En toe hóór Ethan klanke…


Ethan Goch – die oomblik toe die kogleêre inplanting aangeskakel word, het hy stil geword, en mens kon in sy oë sien hy hoor skielik.

Op 11 Junie het Dr Derrick Wagenfeld twee kogleêre inplantings op die 12 maande oue Ethan Goch van Brackenfell gedoen.

Die inplantings is gister (27 Junie) aangeskakel en RSG was daar. Hy het toe vir die eerste keer klank gehoor soos ek en jy.

Op die video’s kan gesien word hoe die uitdrukking in Ethan se ogies verander die oomblik toe hy klank hoor. Hou sy oë dop die oomblik as die oudioloog se hande wegbeweeg van sy kop. Die tweede video is onmiddellik na die eerste geneem.


En minute later, is hy steeds verwonderd…

Die inplanting word in Ethan se binne-oor gedoen, met ‘n snit deur die skedel agter sy oor. Dis agter beide ore gedoen.

Ethan Goch se mediese fonds het nie betaal vir sy inplantings nie. Beide dr. Wagenfeldt en die narkotiseur het die operasie pro bono gedoen. Die ouers het fondse ingesamel en die Hear Us liefdadigheidsorganisasie het vir Ethan geld beskikbaar gestel sodat hy twee inplantings, een vir elke oor kan kry. Die Hear Us organisasie het fondse vanaf die Nasionale Lotery ontvang vir ‘n inplantingsisteem.

“Dit was absoluut ideaal dat die dubbele kogleêre inplantings gedoen kon word voor Ethan 1 jaar oud word. Hy het nou ‘n uiters goeie kans om soos enige ander horende kind normaal te leer hoor en normaal te leer praat. Dis ongelooflik belangrik dat doofheid of gehoorverlies so vroeg as moontlik by babas op te spoor, sodat onmiddellike behandeling kan begin. Toe ons sien dat gehoorapparate nie vir Ethan voldoende gehoor gegee nie. Met die dubbele kogleêre inplantings het hy ‘n uitstekende kans om soos enige ander kind te ontwikkel, na ‘n hoofstroomskool te gaan en sy potensiaal te verwesenlik,” het sy oudioloog dr. Deidré Stroebel gesê.

Ethan en sy ouers het inderdaad vroeë intervensie ontvang by die CHAT sentrum van die Carel du Toit Sentrum en hy is een van Tygerberg Hospitaal se kogleêre inplantingseenheidpasiënte.

Baie belangrik

Wat baie belangrik is by kogleêre inplantings is,
– vroeë identifikasie van gehoorverlies (voor 7 maande ouderdom),

– die dadelike opvolg met intervensie en gehoorapparate,

– en indien gehoorapparate nie voldoende is vir gesproke taal ontwikkeling nie, kogleêre inplantings.

Ethan en sy ouers, Crizelda en Rudolph Goch, net na dié operasie.

Ethan by sy ouers Rudolp en Crizelda Goch net ná die aanskakeling.

Meer inligting

Die Hear Us organisasie wat gestig is deur ouers van kinders met kogleêre inplantings met die doel om fondse in te samel vir die prosedure. Dit is die fondsinsamelingsarm van ons eenheid. Daar is ‘n webtuiste wat jy kan nagaan www.hearus.org.za.

Indien mense meer inligting verlang, kontak Jenny by Tygerbergse Kogleêre inplantingseenheid by 021 9385086

Beleef ook die eerste klank wat Kate gehoor het: