Hulle noem hom Mamba


Adriaan Havenga

Luister op Donderdag 8 April om 20:00 na Adriaan Havenga se Hulle noem hom Mamba, ‘n radiodrama wat met die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) bekroon is tydens die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Die regisseur is Anrich Herbst.

Havenga is ‘n 21-jarige student aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy drama studeer.

Die storie

Elbie is ‘n kranige skrywer wat hoop om haar eerste boek te publiseer. Vanaand se afspraak met ‘n uitgewer kan haar en haar seun se lewens heeltemal verander. Alles moet reg verloop. Sy moet net gou winkel toe ry om bestanddele vir ‘n dis te koop – op die donker kronkellende paadjie tussen die dorp en haar kleinhoewe.

Die tema van vrees en die verlammende effek daarvan op ons lewens word verken.

Die spelers

Die spelers is Joanie Combrink as Elbie, Wilhelm van der Walt as haar seun Lian, Andre Samuels as die Uitgewer, en Nadia Valvekens en Kay Smith in twee ander rolle.

Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

DIE REGISSEUR ANRICH HERBST skryf

Dit is ‘n voorreg om die wenner van die prys vir Jong Skrywer vir die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2020 se teks te mag opvoer, en ek was beïndruk met die storie en tegniek van Adriaan Havenga.

Die tema van HULLE NOEM HOM MAMBA handel oor die verlammende effek wat vrees op mens se lewe kan hê, iets waarvan ek nie ervaring het nie. Ek het die heeltyd gepoog om dit vir die luisteraar verteerbaar te maak, deur hoop en oorwinning te probeer aanbied, maar uiteindelik neem elke produksie sy eie lewe aan, en hierdie was geen uitsondering nie.

Met opvoering het Joanie Combrink ‘n kragtoer gelewer en Elbie vertolk vér bo hoe ek haar kon voorstel. Wilhelm het so ‘n “lewendige” stem en sy spel is altyd gemaklik en natuurlik. André Samuels was ‘n perfekte pilaar waarom ek kon bou.

Nadia se karakter was van kardinale belang aangesien sy net in die slottoneel voorkom en dit my grootste uitdaging was. ‘n Groot deel van die luisteraar se ervaring en belewenis is afhanklik van hoe Nadia se karakter teenoor Elbie optree, en sy het haar puik van haar taak gekwyt. Kay Smith is een van ons grootste nuwe vondse, en ek sien uit om nog baie saam met haar te werk.

Twee ander karakters bly oor: byklanke en musiek. Ek en Cassi het ons bes gedoen om bewegings duidelik oor te dra en die ruimtes eg te laat klink. My gunsteling is die vlieg wat in een van die eerste tonele (op haar inisiatief) gehoor kan word. Die moeilike tonele met klomp deure wat oop- en toemaak, voetstappe heen-en-weer en in en uit motors klim het sy met gefokusde aandag afgerond.

En dan die musiek. Daar is min dinge wat atmosfeer kan skep soos musiek. Van vrees tot hoop, gevaar, verliefdheid – noem dit maar, daar’s ‘n stukkie musiek iewers wat daardie emosie perfek kan oordra, en uit díe skatkis het meesterstukke van Led Zeppelin, Van Halen, Metallica, Pink Floyd en The Doors Mamba gevaarlik laat sis.

Dankie RSG, dat jy teater op hierdie manier laat voortleef!

Anrich Herbst voor met Kay Smith, Wilhelm van der Walt, Dann-Jacques Mouton, André Samuels en Joanie Combrink.

Wilhelm van der Walt voor, met Nadia Valvekens, Anrich Herbst, André Samuels en Joanie Combrink.