Kerskonsert op Oukersaand


Willem Vogel

Oukersaand is daar weer soos vorige jare ‘n kerskonsert van Salon Musiek op RSG.

Vanjaar se kerskonsert is onlangs opgeneem in die M1-konsertateljee by die SAUK in Johannesburg, in samewerking met RSG. Daar kon nou wel nie ‘n groot gehoor wees nie weens Covid-19, maar dit het geensins afbreek gedoen aan die wonderlike musiek wat die kunstenaars vir ons gebring het nie.

Die kunstenaars is Teresa de Wit (mezzo-sopraan), Douwe Bijkersma (bariton), Philip Cox (trompet) en Isabelle van Rensburg (orrel). Die wonderlike pyporrel in die SAUK se M1-ateljee was ‘n bepalende faktor om die konsert daar op te neem, aldus Willem Vogel van Salon Musiek.

Willem het dan ook die feestelike en genotvolle program saamgestel. Behalwe vir gewilde kersliedere, is daar ook twee pyporrel solo’s, naamlik Rhapsody on Christmas Themes (Gigout) en die Carillon de Westminster (Vierne), ‘n opwindende uittreksel uit Haydn se Trumpet Concerto, The trumpet shall sound from the Messiah (Handel), Sleigh ride (Leroy Anderson) vir trompet en orrel en dan Adam se O Holy Night.

Salon Musiek en RSG se kerskonsert word oukersaand Donderdag 24 Desember  na die 21:00 nuus en weervoorspelling uitgesaai op RSG.