Kogleêre inplantings al meer op babas gedoen


Ons hoor gereeld van kogleêre inplantings, maar presies hoe werk dit en hoe goed kan iemand met ‘n bioniese oor hoor?

Marí Hudson gesels met Dr Derrick Wagenfeld, oor-, neus- en keelspesialis van Somerset-Wes, en Lida Muller, oudioloog by die Tygerberg Hospitaal.

Hier is enkele interessante feite:

– ‘n Mens hoor met jou brein, nie met jou ore nie. Die brein ontvang die klanke via die gehoorsenuwee in die cochlea (slakkehuis) in die binne-oor, en verwerk dan die klank sinvol.
– As die gehoorsenuwee nie gestimuleer word nie, ontwikkel die gehoor-deel van die brein nie.
– Jy kan slegs normaal leer praat as jy normaal hoor.
– Met kogleêre inplantings, word ‘n elektrode in die koglea geplaas wat die gehoorsenuwee regstreeks stimuleer.
– Die brein van mense met kogleêre inplantings verwerk die klank sodat dit sinvol is en hulle goed genoeg kan hoor om taal te verstaan, normaal te leer praat, hoofstroomskole kan bywoon en die lewe van ‘n horende persoon kan lei.
– Kogleêre inplantings word al vroeër gedoen, en deesdae is die inplanting op babas van 6 maande ouderdom alledaags.
– As kinders nie voor ouderdom 2 tot 3 jaar normaal leer hoor nie, is die kans klein dat hulle taal kan aanleer. Dit is belangrik dat doofheid voor 7 maande ouderdom opgespoor word. Dit kan met ‘n eenvoudige toets met geboorte gedoen word, maar dit word nie met alle geboortes gedoen nie.
– Die meeste kinders wat in Wes-Kaap kogleêre inplantings kry, is die kinders wat ondanks goeie gehoor-apparate en intensiewe opleiding van ouers by die Carel du Toit Sentrum, nog nie goed geneog kan hoor om te leer praat nie.
– Intensiewe spraak-terapie in samewerking met die ouers, oudioloë en spraakterapeute is ‘n belangrike deel van die kogleêre inplantingsprogram. Die program kan sonder dié komponente nie slaag nie.
– Kogleêre inplantings kan ook op ouer mense gedoen word weens ouderdom aan gehoorverlies. Die haarselle in die koglea wat die senuwee-impulse aan die gehoorsenuwee oordra, is van die eerste selle in die liggaam wat begin degenereer.
– Met ‘n kogleêre inplanting kan mens nie hoor omdat die gehoorgolwe van die buite-oor, deur die trommelvlies na die hamer, aambeeld en stiebeuel in die middel-oor meganies gelei word tot die beweging van die haarselle in die koglea nie, maar wel omdat die gehoorsenuwee in die koglea regstreeks gestimuleer word.

Ons gaan binnekort die aanskakeling van die kogleêre inplanting op ‘n seuntjie bywoon, en sal dan weer gesels oor kogleêre inplantings.