dankbaar te wees. En die belangrikste is om vas te hou aan die Here om jou elke dag te dra en krag te gee.”

Deur haar stryd het Trusia opnuut beleef hoeveel mense omgee en wat hul alles vir iemand in nood sal doen.

Hier is meer inligting oor borskanker

Die DNS van jou borskankerselle kan jou beste behandeling bepaal.
Die nuutste neigings in kosmetiese chirurgie, insluitend borsrekonstruksie ná ‘n mastektomie.