Goue Koors vol avontuur, liefde, kinkels en kabels


Hou vas aan julle bits en bites want die middagvervolgverhaal wat Maandag 7 Desember, 14:45 begin, is ’n hupse en moderne nuwe verhaal met ‘n sci-fi geurtjie, uit die pen van ons voorste Afrikaanse radiodrama-skrywer, Charles J. Fourie.

 ’n Vervolgverhaal met hope lawwe kinkels en kabels, komedie en heelwat drama, liefdesontdekkings en -teleurstellings, avontuur en koddighede.

Dit speel af in die Tankwa Karoo waar ’n spul uitspattige jonger (en ouer) karakters vergader rondom ’n groot geheim wat betrekking het op Paul Kruger se verlore goue ponde, en elkeen se lewe vir altyd kan verander.

Vandaar die gepaste titel: GOUE KOORS.

Luister wat op jou wag:

Die Storie en Hoofkarakters

Oom Blikkies is ’n artifisiële intelligensie robot wat geskep is deur sy geliefde kleinneef, Stephen Roux – ’n loskop moderne avonturier wat by ‘n tegnologie-maatskappy werk, en homself as ’n gedugte skatte-jagter beskou.

Kaz McFadden (Stephen Roux – hy’t Oom Blikkies geskep)

Stephen het Oom Blikkies geprogrammeer met behulp van die nuutste tegnologie en sy eie eksperimente met neurale menslike brein-oorskakeling na artifisiële super-intelligensie. Hy het Oom Blikkies inderdaad herskep as mens – en dit sonder dat sy base daarvan geweet het.

Paul Luckhoff (Oom Blikkies Blignaut)

Wanneer Stephen se base hom dan uitvang, en hy boonop afgedank word met ’n hoop skuldeisers op sy spoor, besluit hy om met Oom Blikkies se hulp na Paul Kruger se befaamde verlore goue ponde te gaan soek.

Vir hierdie verhaal is dit effe fiktief, maar na bewering is die grootste deel van die goud nie, soos vertel, destyds tydens die Anglo Boere-oorlog na Mosambiek vervoer nie, maar na Namibië waar dit per skip vanaf Lüderitz verskeep sou word!

Nou mag jy jouself afvra – maar waar kom Oom Blikkies en sy kleinneef, Stephen aan sulke vreemde inligting?

Onthou, Oom Blikkies is eintlik ’n robot – ’n artifisiële super intelligensie met buitengewone vermoëns. Na hy en Stephen triljoene en triljoene data deur middel van kumulatiewe navorsing en inligting via die wêreldwye inter-web deurgegaan het, kon hulle bepaal dat daardie goue ponde wat in plekke soos bv. Machado-dorp in die ou oos-Transvaal gevind is, eintlik net ’n afleiding was om die Britse troepe van die spoor te lei. Die ware vrag Krugerponde – die groot skat goud – was eintlik op pad na Lüderitz.

Iewers langs die pad moes die boeresoldate wat die goud vervoer het egter die aftog blaas na die Britte van hul plan verneem het – en toe is daar inderhaas besluit om die skat goue ponde eerder op ’n plaas in die Tankwa Karoo te versteek.

En dis hoe ons hoofkarakters in hierdie oomblik in ons moderne tyd beland. Een jong avonturier, Stephen Roux, en sy A.I.robot, oom Blikkies, wat self op sy dag ’n speurder en skatte-jagter was. Hulle doelwit: om die befaamde verlore goue ponde van Paul Kruger op die plaas van oom Hannes Moolman en sy koddige vrou, Lizzie te gaan soek.

Waarmee hulle egter nie rekening hou nie is die ander spul uitspattige en lawwe karakters wat by hulle op die ‘Goue Koors’ avontuur sal aansluit….

Die Ander Karakters

Karen Wessels (Wilmien de Wet, die dokkie-regisseur)

Eerstens is daar die effe oor-emosionele, jong en aantreklike dokumentêre film-regisseur, Wilmien de Wet. Na heelwat flops in die rolprentbedryf klop sy vir hulp aan by haar skatryk half-broer, André Gouws, vir finansiële hulp om haar nuwe projek te befonds. Sy wil graag ’n dokumentêr maak oor Stephen Roux en sy A.I. robot Oom Blikkies, wat na Paul Kruger se goud in die Tankwa Karoo gaan soek.

Botha Enslin (Andre, die slinkse Kaapse sakeman) & Jacques Bosch (Hannes Moolman, die plaas-eienaar in die Tankwa-Karoo)

André is egter van nature slinks, en as hy hoor daar is ’n moontlike skat te vinde, en dit is boonop Paul Kruger se verlore goue ponde, span hy vinnig sy eie manskap in. André hou in elk geval nie van sy jonger sussie, Wilmien nie – hy voel sy het al sy ma se liefde gesteel van hom. Om hom te help met sy slinkse planne roep André die ongure oud-speurder, Chris Schutte, se hulp in.  Dié kies ook spoedig pad na die Tankwa Karoo om kamtig ’n oog oor Wilmien en haar filmspan te hou.

David Louw (Chris – Andre se slinkse handlanger)

Claudia Jones (Jolene, die klankvrou) & Johny Klein (Morne, die kameraman)

Die filmspan bestaan uit die klank-vrou, Jolene Cupido, en haar eks-kêrel die kameraman, Morné Davids. Hulle verpes mekaar jeens onopgeloste sake uit die verlede, en hier in die Tankwa Karoo onder die sterre sal hul geforseer word om die kwellinge aan te spreek. Sal hulle kan?… is die vraag – of gaan hulle mekaar uiteindelik emosioneel en moontlik fisiek geheel en al aftakel?

Teen dié agtergrond is Wilmien en Andre se ma ook bestem om binnekort op oom Hannes en tannie Lizzie se plaas in die Tankwa Karoo te kom bly. Die elegante dame se naam is, Maryna Gouws de Wet, en sy is al jare lank onafhanklik van haar gebroedsel wat sy by twee verskillende mans gehad het. Sy behoort ook aan die internasionale trans-humaniste organisasie van wie sy riglyne van oorsee ontvang oor hoe om haar jeugdigheid vir ewig te verleng. Maar so spul kos geld en dié goue ponde van Paul Kruger mag dalk net haar paspoort na ’n ewige lewe wees…

Heidi Mollentze (Lizzie Moolman)

Laastens is daar die net so vreemde tannie Ella Conradie wat al jare lank as weduwee in die Tankwa Karoo op Middelpos woon. Tannie Ella is ‘n siener – iemand met ’n skakel na die mistieke en anderwêreldse realm – sy help graag armsaliges.

Haar rustige dog eksentrieke wêreld word egter spoedig omvêr gewerp as die spul vreemdelinge van heinde en vêrre – een na die ander by haar drumpel opdaag.

Tannie Ella en oom Blikkies, die A.I. robot ontwikkel ‘n interessante verhouding van hulle eie na die einde – en die vraag word gevra – kan robotte emosies hê?

Die Musiek

Die musiekontwerp is ‘n eklektiese, dog eksperimentele samevoeging van boere- en elektroniese musiek wat gemeng word met robot- en techklanke.

Ons span die boeremusiek van Henning Joubert regdeur die storie in – sy vertolkings van Die Hartseerwals, Tant San van Christiana, Die Ou Waenhuis, Zambezi en Lentebloeisels is maar net ‘n paar van sy treffers wat jy sal hoor.

Om die spanningslyn te hou en die opwinding van die ekspedisie vas te vang, kom die musiek van die Switserse elektroniese duo Yello handig te pas. Grepe uit hulle kreatiewe skeppings hou die storie aan die rol.

Elektroniese klanke asook hier en daar musiek uit bekende flieks om ‘n spesifieke  tema te ondersteun, sorg vir ‘n allegaartjie van klank as die agtergrond tot hierdie kleurvolle storie van Charles J Fourie.

Die Rolverdeling

Johny Klein (Morne Davids, die kameraman)

Stephen Roux – Kaz McFadden

Wilmien de Wet – Karen Wessels

Andre Gouws – Botha Enslin

Oom Blikkies – Paul Luckhoff

Morne Davids – Johny Klein

Jolene Cupido – Claudia Jones

Lizzie Moolman – Heidi Mollentze

Hannes Moolman – Jacques Bosch

Chris Schutte – David Louw

Maryna Gouws de Wet – Rina Nienaber

Ella Conradie – Ria Smit

Die Tegnici

Bongiwe Thomas & Renske Jacobs

Bongiwe Thomas

Frikkie Wallis

Die Regsisseur

Renske Jacobs

Ons gee jou ‘n kykie agter die skerms:

Agter die skerms in die regisseurs- en klank-ateljee:

 

Kaz McFadden (Stephen Roux) & Heidi Mollentz:

Paul Luckhoff (Oom Blikkies, ‘n artifisiele intelligensie-robot:

Kaz Mcfadden doen voetstappe:

Karen Wessels (Wilmien de Wet) & Johny Klein (Morné):

Claudia Jones (Jolene Cupido, die klankvrou):

Jacques Bosch (Hannes Moolman) & Heidi Mollentze (Lizzie Moolman):

Johny Klein (Morne Davids) & David Louw (Chris Schutte):

Johny Klein (Morne, die kameraman) & Karen Wessels (Wilmien, die dokkievervaardiger):

Johny Klein doen byklanke:

GOUE KOORS word van Maandag 7 Des elke weeksdagmiddag om 14:45 uitgesaai.

Die herhaling van die week se episodes is elke Maandag 03:00 – 04:15

Ook beskikbaar as potgooi op www.rsg.co.za