Die storie van Ruiterbos, RSG en die beertjies van België


RSG se stille invloed, wêreldwyd

In 2012 het Tjailatyd op RSG se Amore Bekker twee onderwyseresse van Ruiterbos Primêr ontmoet – Elma Meyer en Susan Le Roux.

Ruiterbos is 119 jaar oud, en het 87 leerders en vier onderwysers. Dit is een van die laaste plaasskole in die Wes-Kaap, tussen Mosselbaai en Oudtshoorn. Hy lê aan die voete van die Outenikwa.

Amore skryf verder….

“Hulle het my vertel van die behoeftes van die skool. Ek en Naledi het besluit om R10 van elke kopie van Tjailaresepte 2 aan die skool te gee. Ek het dit ook so vertel in Tjailatyd.

Danksy die feit dat ‘n mens wêreldwyd kan luister na RSG, het Molleke en Mark Broes in Brugge, België gehoor van Ruiterbos Primêr se behoeftes. Hulle het ’n geskenkwinkel in Brugge, en Molleke het besluit om ’n Ruiterbosbeertjie te maak, wat jy kan gebruik as ’n yskasmagneet. Sy het die beertjies verkoop in haar winkel, met die storie van Ruiterbos Primêr daarby. Al die inkomste van die verkope gaan dan aan die skool.

Elke jaar kom Mol en Mark Suid Afrika toe vir vakansie, en hulle gaan dan na die skool en gee vir hulle die kontant van die verkope van die beertjies. Dit gaan gewoonlik gepaard met ’n vrolike funksie en almal by die skool is betrokke.

Ek het Desember hierdie volgende brief van Mol ontvang:

Liewe Amore

Ek wens vir jou en vir almal wat jy lief het, ‘n baie geseënde nuwe jaar!

Oor 10 dae sal ons op pad wees lughawe toe, dit voel amper onwerklik, die jaar het weer eens te vinnig verby gegaan, maar ons sien uit naar julle mooi land en vriendelike mense.

Ons het die verbye jaar weer ons beste gedoen om bietjie geld by mekaar te kry vir Ruiterbos Laër. Nie net die verkoop van beertjies nie het Euros in die spaarbussie gekry, ons wou die projek bietjie groter maak. Ons is mense wat baie onthaal, ons het die verbye somer partytjies van 30 tot 100 gaste gehad. Ik maak al die kos self, mens moet baie goed dink en beplan om daardie goed reg te kry. Pleks van blomme (kan jy glo eks nie lief vir blomme nie?), sjokalade, koekies, wyn (eks baie lief vir witwyn!), olyfolie, seep….ens., vra ons vir die genooides om ‘n bydraë te gee vir Ruiterbos. Meeste mense is baie vrygevig en hulle is bly hulle moet hulle koppe nie breek nie oor watter present hulle sou kan saambring, en eks bly ek kry nie oorbodige geskenke nie!

Die eindresultaat is: 3500 €, ons gaan dit nou nie hier verruil vir Rande nie, 7 banknote van 500€ is ligter in die sak as oor die 50000 Rand se banknote.

Ons planne is om Maandag 27 Februarie, so teën 11 uur VM, op pad van Mosselbaai na Red Stone Hills, die koevert te oorhandig aan Edmin Lewis, die nuwe skoolhoof. Hy weet nog niks nie.

Wonder hoe lank dit nog gaan vat voor RSG weer beskikbaar is op my internetradio, ek luister nou oor tunein op my ipad, maar die ipad is nie altyd beskikbaar nie vir radioluister….

Baie liefde en alles van die beste,

Molleke Broes

Verstuurd vanaf mijn iPad

Leerders van Ruiterbos Primêr.