Jan Spies-lafenis vir grendelvoos luisteraars
Daar is min mense wat ’n storie soos Jan Spies kan vertel.
Die Antie met Die Pienk Rok en Ander Stories (uitgegee deur Tafelberg) is ’n keur uit sy humoristiese vertellings uit die gepubliseerde bundels Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette. En hierdie nuwe keur word van Woensdag 17 Junie op weeksoggende om 10:45 op RSG voorgelees. Die akteur-skrywer Lochner de Kock skuif agter die mikrofoon in om hierdie “Spieserye” nuwe lewe te gee. RSG se dramahoof, Kobus Burger, is die regisseur.
Maak opnuut kennis met onvergeetlike karakters soos Maans Maanse, sersant Jônie Louw en pater Hoeflies wat ietsie neem vir die koue in ’n poort naby Kenhardt, Orrelkosie wat ’n halwe dag neem om te verduidelik hoe om ’n pil in ’n hoender se keel af te kry, Hábakuk en sy blik kondensmelk en die veerlingverpleegstertjie wat ’n plan bedink om die oumense se valstande skoon te maak.
Die Antie met Die Pienk Rok en Ander Stories sluit vele gunstelinge in.
Luister na ‘n klankgreep uit die voorlesings:
Lochner de Kock is ’n akteur, musikant, dramaturg, skrywer, regisseur, stemkunstenaar en sjef. De Kock vier op 23 Julie vanjaar sy sewentigste verjaardag. Buiten dat hy een van die gewilde radiostemme in RSG se dramas en vervolgverhale is, skryf hy ook rubrieke, kinderverhale en sketse. Hy en die akteur-musikant Richard van der Westhuizen tree ook sedert 1987 as onder andere die duet Vuurklip en Klip saam op.