Die eise van Berg Everest en die gevaar van hoogtesiekte


Dit is weer daardie tyd van die jaar wat bergklimmers ‘n week of dalk drie of vier het om die piek van Everest te bereik. Die weer laat net ‘n klein vensterperiode van gunstige weer toe wanneer dié gevaarlike tog aangepak kan word.

Vanjaar het reeds meer as 12 bergklimmers op die berg gesterf en nog 5 word vermis. Dít terwyl die Nepalese regeging vanjaar 479 permitte uitgereik het – die meeste ooit – en al meer vrae gestel word oor die oorvol berg waar klimmers in die doodsone in verkeersknope staan en wag by die Hilary Steps en al meer onervare toer-operateurs wat onervare klimmers die son, maan en sterre belowe.

Wat loop skeef, en hoekom is die doodsone se gevaarlik?

Op elke kritieke hoogte moet die liggaam aanpas by die verandering in lugdruk en die hoeveelheid beskikbare suurstof.

Luister Woensdag om 11:30 na Gesondheid op RSG na die gesprek oor Berg Everest en hoogtesiekte.

Interessante feite:

Hoogtesiekte (altitude sickness), oftewel akute bergsiekte (acute mountain illness) kan enige mens tref, selfs die heel fikste mens wat ‘n bergpiek bó 3000m bo seespieel klim.

Bokant 3000m bó seevlak bevat die lug 16% suurstof en nie meer 21% soos by seevlak nie, en behoort ‘n Suid-Afrikaner net 300m tot 500m per dag te styg om die liggaam kans te gee om by die dunner lug aan te pas en só te akklimatiseer.

Enige hoogte bó 3000m kan tot hoogtesiekte ly. Die simptome is baie soos dié van griep met onder meer naarheid, duiseligheid, hoofpyn, asemhalingsprobleme.

Dr. Morné Vorster, Kaapse pulmonoloog het enkele interessante feite oor hoogtesiekte verskaf:

  • Die lugdruk in ‘n vliegtuig is dieselfde as die lugdruk op 2400m.
  • Die persentasie suurstof by 8000m (die doodsone op Everest) is 20% van 21%, dus 4%, en dit is nie vereenselwig met lewe nie.
  • Op ‘n hoogte met minder as 16% suurstof in die lug, gebeur daar ‘n paar dinge in die liggaam. Die liggaam begin vog terughou, wat die brein dan laat swel. Hoe meer die brein swel, hoe meer duiselig en naar voel die persoon en die breinswelling belemmer later besluitnemingsvermoë sodat selfs fikse mense op die berg verkeerde en irrasionele besluite neem soos om tot die piek van Everest te klim al weet hulle hul het nie genoeg suurstof om weer tot laer as die doodsone te daal nie. Voorts tas die gebrek aan suurstof die longe aan en kan die persoon beswaaarlik asemhaal.
  • Mense wat Everest klim, klim daagliks sowat 300 – 500m op, en dan weer af om te oornag, dan die volgende dag weer 500 m op om te oornag. Dan weer 300 – 500 m op en weer af, en so gaan dit aan. Alles om die liggaam te help om by die laer suurstofvlakke in die lug aan te pas.
  • Tserpas is deur die jare geneties aangepas om maklik op hoë hoogtes te lewe: hul skei meer van die hormoon eritropoïetien (EPO) af, wat die produksie van rooibloedselle stimuleer sodat die bloed meer suurstof kan dra. Hulle kan dus op hoër hoogtes lewe. Dit is die middel wat Lance Armstrong en baie ander fietsryers gebruik het om hul uithouvermoë in die Tour de France onwettig te verbeter. Die Tjerpas ontwikkel ook pulmonale hipertensie wat beteken dat meer suurstof hulle longe ingedwing word. As hulle egter op seevlak beweeg met pulmonale hipertensie, sal hulle harte baie swaar trek.