Is Guptas se verkope weer fnuikery?

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sê die kwessie van staatskaping en die Gupta-familie sal nie onder die mat ingevee word nie. Hy het in die parlement gereageer op kwellings wat opposisieparlementslede geopper het dat die Guptas toegelaat sal word om die land ongestraf te verlaat. Kommer het ontstaan nadat die Guptas die afgelope dae van hulle bates verkoop het. Die Tegeta-mynmaatskappy is verkoop aan ‘n maatskappy in Switserland vir ongeveer drie miljard rand en mediabelange is verkoop vir 450 miljoen rand. Ramaphosa sê hy is seker president Jacob Zuma sal binnekort ‘n kommissie van ondersoek aanstel om bewerings van staatskaping te ondersoek. Ramaphosa het ontken dat die regering die familie beskerm. Hy sê niemand is bo die reg verhewe nie.
Die DA-leier, Mmusi Maimane en die party se skaduminister van Justisie, Glynnis Breytenbach sal vandag ‘n dossier oor beweerde korrupsie by die Estina-suiwelplaas in Vrede in die Vrystaat aan die Valke in Pretoria oorhandig. Volgens die DA sal dit strafregtelike aanklagte teen verskeie lede van die Gupta-familie en hulle sakevennote, sowel as die Minster van Minerale Bronne, Mosebenzi Zwane aanvul. Die DA se skaduminister van Finansies, David Maynier het verlede maand aanklagte teen hulle ingedien. Volgens berigte het die Gupta-familie en hulle sakevennote 184-miljoen rand verdien uit die projek wat bestem was vir die bemagtiging van plaaslike inwoners en provinsiale landbou. Dertig miljoen rand van die geld is volgens uitgelekte e-posse aan die Gupta-troue op Sun City bestee. Die dossier bevat volgens die DA bewyse, insluitend die uitgelekte e-posse, wat owerhede sal toelaat om met vervolging te begin.
Jimmy Manyi het die Guptas se ANN7 en TNA gekoop. Prof Anton Harber praat oor die finansiering hiervan en die modus operandi van die transaksie
Gaan ‘n nuwe eienaar die beeld van die Gupta’s se koerant en nuuskanaal poets? Die New Age en ANN7 is gereeld gekasty oor beweerde bande en pro-Zuma propoganda. Nou het die Guptas het hulle aandele aan Lodidox verkoop vir 450 miljoen rand. Mzwanele Jimmy Manyi besit Lodidox. Vincent Mofokeng berig…
Ons bly by die storie: Soos jy pas gehoor het, het Mzwanele Jimmy Manyi die Guptas se aandele in die televisie-nuuskanaal, ANN7 en die koerant, The New Age gekoop. Daar word baie oor die transaksie gefluister. Daar was aanvanklik gerugte dat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, die NOK, finansiering aan Manyi verskaf het. Hy het egter die gerugte in die kiem gesmoor en erken die finansiering kom van die Gupta’s self af. Die hoof ekonoom by Efficient Group, Dawie Roodt het aan Vincent Mofokeng gesê, ongeag wie die geld verskaf, die onderliggende politieke beweegredes sal die transaksie oorskadu.