Kaapse span doen 2e suksesvolle penisoorplanting


ʼn Span van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tygerberg Akademiese Hospitaal het onlangs ʼn tweede penisoorplanting gedoen. Dit is die eerste keer ter wêreld dat ʼn mediese sentrum hierdie prosedure twee keer suksesvol uitvoer.

Prof André van der Merwe, Hoof van die Afdeling Urologie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het die marathon-operasie van nege en ʼn half uur gelei wat op 21 April by die Tygerberg Hospitaal in Kaapstad, Suid-Afrika uitgevoer is. Die ontvanger was ʼn 40-jarige man wat sy penis 17 jaar gelede weens komplikasies met ʼn tradisionele besnydenis verloor het. Sy identiteit word weens etiese redes beskerm.

“Hy is beslis een van die gelukkigste pasiënte wat ons al in ons afdeling gesien het. Hy vaar merkwaardig goed. Daar is geen tekens van verwerping nie en dit lyk of al die herverbinde strukture goed werk,” sê Van der Merwe. Die pasiënt gaan na verwagting binne ses maande ná die oorplanting alle urinêre en reproduktiewe funkies van die orgaan herwin. ʼn Kleurverskil tussen die ontvanger en die skenkerorgaan sal ses tot agt maande ná die operasie met mediese tatoeëring reggestel word.

“Die sukses van hierdie prosedure in die hande van ons oorplantingspan getuig van die hoë vlak van vaardigheid en kundigheid wat in Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor bestaan,” sê prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW. “Die span se vermoë om ʼn balans te handhaaf tussen deernisvolle en etiese pasiëntsorg aan die een kant, en die doeltreffende aanwending van skaars hulpbronne aan die ander, is ook rede vir groot trots.”

“Hierdie is ‘n merkwaardige baanbrekersprosedure. Ek wil graag die Tygerberg Hospitaal en die US-chirurge vir hul uitmuntende werk bedank. Tradisionele besnyding het talle jong Suid-Afrikaanse lewens geëis. Hierdie pasiënt se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie,” het dr Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, gesê.

“Pasiënte beskryf ʼn penisoorplanting ‘soos om ʼn nuwe lewe te kry’. Vir hierdie mans definieer hul penis hul manlikheid en die verlies aan hierdie orgaan veroorsaak geweldige emosionele en sielkundige ellende,” sê dr Amir Zarrabi van die Afdeling Urologie, ʼn lid van die oorplantingspan. “Ek sien gewoonlik gevalle van gedeeltelike of totale amputasie in Julie en Desember – die tydperke wanneer tradisionele besnydings uitgevoer word.”

“Ons is verheug vir die pasiënt se onthalwe, asook oor die verandering wat dit in sy lewe teweeg bring,” sê dr Alexander Zühlke, Hoof van die FGGW se Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie. “Dit is ook ʼn groot prestasie om deel van ʼn span te wees wat twee suksesvolle penisoorplantings gedoen het.”

Die span het bestaan uit Van der Merwe, Zühlke, Prof Rafique Moosa, Hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde, Zarrabi en dr Zamira Keyser van die Tygerberg Hospitaal. Hulle is bygestaan deur oorplantingskoördineerders, narkotiseurs, teaterverpleegkundiges, ʼn sielkundige, ʼn etikus en ander ondersteuningspersoneel.

Van der Merwe en sy span het in Desember 2014 die eerste suksesvolle penisoorplanting ter wêreld uitgevoer en langer as twee jaar later “vaar die pasiënt geestelik én liggaamlik uitstekend”, sê Van der Merwe. “Hy leef ʼn normale lewe. Sy urinêre en seksuele funksies is weer normaal en hy het bykans vergeet hy het ʼn oorplanting gehad.”

Penisverminking kom meer algemeen in Suid-Afrika as elders voor weens komplikasies van rituele besnydings wat as deel van tradisionele deurgangsrites in sommige kulture op jong mans uitgevoer word. Daar is geen formele rekord van die jaarlikse getal penisamputasies weens tradisionele besnydings nie, maar een studie noem ʼn syfer van 55 net in die Oos-Kaap. Kundiges skat tot 250 gedeeltelike en algehele amputasies vind elke jaar landwyd plaas. Selfmoorde weens hierdie prosedure word ook aangeteken.

“Die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal is daartoe verbind om kostedoeltreffende metodes te vind om hierdie mans te help,” sê Van der Merwe. Die prosedure het deel uitgemaak van ʼn konsep-proefstudie om ʼn kostedoeltreffende penisoorplantingsprosedure te ontwikkel wat in ʼn tipiese teateromgewing in ʼn openbare Suid-Afrikaanse hospitaal uitgevoer kan word. Danksy lesse wat uit die eerste oorplanting geleer is, kon Van der Merwe en sy span die koste van die tweede prosedure aansienlik sny.

Die grootste uitdaging vir hierdie studie is orgaanskenking. “Ek dink die gebrek aan penisoorplantings sedert ons die eerste een in 2014 uitgevoer het, is grootliks die gevolg van ʼn tekort aan skenkers. Dit is dalk makliker om ʼn orgaan te skenk wat mens nie kan sien nie, soos ʼn nier, as iets soos ʼn hand of ʼn penis,” sê Van der Merwe.

“Ons is uiters dankbaar jeens die skenker se familie wat nie net die penis geskenk het nie, maar ook die niere, vel en korneas van hul geliefde seun. Hulle verander die lewe van talle pasiënte danksy hierdie skenking.”

Die eerste suksesvolle penisoorplanting ter wêreld is op 11 Desember 2014 deur Van der Merwe en sy span by die Tygerberg Hospitaal in Kaapstad uitgevoer.

Die tweede een is ʼn jaar en ʼn half later, op 16 Mei 2016, by die Massachusetts Algemene Hospitaal in Boston gedoen.

Vlnr: Dr Amir Zarrabi (uroloog), sr Betha Bailey (oorplantingskoördineerder), dr Nicola Barsdorf (Hoof: navorsingsetiek), Prof André van der Merwe (hoof: Urologie en spanleier), dr Zamira Keyser (oorplantings- en traumachirurg), dr Alexander Zühlke (plastiese en mikrochirurg), Prof. Rafique Moosa (Hoof: Interne geneeskunde en betrokke by immunoterapie), dr. Johan Nel (nefroloog).

Tegniese besonderhede van die oorplanting
Die hele penis is versigtig van die skenker gedissekteer om die bloedvate, senuwees en ander verbindingstrukture ongeskonde te hou. Hulle is gemerk en tydens die oorplanting met die ontvanger se ooreenstemmende weefsel verbind.

Dit is ʼn komplekse prosedure bekend as ʼn saamgestelde weefseloorplanting, waartydens verskillende soorte weefsel (senuwees, bloedvate, spiere, ens.) van die ontvanger- en die skenkerorgaan kruisverbind word.

Die chirurge het drie bloedvate (van tussen 1 en 2 mm in omtrek) verbind om voldoende bloedtoevoer na die oorgeplante orgaan te verseker; twee dorsale senuwees (ook tussen 1 en 2 mm in omtrek) om gevoel te herstel; die uretra, wat die pasiënt in staat stel om deur die penis te urineer; asook die corpus cavernosum (die hoofdeel van die penis), wat die pasiënt in staat sal stel om ʼn ereksie te kry.

“Die diverse aard van die bloedvate en senuwees maak die operasie baie uitdagend en beteken elke geval is uniek. Al hierdie strukture moet met die grootste delikaatheid en respek hanteer word om perfek verbind te word en sodoende goeie sirkulasie en funksionering op lang termyn te verseker,” sê Zühlke.

Mikrochirurgie is gebruik om die klein bloedvate en senuwees te verbind. Die pasiënt het sedertdien vir ʼn klein prosedure teruggekom, sodat ʼn klein stukkie dooie weefsel aan die kante van die vel verwyder kon word.

Immuunonderdrukking
Die liggaam verwerp van nature enige vreemde voorwerp wat daarin geplaas of daaraan vasgeheg word deur ʼn proses bekend as immuunreaksie. Gedurende ʼn oorplanting moet hierdie immuunreaksie onderdruk word om te verhinder dat die liggaam die oorgeplante orgaan verwerp. ʼn Immuunreaksie kan net vermy word in gevalle waar die pasiënt se eie weefsel, of dié van ʼn identiese tweeling, gebruik word.

“Oorplantings waarby verskeie tipes weefsel betrokke is (spiere, senuwees, bloedvate, ens.) verg sterker immuunonderdrukkingsbehandeling as oorplantings van organe waarby minder selle betrokke is, soos niere,” verduidelik Moosa.

Die immuunonderdrukkingsmedikasie wat tydens ʼn penisoorplanting gebruik word, is in staatsfasiliteite beskikbaar en word gewoonlik ná nieroorplantings gebruik. Dit word nie normaalweg as ʼn eerstevlak-behandeling gebruik nie.

Al word die dosis verklein soos die tyd aanstap, moet oorplantingspasiënte vir die res van hul lewe immuunonderdukkers gebruik – selfs al het hulle ten volle herstel.

 Etiese oorwegings
Die US se Gesondheidsnavorsing-etiekkomitee (GNEK) het in 2011 toestemming vir die studie verleen en die oorplantingspan het etici en die GNEK dwarsdeur die ontwerp en deurvoer van die studie ten nouste geraadpleeg.

Volgens dr Nicola Barsdorf, Hoof van Gesondheidsnavorsingetiek aan die FGGW, het die navorsingspan die etiese kwessie van terapeutiese miskonsepsie (die risiko dat ʼn deelnemer aan navorsing nie ten volle begryp dat die behandeling bloot eksperimenteel van aard is nie) voldoende aangepak.

“Die pasiënt het oor ʼn lang tydperk herhaaldelik berading oor die potensiële voordele en risiko’s van die prosedure ontvang. Hy het volkome begryp dat die oorplanting eksperimenteel van aard was en het sy ingeligte toestemming ná veelvuldige, omvattende besprekings oor die vrywillige aard van sy deelname verskaf,” verduidelik Barsdorf.

Volgens Barsdorf het omsigtige oorweging gedurende die beplanningsfase van die studie hulle in staat gestel om moontlike slaggate te voorsien, waaronder:

  • Terapeutiese wanvoorstelling, wat verwys na ʼn deelnemer se gebrekkige begrip van die verskil tussen navorsing en behandeling. Dit kan insluit dat die kliniese voordeel van ʼn eksperimentele intervensie oorskat word, asook dat die moontlike risiko van skade onderskat word. Die navorsingspan het ʼn strawwe, ingeligte instemmingsproses in werking gestel om die risiko van terapeutiese wanvoorstelling te minimaliseer. Die ontvanger het twee jaar lank berading ontvang om sy begrip van die risiko’s te assesseer en werklik ingeligte en vrywillige instemming tot die eksperimentele prosedure te bevorder.
  • Die etikus se insette het stappe vir die tempering van risiko uitgestippel wat betref die emosionele, sosiale, sielkundige (en liggaamlike) risiko’s wat deelnemers kan ervaar. Die ontvanger is op grond van hierdie insette gekies. ʼn Paar deelnemers was wetenskaplik gesproke geskik, maar hul risiko vir liggaamlike en sielkundige skade was aansienlik hoër.

 

Sielkundige aspekte
Alle pasiënte wat vir die studie oorweeg word, moet uitgebreide sielkundige evaluering ondergaan om vas te stel of hulle geestelik gesond genoeg is om ʼn oorplanting te ontvang. Orgaanoorplanting kan ʼn nadelige sielkundige uitwerking hê as die pasiënt nie met die orgaan kan assosieer nie.

Mediese tatoeëring
Tegnologiese vooruitgang het meegebring dat die eeue oue gebruik van tatoeëring vir mediese gebruik uitgebrei is. Mikro-dermale pigmentasie word tans gebruik om die voorkoms te verbeter van individue met medies-verwante onvolmaakthede.

Die bekendste toepassing hiervan is waarskynlik tepel- en areolarekonstruksie ná ʼn mastektomie. Dit help vroue baie om hul selfvertroue te herwin en hul selfbeeld te verbeter.

Rekonstruktiewe kamoeflering deur mediese tatoeëring kan ook help om littekens weens ongelukke, brandwonde en chirurgie te kamoefleer. Dit word voorts gebruik om vitiligo (kolle wit vel) te kamoefleer deur vleeskleurige pigmente te gebruik, of om die skyn van hare te help skep nadat pasiënte hul hare weens siektes (kanker of alopesie) of trauma verloor het.

Volgens Zühlke kan mediese tatoeëring ook in die geval van penisoorplantings gebruik word as daar ʼn kleurverskil tussen die skenker en die ontvanger is.

Dit moet uitgevoer word deur ʼn tatoeëerkunstenaar wat in mediese tatoeëring gespesialiseer het. Hy sê ofskoon daar geen ervaring met so ʼn prosedure is nie, aangesien die huidige oorplanting slegs die derde ter wêreld is en tatoeëring nie in die vorige twee gevalle nodig was nie, sou dit tipies ses maande en langer ná die operasie uitgevoer word en sal meer as een sessie waarskynlik nodig wees.

Ander penisvervangingsopsies
Huidige chirurgiese opsies vir pasiënte sluit penisrekonstruksie in, waartydens ʼn flap vel- en sagteweefsel van die arm gebruik word om ʼn penis te herkonstrueer en aan die liggaam vas te heg. ʼn Prostese kan ook ingeplant word om seksuele omgang moontlik te maak, maar dit is duur en komplikasies kan ontstaan.

Besoek www.sun.ac.za vir meer inligting, video, fotos en grafika

www.sun.ac.za/health

www.facebook.com/SUhealthsci

@Suhealthsci #transplantSU