Die nuutste in borskanker diagnose en behandeling


Het jy geweet daar is vier hoofgroepe borskanker, en dat elke soort borskanker se DNS verskil van jou eie DNS? Kankerspesialiste gebruik nou dié inligting om die beste behandeling vir elke kankerpasiënt uit te werk. Marí Hudson gesels in Borskankermaand met dr. Rika Pienaar, ‘n onkoloog, oor die jongste metodes om borskanker te diagnoseer en te behandel.

Dr Pienaar verduidelik watter toetse verder gedoen word nadat die fynnaald biopsie positief was vir kanker. Sy verduidelik ook wat ‘n kankerspesialis uit die volgende toetse wys kan word en hoe die DNS van die borskankerselle die behandeling kan bepaal. Ons kyk ook na die insidensie, waarom dit hoog is onder sekere rasse (dis baie laer in swart vroue) en waarom borskanker aan die toeneem is.

 

Vir agtergrond, kyk na dié inligting van ‘n vorige onderhoud oor borskankerbehandeling

Het jy geweet die DNS van borskankerselle kan nou bepaal word en dat dié DNS onder meer aandui of die kankerselle in staat is om te versprei of nie. Dié inligting kan nou gebruik word om die presiese behandeling van elke individu se borskanker te bepaal. Só kan 50% van pasiënte onnodige chemoterapie gespaar word. Hoe werk dit? En watter toets kan jou, die pasiënt die beste help?

Ná nuwe studies, is dit noodsaaklik dat die korrekte inligting aan pasiënte oorgedra word. Want daar is twee toetse beskikbaar, en die tweede, nuwer een gee meer DNS inligting en kan dokters help om die regte behandeling vir elke individu te kies, tog is sommige onkoloë nog nie op hoogte van sake nie, en word pasiënte steeds daagliks meer doeltreffende behandeling ontsê of ondergaan steeds nog onnodiglik chemoterapie, met al die newe-effekte van dié ingrypende behandeling, sonder dat dit voordele inhou.

Aanbieder is Marí Hudson gesels met dr. Ettienne Myburgh, kankerchirurg en leier van ‘n borskankerbehandelingspan by Mediclinic Panorama, oor die nuutste inligting wat borskankerpasiënte kan help. Luister hier na die program van 11 November 2016.

woman-breast-arm-exam-400x400Hier is enkele belangrike aspekte:
1. Ons gesels hier oor die DNS en gene in die kankerselle van borskanker.
Ons praat nie hier van borskankergene BRCA1 en BRCA2 soos wat Angelina Jolie dra, en haar risiko vir borskanker só hoog maak dat ‘n totale mastektomie ‘n goeie opsie is.

2. Die gene binne-in jou borskankerselle is anders as die gene in die normale selle in jou liggaam.
Sekere gene kan aangeskakel wees wat die gedrag van kankerselle verander sodat hulle vinniger verdeel. ‘n Normale borssel sal deur teenliggame in jou bloedstroom vernietig word sodra dit in die bloedstroom beland. Maar sekere borskankers word nie deur die teenliggame in jou bloedstroom herken as ‘vreemd’ nie, omdat die gene wat die herkenning moontlik maak, afgeskakel word, en ander gene wat afgeskakel moet wees, is weer aangeskakel, tot jou liggaam se nadeel. Sowat 50% van borskankers het nie die vermoë om te versprei nie. Dié wat wel kan versprei, kan jare lank dormant in dele van liggaam soos die koppe van lang skeletbene te gaan lê, net om sowat 5 – 10 jaar later wakker te word en na die kliere, skeletbene, longe of lewer te versprei. Maar die DNS toetse op die borskankerselle kan juis aandui watter selle die vermoë het om te versprei sodat die regte behandeling gekies kan word.

3. Daar is 4 soorte borskankers volgens hul genetiese of molekulêre gedrag, want dokters kyk nie meer soseer hoe die kanker van buite lyk nie of hoe groot die knop is nie, en of die kanker in ‘n melkbuis is nie – maar wel hoe sy DNS en dus sy programmering lyk. Sowat 50% van borskankerselle het nie die vermoë het om te versprei nie.
– Luminale A borskanker: sowat 37 – 38 verskillende mutasies en word hoofsaaklik gedryf deur estrogeen. Deur estrogeen te blokkeer met middels soos Tamoxifen en aromatase inhibitore, kan die kanker goed in bedwang gehou word. Sowat 66% van estrogeensenstiewe kankers is Luminale A borskanker. Luminale A kankerpasiënte kan dus bloot ‘n pilletjie sluk sonder chemoterapie en het ‘n goeie oorlewingsyfer.
– Luminale B borskanker: word ook gedryf deur estrogeen, maar ook deur ander faktore. Die behandeling met estrogeenblokkers soos Tamoxifen moet dus aangevul word met spesifieke chemoterapie wat 25% addisionele voordeeel
– Basale tipe borskanker – die kanker is weerstandig teen estrogeenblokkers, en die enigste behandeling is chemoterapie. Hulle is gelukkig ook meer gevoelig vir chemoterapie as die ander kankersoorte.
– Her2Neu-verrykte borskanker: dié soort borskanker word gedryf deur die Her2Neu-geen, en ‘n groep pasiënte (wat ook met die DNA toets geïdentifiseer word) reageer baie goed op die behandeling met Herceptin. Dié middels is baie duur, maar baie effektief vir die regte pasiënte. Dis nie effektief in die behandeling van enige van die ander drie groepe pasiënte nie. Dié pasiënte reageer

4. Elkeen van dié vier soorte het verskillende meganismes wat hulle dryf, en geteikende behandeling om dié meganismes te neutraliseer, word vir elk van die vier groepe ontwerp en toegepas.
Vir drie van die vier groepe is geteikende behandeling beskikbaar, terwyl een groep wel baat kan vind by chemoterapie. Chemoterapie word dus tans onnodiglik aan byna 50% van borskankerpasiënte gegee; dit lei in só baie pasiënte nie tot beter oorlewingsyfers nie.

5. As jy pas met borskanker gediagnoseer is, sal jou behandelingspan bestaande uit ‘n kankerchirurg, ‘n onkoloog en ‘n radioterapeut verskillende toetse doen om te bepaal watter soort borskanker jy het, en hoe ver dit gevorder of versprei het.
Op grond van dié inligting, sal die chirurg die knop chirurgies verwyder indien dit nog nie versprei het nie. ‘n Borsrekonstruksie word in die meeste gevalle onmiddellik ná die knopverwydering gedoen – die kankerchirurg tree letterlik terug in die teater en ‘n span plastiese chirurge neem oor. Die resultate wat vandag moontlik is, is baie beter as selfs 10 jaar gelede. In soveel gevalle as die moontlik, word die tepel gespaar. Maar die resultaat en uitkoms hang BAIE af van die span chirurge – of die kankerchirurg die volle knop verwyder het, hoe die snitte gemaak word en hoe goed die plastiese chirurg is. Kies dus te alle tye die beste chirurge.
Die meeste pasiënte ontvang bestraling, wat deur die radioterapeut (‘n mediese spesialis wat in bestralingsbehandeling gespesialiseer het) gereël word.
Die chemoterapie of geteikende behandeling word bepaal deur die DNA van die kankerselle en hoe vroeg die kanker opgespoor is. Voorheen is chemoterapie vir alle borskankerpasiënte gegee, maar nou het dit duidelik geword dat net 50% van pasiënte daarby baat. Vir die ander 50% van pasiënte is ander, geteikende behandeling beter. As mens vir alle pasiënte chemoterapie gee, sal kans op sterfte met sowat 15% verminder, en 15% sal sterf ondanks die chemoterapie.

6. Daar is tans twee toetse wat ingespan word om borskanker-behandeling te bepaal, en een is beslis meer omvattend as die ander.
– Die toets wat eerste beskikbaar was, is die Oncotype toets, wat vir 21 gene toets en dan kan bepaal of jy ‘n relatiewe hoë of lae risiko het, maar ongeveer 50% van pasiënte val ongelukkig in die intermediêre risikogroep wat nie gevalideer is nie. Dié toets is deur Amerikaanse vervaadigers ontwikkel, is nie deur die FDA goedgekeur nie, en kos net meer as R30 000.
– Die ander toets is die Mammaprint/Blueprint toets wat twee toetse in een is. Die Mammaprint-toets bepaal die risiko vir verspreiding van die borskankerselle deur 70 gene se aktiwiteit te evalueer, terwyl die Blueprint-toets, wat terselfdertyd gedoen word, die molekulêre struktuur van die borskanker bepaal op grond van 80 gene, en só kan aandui watter behandeling die beste vir die spesifieke pasiënt sal wees. Dié dubbele toets is deur Amsterdamse mediese navorsers ontwikkel, deur die FDA goedgekeur en kos saam net minder as R30 000.

Volgens ‘n groot studie bekend as die MINDACT studie, het die dubbele Mammaprint/Blueprint toets groot voordele vir die pasiënt wat nie gevorderde borskanker het nie wat betref uitkomste en die uitskakeling van onnodige chemoterapie omdat dié toets kan aandui watter pasiënte werklik gaan baat by chemoterapie.

7. Dit is onbekend waarom ‘n groot mediese fonds soos Discovery Health steeds die Oncotype toets aanvaar, terwyl studies onteenseglik toon dat die Mammaprint/Blueprint toets werklik baie pasiënte kan help en geld kan spaar vir pasiënt en mediese fondse en ook die staat. Dit het uit navrae aan die lig gekom dat spesialis-onkoloë (kankerbehandelingspesialiste) wat Discovery adviseer – tot nadeel van die gesondheid van baie pasiënte – nie op hoogte is van die jongste studie-bevindings nie, of dit ignoreer.
Die rede is nie duidelik nie, maar daar duik nou vrae op uit die geledere van medici wat nie finansieel baat vind by chemoterapie nie, van pasiënte en van ander mediese fondse:  Verswyg of verdraai spesialis-onkoloë betrokke by chemoterapie dalk die bevindings van die MINDACT studie omdat dit chemoterapie vir borskankerpasiënte met 47% kan verminder en dat só `n vermindering dan spesialis-onkologie praktyke finansieel kan benadeel? RSG en Healt24 het begin met navrae om vas te stel of groeperings raadgewende spesialis-onkoloë besorg is dat hulle finansieel benadeel kan word deur minder chemoterapie-sessies, soos wat kan gebeur indien mediese fondse die bevindings van die MINDACT studie implementeer en die Mammaprint/Blueprint toetse vir toepaslike borskankerpasiënte befonds.

Luister ook:
Ons reeks oor Borskanker het baie reaksie uitgelok. Luister na deel 1, deel 2 en deel 3 oor die A-Z van Borskanker. Die opsproring, diagnosering en behandeling word in die reeks bespreek.

Verstaan beter met die illustrasies:

 

Die anatomie van die bors

Die anatomie van die bors

Die limfnodes om die bors. As minder as drie nodes aangetas is, word die kanker nog in vroeë stadium beskou.

Die limfnodes om die bors. As minder as drie nodes aangetas is, word die kanker nog in vroeë stadium beskou.

In al meer gevalle word tepelbehoudende chirurgie ingespan wanneer ‘n knop verwyder word. Die resultate is medies en esteties goed.

In al meer gevalle word tepelbehoudende chirurgie ingespan wanneer ‘n knop verwyder word. Die resultate is medies en esteties goed.