Klassieke bederf uit drama-argief


Die DVD plakkaat van die fliek

Die fliekplakkaat

Radioteater-liefhebbers word op Donderdag 19 November om 20:00 bederf met ‘n argiefdrama wat die bekroonde regisseur en geliefde radiostem Margot Luyt opgeneem het.

Dit is Liefde is ‘n Roos deur Tennesee Williams, oorspronklik in Engels as The Rose Tattoo. Die aktrise Anna-Mart van der Merwe vertolk die hoofrol in ‘n drama wat plek-plek aan Lorca se klassieke Die huis van Bernarda Alba herinner.

DIE STORIE

Serafina Delle Rose is ‘n Italiaanse Amerikaner en ‘n passievolle, wispelturige, middeljarige vrou wat hard probeer om haar dogter volgens die Katolieke geloof groot te maak.

Hulle woon in Mississippi, maar ná die afsterwe van haar man, besluit sy om haarself af te sonder. Sy verwag ook dat haar dogter ook die luike dig moet sluit en nie enige verhoudings moet aanknoop nie.

Maar dan ontlok ‘n man met ‘n tatoeëermerk ‘n rits herinneringe…

DIE TONEELSTUK

Tennessee Williams se The Rose Tattoo is reeds sewentig jaar oud en ook  later verfilm. Die aktrise Anna Magnani het ‘n Oscar ontvang vir haar rol in die prent wat in 1955 uitgereik is. Die drama is in 1951 met ‘n Tony-prys as beste toneelstuk bekroon. Dit het verskeie kere op die verhoog herleef met onder andere Marisa Tomei in die rol van Serafina.

The Rose Tattoo is in Afrikaans vertaal deur Andries Cornelius.

DIE ROLVERDELING

Anna-Mart van der Merwe

Anna-Mart vertolk die rol van Serafina met Frieda van den Heever as haar dogter.

Die ander spelers in die sterbelaaide rolverdeling sluit in Stian Bam, Marlo Minnaar, Brendon Daniels. Joanie Combrink, Deirdre Wolhuter, Ivan Abrahams, Martelize Kolver, Hannah Borthwick, Lulu Botha en Tinarie van Wyk Loots.

Die regisseur is Margot Luyt.

DIE DRAMATURG

Tennessee Williams

Tennessee Williams word saam met Arthur Miller en Eugene O’Neill gereken as een van die drie mees vooraanstaande Amerikaanse dramaturge van die twintigste eeu. Hy het reeds op 33-jarige ouderdom opslae gemaak met The Glass Menagerie (1944). Van sy ander werke sluit in A Streetcar Named Desire en Cat on A Hot Tin Roof.

Williams het ook kortverhale, gedigte en essays geskryf. Hy is ook opgeneem in die American Theater Hall of Fame. Hy is op 25 Februarie 1983 in die ouderdom van 71 jaar oorlede.