DAK vereer Haidee


Haidee saam met DAK-Netwerk se voorsitter, Danny Titus en die woordkunstenaar Danneline Ramsden.

Haidee Muller is onlangs deur die DAK-Netwerk met ‘n ere-toekenning vereer vir haar “Lewensbydrae tot bevordering van Afrikaanse media in Suid-Afrika”.

Die DAK-Netwerk met Dr Danny Titus aan die hoof, is ‘n akroniem vir die Khoi-ikone: Doman, Autshumao en Krotoa. Die DAK Netwerk gebruik drie pilare – identiteit, maatskaplike kwessies en ekonomiese bemagtiging – om ‘n platform en stem aan die breë Afrikaanssprekende gemeenskap te gee. DAK wil alles wat eiesoortig is aan voorheen benadeelde Afrikaanssprekende gemeenskappe aanwakker en verbeter tot voordeel van hierdie gemeenskappe.

Haidee saam met Rene Arendse van DAK-Netwerk

Danie van Wyk, een van DAK se direkteure sê: ”Haidee is vereer met hierdie toekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal op radio, spesifiek RSG. Sy speel ‘n baie groot rol om ‘n positiewe bydrae te lewer en mense bewus te maak – individe sowel as organisasies – van die positiewe rol of rolle wat hulle binne ‘n gemeenskap speel. Deur middel van hierdie bydrae, hef sy nie net mense op nie, maar skep sy ook ‘n bewusmaking van Afrikaans en die lekker gesels-taal wat dit op radio is.

Haidee vertel: “DAK se mense luister na die tipe stories wat ek doen met doodgewone mense en dit het vir hulle uitgestaan.”

DAK Netwerk se gala-aand is swierig by Zevenwacht Landgoed gehou.

Haidee Muller (middel), saam met haar skoonouers, Mary en Brian Isaacs.

Haidee se gunsteling storie
“Ek geniet die meeste stories wat ek doen geweldig baie. As ek nou mooi moet dink aan my gunsteling storie, is dit die een van Ten Thousand.

Dinsdag 29 Mei 2018

Haidee Muller se paaie het gekruis met Ten Thousand, wat in die Freedom Farm-plakkerskamp langs Kaapstad se lughawe woon. Sy regte naam is Llewellyn Adams, maar almal ken hom as TenThousand. Hy vertel vir Haidee van sy swaarkrydae in die gevangenis, en hoe hy met harde werk sy lewe omgekeer het. Hy is vandag die trotse eienaar van drie perde, en hy werk dat dit klap vir sy gesin.