Twee Pasiënte – Luister weer na die dokumentêr


Elke dag word daar in Suid-Afrikaanse hospitale  – staats en private hospitale – letterlik honderde operasies gedoen. Van groot operasies tot kleiner prosedures: hartoperasies, mangeloperasies, heupvervangings, keisersneë en so meer. As ‘n pasiënt in ‘n hospitaal opgeneem word, kry hy ‘n hospitaalnommer en word hy in ‘n teater met ‘n nommer geopereer.

In hierdie dokumentêr neem Marí Hudson julle verby die nommers tot by twee pasiënte – een ‘n 45-jarige man oorspronklik van Springbok, en die ander ‘n totaal onverwante 50-jarige vrou van Kraaifontein. Hulle is nie familie nie, tog is daar iets wat hulle verbind.

Ontmoet dié twee pasiënte vóór hul operasies en ná hul operasies, en luister hoe die dokter verduidelik presies hoe die operasies gedoen is, en waarom en hoe dit in die teater lyk en wat die dokters doen.

Maandagmiddag kort na middagete is die twee pasiënte in hierdie saal opgeneem.

Maandagmiddag 4 nm: Stoffel Huisamen is in die hospitaal opgeneem en wag net dat die laaste X-strale geneem word ter voorbereiding van die operasie wat die volgende middag op hom gedoen word.

Dinsdag net na 1 nm: Die chirurg (links op foto) is in die teater, die operasieveld is voorberei en die eerste snit gaan gemaak word.

Dr Steyn haal die skenkernier uit die bakkie waar dit sedert dit uit die skenker verwyder is, by 4 grade Celsius gestoor is. Dit gaan in die ontvanger se buik ingeplant word.

Dinsdagmiddag 3 nm: Die skenkernier word in die ontvanger se bekken ingeplant. Dr Steyn is links en dr Amanda Rossouw is regs. Heel agter sit die narkotiseur en heel regs kan die teatersuster gesien word wat die instrumente aangee.

 

Woensdagoggend omstreeks 10:00: Stoffel in die waaksorgeenheid. Sy velkleur is nou rosig en gesond en die nier werk en produseer urine.

Die vrou met die goue hart – Saretha Genis van Kraaifontein. Sy het haar nier aan Stoffel geskenk nadat nie een van sy broers geskikte skenkers was nie en sy vrou, wat haar nier wou skenk, swanger geraak het en toe nie meer haar nier kon skenk nie.