Reg vir aksie?


Die Doen Dit Net (DDN) aksieplan is ‘n plan om jou te help om jou ideale gewig te bereik, meer aktief te word en om jou kop in rat te kry. Kort-om; dis jou plan tot groter selfdissipline, maar ook groter selftevredenheid, want hoe verder jy op die pad vorder, hoe makliker word dit en hoe meer genot sal jy put uit jou sterker liggaam en helderder brein.

Teken hier in op die RSG Gesond nuusbrief.

Die aksieplan begin op 14 Augustus en duur tot die 30 November. In dié tydperk van 16 weke, kan jy met gemak 8 kg afskud, en baie fikser word. Jy kan jou uitkyk op die lewe verander.

Die aksieplan is bedoel vir almal wat oorgewig en onfiks is, en wie se middellyfmate meer as 80 cm is vir vroue en meer as 94 cm vir mans. Daar sal ook raad wees vir mense wat gewig wil optel en vir kinders en tieners en mense in rolstoele.

Hier is jou doenlysie voordat jy nog die eerste oefentree gee of ‘n nuwe eetplan-happie aanpak:

  • Hou op met dink, doen net. Hou op om te wonder of te tob of te dink of jy lus het vir die aksieplan of nie. As jou  middellyfmaat meer as 80 cm is vir vroue en meer as 94 cm vir mans, is dit jou kans om ‘n plan in werking te stel.
  • Teken in op die Gesondheids e-nuusbrief. Die weeklikse nuusbrief sal die week se aksieplan, weeklikse eetplan, inligting en raad bevat wat jou sal help. Teken hier in op die RSG Gesond nuusbrief.
  • Meet jou middellyfmaat, en vul dit met die intekening van die gesondheids e-nuusbrief in die gepaste blokkie in.
  • Kyk vir oulaas goed na jouself in die spieel. Na jou bultjies en rolletjies. Neem ‘n foto van jou as jy wil.  Jy gaan nooit weer so lyk nie.
  • Maak ‘n afspraak met jouself in jou dagboek. Jy gaan vier keer per week oefen, en moet aanvanklik 20 tot 30 minute daarvoor eenkant sit, later effe langer. Kyk na jou dagboek en besluit watter vier dae jy gaan oefen en watter tyd van die dag jou die beste gaan pas. Gaan dit Maandae, Dinsdae, Donderdae en Saterdae wees? Gaan dit soggens vóór werk wees, of saans ná werk? Of oor jou middag-etensuur? Of as jy nie werk nie, kies ‘n tyd wanneer dit jou dag die minste gaan ontwrig, maar nie te koud of te warm is nie, byvoorbeeld in die middel van die dag. Dis die heel belangrikste afspraak – die een met jouself – en mag nie verskuif of gekanselleer word nie.
  • Besluit watter soort oefening jy wil doen. Kies iets wat jy gaan geniet, en doen dit saam met vriende/vriendinne. Jy kan dans, Pilates klassie doen, of joga, of stap, of draf, of swem, of fietsry of by ‘n gim aansluit. Gebruik die volgende twee weke om jou huiswerk te doen, vas te stel watter oefening jy verkies, of jy geld daarop wil uitgee, saam met wie jy dit wil doen en wat beskikbaar is. As jy byvoorbeeld wil stap, kan jy saam met vriende/vriendinne ‘n groep vorm wat vier keer per week gaan stap in jou buurt, of die naaste park of sportterrein of jy/julle kan by Run/Walk for Life aansluit. As jy wil fietsry, vind uit van die naaste fietsrygroep of -klub in jou omgewing. Jou naaste fietswinkel of gim sal kan help. Of sluit aan by ‘n dansklub, tennisklub, muurbalklub, net wat vir jou lekker sal wees.
  • Doen dit saam met vriende. As jy dit nie saam met vriende kan doen nie, sluit aan by ‘n stap- of fietsry groep of dansklas of oefenklas.
  • Maak seker jy het oefenklere. Haal jou sweetpak en ‘n los T-hemp uit die kas, of enige oefenklere wat gemaklik sit. Kry jou tekkies of stap/drafskoene gereed. Dis nie nodig om dadelik nuwe klere en skoene te koop nie, maar as jy wil/kan, sorg dat jou nuwe stap- of drafskoene een nommer groter is as jou gewone skoene. As jy nie ‘n oefenbroek het wat tot by jou knieë lekker styf sit om skaafmerke te keer nie, kan jy gerus een aanskaf – en vergeet daarvan om in ‘n ou rugbybroekie te draf, want jy sal jou bobene stukkend skaaf. ‘n Ligte oefehemp van sintetiese materiaal wat gou droog word, is ook ‘n plus. Vroue sal ook nooit geldmors om in ‘n goeie oefenbra te belê nie.
  • Besoek jou dokter. As jy ouer as 60 is en baie oorgewig en onfiks is, besoek jou dokter om net doodseker te maak jou hart sal die beitjie ekstra las van oefening kan dra.
    As jy ‘n diabeet is, volg die eetplan wat jou dieetkundige voorgeskryf het, streng. Of volg die Skud-dit-af eetplan, wat ons ook week-vir-week sal verskaf.
  • Vir elke mikpunt wat jy bereik, moet jy jouself bederf, of dit ‘n klein bederf of grote is: ‘n nuwe paar oefensokkies, ‘n nuwe haarstyl, ‘n aromaterapie massering, ‘n nuwe stel oefenklere, ‘n hartspoedmonitor, ‘n nuwe sonbril, ‘n MP3-speler. Dink sommer nou-al wat jou eerste bederf sal wees.
  • Tyd vir pret. Ons sal voortdurend pretstappe, pretdrawwe, fietsrenne en ander byeenkomste waaraan jy kan deelneem, onder jou aandag bring.

Deur Marí Hudson

© Mari Hudson