Wat is Legioensiekte?


Die Minister van Omgewingsake, Edna Molewa, se skielike dood, was beslis onverwags. Haar familie het bevestig dat sy aan Legioensiekte gesterf het.

Wat is hierdie siekte? Hoe kry mens dit? Het dit iets met lug-verkoelingstelsels te doen? Of met spa’s en jacuzzi’s? Wat is die simptome? Hoe word dit gediagnoseer? Het sommige mense ‘n groter kans om dit op te doen? Is daar behandeling? Behoort dit voorkom te word? Hoe?

Dr Jantjie Taljaard, hoof van Infeksiesiektes by Tygerberg Hospitaal en die Universiteit van Stellenbosch se mediese skool, gaan meer verduidelik oor hierdie siekte. Ons kyk ook na die jongste inligting oor longontsteking by ouer mense en die soort longontsteking van pasiënte in hospitale kan opdoen weens super-hospitaalkieme. Dr Taljaard verduidelik ook die jongste beginsels oor die gebruik van antibiotika.

Legionella bakterie

Enkele interessante feite en vrae

  • Molewa (61) het op 8 September van ‘n besoek aan China teruggekeer, waar sy klaarblyklik siek geword het. Sy is ‘n paar dae later in Suid-Afrika in ‘n hospitaal in Pretoria opgeneem met longontsteking, waar sy in ‘n geïnduseerde koma geplaas is. Sy het op 22 September weens komplikasies van Legioensiekte gesterf.
    Sy het op 1 September na China vertrek en op 8 September teruggekeer.
  • Met ‘n inkubasietyd van 2 – 10 dae, kan mens vrae vra oor waar Molewa dalk die legionella bakterie ingeasem het:
    – Dalk op die vliegtuig oppad na en van China? Is dit moontlik?
    – In China in haar hotel? Of in ‘n spa in China? Of in ‘n gebou in China?
    – In Suid-Afrika in ‘n gebou of spa vóór haar vertrek na China? (Sy was 10 dae voor haar eerste simptome nog in Suid-Afrika en het in China reeds die eerste simptome begin toon.)
  • Legioensiekte is ‘n ernstige vorm van longontsteking, en word deur die bakterie bekend as legionella veroorsaak. Waar broei dié bakterie uit en vermeeder dit? Het dit water nodig? Hoe asem mens dit dan in?
  • ‘n Mens doen Legioensiekte op as jy die bakterie inasem, maar steek dit nie van mens-tot-mens aan nie. Maar waar asem mens dit in?
  • Veral ouer mense, rokers en mense met ‘n verswakte immuniteitsisteem het ‘n groter kans om die siekte op te doen.
  • Indien Legioensiekte nie onmiddellik met die regte antibiotika behandel word nie, sal die persoon sterf. Maar wat is die regte antibiotika?
  • Die eerste simptome verskyn tussen 2 tot 10 dae nadat die persoon die legionella bakterie ingeasem het. Die eerste simptome lyk baie soos griep-simptome. Maar hoe onderskei ‘n dokter tussen Legioensiekte en ander vorms van longontsteking?
  • Wat maak die bakterie in die longe as dit nie behandel word nie? Waarom reageer alle mense – soos Molewa – nie op die nodige antibiotika nie?