Hans neem RSG (weer) op horings


Die geliefde Hans van Kraaienburg, meesterlik lewe gegee deur die akteur en voorleser Tobie Cronjé, is terug in Alhoebekker!

Die opvolg van die topverkoper, Hans steek die Rubicon, word van Woensdag 9 Desember elke weeksoggend om 10:45 op RSG voorgelees. En Tobie Cronjé het weer agter die mikrofoon ingeskuif vir Hans gee Herklaas horings met Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, aan die stuur.

Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Kom ontmoet al die nuwe kleurvolle karakters en die kaperjolle wat Hans en Vasie op hul eiesoortige manier beleef.

Daar is geen potgooi van boekvoorlesings beskikbaar nie, maar ‘n weeklikse omnibus word op Saterdae tussen 03:00 en 04:00 in Deurnag uitgesaai.

Lees ook:

Hans is terug