Waarom bloei jy nie leeg as jy jou vinger sny nie?


Hoe werk bloedstolling sodat jy nie leegbloei as jy jou vinger sny nie? Hoeveel bloed kan mens verloor en steeds oorleef? Waarom het jy yster in jou bloed nodig? Wat het jou beenmurg, lewer, niere en longe met bloedvorming, – stolling en –regulering te doen?

Aanbieder Marí Hudson gesels met ‘n mediese fisioloog om antwoorde op dié vrae te vind.

Waar kom bloedselle vandaan?
In die beenmurg is ongespesialiseerde stamselle wat, afhangend van die aktiveringstof, kan ontwikkel in of n rooibloedsel, ‘n witbloedsel of ‘n bloedplaatjie.
Eritropoietien wat in die niere gemaak word, is nodig om rooibloedsel-vorming te stimuleer.
Trombopoeitien is nodig om bloedplaatjies te produseer – basies stukkies wat afbreek uit die moederstamsel naamlik megakariosiete.

Sowat 7% van jou liggaam bestaan uit bloed. Dit is gemiddeld sowat 5 liter bloed, waarvan 3 liter (60%) die vloeibare bloedplasma is en die res rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies.

Jy kan tot 40% van jou bloedvolume verloor, dus sowat 2 liter en steeds oorleef, maar as jy meer verloor, is die kans op oorlewing klein.

Jou bloed bestaan uit rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies wat in die vloeibare bloedplasma ronddryf.

Jou rooibloedselle
– is hol in die middel en lyk amper soos ‘n trekkerbinneband
– vervoer suurstof na die selle
– is buigbaar en kan in die kleinste bloedvaatjies invloei
– het nie meer selkerne teen die tyd wat dit uit die beenmurg in die bloedstroom vrygestel word nie
– dit leef sowat 120 dae in die bloedstroom en die hemoglobien (‘n ysterbevattende proteïn) word dan in die lewer afgebreek tot billirubien. As die lewer nie goed werk nie, en die billirubien hoop op, word mens geel en kry jy geelsug.
– dit vervoer hormone en stowwe
– dit speel ‘n rol in regulering van die liggaam se temperatuur
– dit reguleer die liggaam se pH

Die video verduidelik hoe rooibloedselle suurstof vervoer:

Kyk na die prettig animasie video wat wys hoe ‘n suurstof molekule deur die bloed na die longe beweeg.

Hoe werk bloedstolling?
Daar is verskeie komponente in jou bloedstroom wat gereed is om op te tree as ‘n bloedvat skeur om te  verseker dat jou bloed stol. Dit is bloedplaatjies, stollingsfaktore (wat proteïne is), fibrinogeen (ook ‘n proteïn), rooibloedselle,  As jy jou vinger per ongeluk met ‘n mes sny, gee die liggaam onmiddellik boodskappe om te keer dat al jou bloed by daardie opening uitvloei en die een boodskap lei tot die volgende soos ‘n kaskade van gebeurtenisse:
1. Die skeur in die bloedvat skei kollageen en ander stowwe af wat die bloedvate enersyds laat vernou sodat minder bloed na die beseerde deel vloei, en wat bloedplaatjies wat in die bloedstroom ronddryf na die skeur lok.
2. Die bloedplaatjies wat in die bloed ronddryf word skielik stekelrig en klewerig en koek saam om die skeurtjie in die bloedvat toe te stop. Hulle vorm letterlik ‘n gommerige prop om die gat toe te plak. Die proteïn-gom wat nodig is om die bloedplaatjies klewerig te maak en aan mekaar en die beseerde deel te laat heg, word Von Willenbrandt faktor genoem. As iemand ‘n tekort aan dié faktor het, sal die eerste stap nie kan plaasvind nie, en sal jou bloedstollingproses nie kan voortgaan nie.
3. Die bloedplaatjieprop is nie sterk genoeg om op sy eie die gat toe te hou nie, en het versterkings nodig. Die versterkings kom in die vorm van stollingsfaktore wat ook aan die klewerige bloedplaatjieprop heg. Die stollingsfaktore word een na die ander aktiveer – sodra een aktief is, gee hy ‘n sein vir die volgende om aktief word en so word almal aktief.
4. As al die stollingsfaktore geaktiveer is, skakel die laaste geaktiveerde een die vorming van ‘n netwerk deur en bo-oor die bloedplaatjies te vorm, byna soos ‘n spinnerak of traliewerk wat die bloedplaatjieprop deurvleg om die prop te versterk en bymekaar te hou. Die netwerk is fibrien.
5. Die rooibloedselle heg ook aan die fibriennetwerk en vorm so ‘n sterk prop, wat ‘n trombus genoem word.
6. Stowwe word nou afgeskei om die beskadigde weefsel te herstel, soos die binnelagie, die spierlagie en die buitelagie van die bloed, die spier waardeur die mes gesny het, en die vel.
7. Sodra dié weefselherstel plaasgevind het, is die fibrienprop nie meer nodig nie, en los die liggaam dit op.

Die video verduidelik hoe bloed stol.

Die video verduidelik stolling in meer besonderhede.

Die video verduidelik hoe bloedstolling verband hou met siekteprobleme soos aterosklerose (hartaanvalle en beroerte) en diep-veen-trombose in die been, wat weer tot ‘n bloedstolsel in die long kan lei.

Die video verduidelik meer oor die stollingsfaktore en waarom die nuwer antistolmiddels meer gerig is op Faktor Xa (Xarelto) of protrombien (Pradaxa) as op Vit K (Warfarin).