Swemmer huis toe ná hartoorplanting


Werner Krauss (49) is vanoggend uit die hospitaal ontslaan, presies 20 dae nadat ‘n skenkerhart in hom oorgeplant is.

Hy het sedert Februarie vanjaar in ‘n waaksaal in die hospitaal op ‘n hartoorplanting gewag nadat sy hart in Augustus verlede jaar vermoedelik tydens ‘n uitsonderlike soort hartaanval (sonder dat sy hartvate aangetas was – sien skakel onder aan storie) ernstig beskadig is. Hy het weens ernstige hartspierskade (kardiomiopatie) hartversaking (met die skade aan die linkerventrikel nogal tipies aan Gebrokehartsindroom) ontwikkel en is in ‘n kritieke toestand in die Christiaan Barnard Gedenkhospitaal opgeneem.

Hy is kort na Kersfees op die oorplantingslys geplaas toe dit duidelik geword het die skade aan sy linkerventrikel is onherstelbaar en so omvattend dat hy gaan sterf as hy nie betyds ‘n hartoorplanting kry nie.

“Dit was somer toe ek opgeneem is, en nou is dit winter. Ek kan nie wag om by die huis te kom en my honde te sien nie. En om my hare te laat sny!” het hy vertel.

Werner, wat voorheen elke dag 7 km geswem het, beplan om so gou moontlik weer in die swembad of see te klim om weer te swem. “Dis ‘n wonderlike manier om fiks te bly.” Hy besit ‘n toeriste-onderneming en gastehuis in West Beach naby Bloubergstrand.

Hy is steeds in verwondering oor sy herstel: “Ek kon voel ek verswak. Ek kon nie meer self badkamer toe gaan nie en het gesukkel om asem te kry. Ek het die dag voor die oorplanting by my gedink dat ek nog ‘n week oor het om te leef. Ek kon voel hoe ek sukkel om te onthou, om te praat, omdat my hart nie bloed en suurstof na my liggaam en brein pomp nie. Ek het vrede daarmee gemaak om te sterf. En daardie nag hoor ek daar is moontlik ‘n skenkerhart vir my.”

“Ek kan nie die verskil beskryf nie. Ek het onmiddellik toe ek in die ICU wakker word ná die operasie, gevoel ek kan makliker asemhaal. Dit was wonderlik om vars lug in te asem. Ek wou net die ventilator-masker oor my gesig wegvat sodat ek vars lug kan inasem. En toe voel ek my ore jeuk en is warm…omdat die bloed weer deur my bloedvate vloei. Op my arms kan mens nou weer die are sien wat opstaan. Vóór die oorplanting was my bloedvoorsiening so swak dat dit nie my are kom opdruk nie.”

“Hierdie hart was bedoel vir my. Hy klop sterk in my borskas. Ek kan nie ophou om dankie te sê vir die skenker se familie nie.”

Werner se eerste twee hartbiopsies om vir verwerping te toets, het getoon dat daar geen verwerping is nie. Hy sal die res van sy lewe teenverwerpingsmiddels neem. Hy sal die eerste ses weke rustig wees om sy borsbeen kans te gee om volledig vas te groei en homself nie dadelik blootstel aan massas mense en kieme nie, voordat hy al sy bedrywighede hervat.

SA beleef grootste tekort aan skenkerorgane afgelope twee dekades
Suid-Afrika en veral die Wes-Kaap beleef die grootste tekort aan skenkerorgane die afgelope 20 jaar. Hoewel daar gereeld nieroorplantings van lewende nierskenkers in verwante (of nie-verwante) ontvangers oorgeplant word, is die oorplantingspanne uiters besorg oor hoe min mense wat breindood in ongelukke gesterf, as potensiële skenkers verwys word (in die private en staatsektore), en hoe dikwels die familie van ‘n potensiële skenker te dikwels nee sê (meer algemeen in die staatsektor as in die private sektor) al kan ander lewens gered word.

Sowat 50 mense sterf elke dag in slegs padongelukke, en na raming kan minstens 5 of meer geskikte skenkers wees (wat tot meer as 7000 oorplantings per jaar kan lei) tog is daar ‘n geweldige tekort aan skenkerorgane in Suid-Afrika en word skaars 300 oorplantings per jaar gedoen. Byna alle korneas wat oorgeplant word om blinde mense weer te laat sien, moet van ‘n Amerikaanse oogbank ingevoer word.

Tans wag sowat 5000 mense op ‘n nier-, hart-, lewer of ander orgaanoorplanting, maar skaars meer as 300 van dié wagtendes word jaarliks gehelp.

Die plakkaat wat Werner gemaak het terwyl hy in die hospitaal op ‘n skenkerhart gewag het.

Lees ook

14 Junie: 4 Orgaanooplantings, 4 lewens gered, drie chirurge

28 Junie: Hoe kan ‘n mens ‘n hartaanval kry terwyl jou bloedvate gesond is?