Luister weer na Huishou


Huishou se Dirkie en Hester

Luister weer na Huishou (verwerking deur Eben Cruywagen) deur Philip Rademeyer, regie deur Frieda van den Heever.

Soos in die bekroonde Aardklop-verhoogstuk (oor twee vroue wat ‘n swart kind wil aanneem) vertolk Cintaine Schutte en Nadia Valvekens die rolle.

DIE STORIE

Twee wit vroue in Kaapstad wil ‘n swart kind aanneem.

Die ouer vrou, Dirkie, is ‘n lektor in sosiologie en dryf die aannemingsproses. Dirkie wil sorgvuldig, noukeurig ‘n huis opbou en vol maak, en dink ook hulle het ‘n politiese plig om by te dra tot die nuwe Suid-Afrika (“dis oor jou white guilt,” terg haar vrou). Die jonger vrou, Hester, is ‘n loskop wandelaar. Sy ontvang ‘n oproep wat haar dwing om na haar ouerhuis terug te keer. Die naweek in haar plattelandse tuisdorp dompel haar in ‘n identiteitskrisis, en sy begin wonder oor haar wortels en Afrikaner-erfenis. Soos beide vroue vasklou aan hul beginsels en verbete baklei om deur die ander gehóór te word, word hul verhouding en liefde op die spel geplaas.

‘n Drama oor verhoudings, die soeke na die “ek” in die “ons”, en mense wat verby mekaar praat.

Radioteater

DIE KARAKTERS

Cintaine Schutte speel die rol van Hester. Fotograaf: Leslie van Wyk

 Hester

 Hester is in haar dertigs en ‘n deeltydse joga-instruktrise. Sy kom oorspronklik van Stilfontein in Noord-Wes. Sy het grootgeword in ‘n konserwatiewe gesin. Haar pa is ‘n dominee en haar ma ‘n stil predikantsvrou. Albei ouers het haar verwerp. Sy het ‘n skerp verstand, maar is baie onvolwasse vir haar ouderdom.

Sy word deur haar emosies gedryf. Sy is ‘n swerwer en ‘n alleenmens, selfs al is sy tussen mense. Sy is finansieel en emosioneel afhanklik van Dirkie. Sy is bang om ingeperk te word en is altyd op soek na vryheid.

Nadia Valvekens speel die rol van Dirkie. Fotograaf: Leslie van Wyk

Dirkie

 Dirkie is in haar veertigs en ‘n dosent in sosiologie aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy haar hele lewe lank al bly. Sy het ‘n dominerende, veroordelende ma wat haar verwerp het. Sy is intelligent, prakties, logies, rasioneel, beroeps- en polities gedrewe. Sy is neerhalend teenoor Hester, maar ten spyte van Hester se foute, innig lief vir haar.

Sy het ‘n onderliggende strewe na perfeksie in haarself, in Hester en hulle toekomstige kind. Sy is bang om alleen te wees en soek eintlik deurgaans na veiligheid en aanvaarding.

Dirkie en Hester

Dirkie en Hester is al tien jaar aan-en-af saam, en die laaste vyf jaar getroud. Hulle verhouding is redelik seksloos en hulle funksioneer meer in ‘n ma-dogter verband as op ‘n romantiese vlak.

Beide het ‘n leemte in hulle, wat spruit uit hulle verwerping deur hul ouers en beide soek iets of iemand om die leemte te vul.

REGISSEURSNOTA

Dis tegelykertyd ‘n uitdaging én ‘n voorreg om ‘n radiodrama (of enige ander medium van stories vertel) op te neem wat oorspronklik ‘n verhoogproduksie (of eers enige ander medium) was. Om te speel vir die oor, vir die sg. “blinde gehoor” vra vir ander tegnieke en spelkeuses as die verhoog, maar vir dieselfde eerlikheid en geloofwaardigheid. Om volronde karakters te skep sonder dat jou gehoor jou liggaam kan sien bly ‘n uitdaging. ‘n Heerlike een wat albei die aktrises in Huishou aangegryp het.

Eben Cruywagen het saam met Philip Rademeyer die teks aangepas vir die radio en ons werk tans met ‘n paar aanpassings in die ateljee ook om sosiale distansiëring te bemoontlik, maar dit was ‘n voorreg om te kon sien hoe “ingespeel” hierdie ensemble is na ‘n paar jaar van suksesvolle loopvlakke in teaters landwyd. Hoe goed Cintaine en Nadia mekaar ken en mekaar vang, hoe hulle mekaar hóór terwyl hulle karakters vertolk wat mekaar alles behalwe hoor. Dis g’n wonder hierdie produksie is so hoog aangeskryf nie. Hulle nominasies en pryse vir die teaterproduksie sluit in:

 

Nominasies:

*Beste Aktrise Aardklop Nasionale Kunstefees 2018 (Nadia Valvekens)

*Beste Aktrise Aardklop Nasionale Kunstefees 2018 (Cintaine Schutte)

*Beste Afrikaanse Nuutgeskrewe teks Aardklop Nasionale Kunstefees 2018 (Philip Rademeyer)

*Fiëstas Beste Aktrise 2019 (Nadia Valvekens)

*Fiëstas Beste Aktrise 2019 (Cintaine Schutte)

*Fiëstas Beste ensemble/duo 2019 (Nadia Valvekens & Cintaine Schutte)

*Fiëstas Beste Nuutgeskrewe Afrikaanse teks 2019  (Philip Rademeyer)

 

*Wenner van Beste Aktrise Aardklop Nasionale Kunstefees (Nadia Valvekens)

Die ensemble en samewerking was onverbeterlik. Nico Scheepers, die bekroonde regisseur van hierdie en talle ander teaterproduksies, het ook ingeloer tydens ons opname, insae gelewer en die magic van die radio-ateljee kom beleef. Wat ‘n vreugde om saam met Cassi, Cintaine, Nadia, Nico, Philip en Eben hierdie drama te kon aanpak!

Nadia en Cintaine. Foto: Eye Poetry Photography

Nadia en Cintaine (foto: Eye Poetry Photograhy)

Cintaine in Huishou. Foto: Eye Poetry Photography

Nadia in Huishou. Foto: Eye Poetry Photography

Nadia en Cintaine in Huishou. Foto: Eye Poetry Photography

 

Alle Foto’s van die verhoogopvowering is verskaf deur Aardklop Kunstefees & Eye Poetry Photography

DIE SKRYWER

Philip Rademeyer. Foto: Stefan Erasmus

Philip Rademeyer is ‘n skrywer, regisseur en ontwerper. Sy werk is al by teaters en feeste regoor Suid-Afrika opgevoer en is al met verskeie plaaslike en internasionale toekennings bekroon. Mees onlangs het Klippe Wat Val die 2019 ATKV Woordveertjie vir Beste Dramateks gewen, en is in ‘n bundel met Wild uitgegee deur Protea Boekhuis. As skrywer is hy verder verantwoordelik vir HuishouWildAsThe View en The Graveyard; en as regisseur en ontwerper vir Monsieur Ibrahim en die Blomme van die KoranWeerkaatsIn Slavenhuis 39 en The Maids. Hy het ook al vir radio en televisie geskryf, en het sy filmdebuut gemaak as regisseur van die vollengte film Skemerson (Palama Productions).

Só het dit tydens die radio-opnames verloop:

 

Huishou. Die ensemble en samewerking was onverbeterlik. Wat ‘n vreugde om saam met Cassi (voor), Cintaine (middel agter), Nadia (regs), Philip (agter) te werk, skryf Frieda (links).

Huishou. Frieda, Cintaine, Philip en Nadia.