Die kind wat toe ‘n reus geword het…


Luna Paige met Nick Turner (links) en Jamie Jupiter (regs).

Korreltjie Kantel word net al groter, skryf Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG.

In 2015 was dit vyftig jaar sedert die digter Ingrid Jonker se tragiese dood. En as deel van RSG Kunstefees 2015 gee ek vir die vervaardiger en sangeres-liedjieskrywer Luna Paige opdrag om ‘n Jonker-produksie vir daardie jaar se op-die-lug-kunstefees te skep.

In daardie stadium kon ‘n mens seker sê dat die Jonker-huldigings en -toonsettings al ‘n versadigingspunt bereik het.

In my skrywe aan Luna vra ek egter dat sy (en ‘n span nuwe stemme) iets nuuts en vars skep en nie moet skroom om te eksperimenteer nie.

En so debuteer Korreltjie Kantel met Luna, Medicine Boy (Lucy Kruger & André Leo), Hatchetman, Nick Turner en Inge Beckmann toe op die Maandagaand van die radiofees met Johan Rademan as die regisseur.

Van die toonsettings sluit in “Offerande”, “Fragment”, “O, die Halfmaan” en “Gistraand”. Die opnames is van uitstaande gehalte en nie lank daarna nie word van die liedjies op RSG se speellys ingesluit.

Die produksie se bekoring strek egter veel wyer as net die eter en die daaropvolgende jaar word ‘n verhoogproduksie met Paige, Turner en Hatchetman tydens die Woordfees én KKNK op die planke gebring.

Die CD-omslag

Met RSG se hulp word daar in 2017 ‘n vollengte-album opgeneem met Paige, Turner en Jamie Jupiter wat op die album gehoor kan word. Die album word in verskeie teaters landwyd bekend gestel, asook tydens die Vrystaatse Kunstefees.

‘n Jaar later word die CD vir ‘n gesogte Suid-Afrikaanse Musiekprys (oftewel Sama) benoem in die kategorie vir beste Afrikaanse kontemporêre album.

En steeds is dit nie die einde nie! Die verhoogproduksie word verder uitgebrei met die akteurs Wessel Pretorius en Christine Truter – in die rolle van André P. Brink en Ingrid Jonker onderskeidelik – wat onder spelleiding van Mareli Pretorius opgevoer word. Dit reis van die Woord- en Kalfiefeeste ook na Aardklop en word tydens die Taalmaandvieringe by die Taalmonument in Paarl opgevoer.

En nou wink die buiteland. Korreltjie Kantel word Oktober vanjaar na Nederland en België geneem met optredes in onder andere Ghent, Leiden, Amsterdam, Utrecht, Delft en Bemmel.

As deel van ‘n veldtog om geld vir die oorsese reis in te samel, debuteer daar nou in Junie ‘n “Die Kind het ‘n Reus Geword”-tentoonstelling in die GUS-galery in Dorpstraat, Stellenbosch. Altesame tien visuele kunstenaars het nuwe werke geskep wat deur die Korreltjie kantel-CD geïnspireer is. Op 26 Julie word ‘n soortgelyke geleentheid in die Young Blood-galery in Breëstraat, Kaapstad, gehou.

Die kunstenaars is Louis Janse van Vuuren, Christiaan Diedericks, Marie Stander, Shany van den Berg, Antoinette Cloete Nel, Ruan Huisamen, Judy Woodborne, Hanneke Benade, Vernon Swart en Lisette Forsyth. Met ‘n skenking van R3 500 ontvang jy een van die afdrukke van die oorspronklike kunswerke.

Om op hoogte te bly van al die Korreltjie kantel-verwikkelinge, kan luisteraars by die Korreltjie Kantel-blad op Facebook aansluit. Daar is nou ook ‘n Thundafund-veldtog waardeur lede van die publiek die toer na Europa finansieel kan ondersteun. Of stuur ‘n e-pos na lunapaigemusic@gmail.com

Aanstaande jaar sal dit die vyfde jaar wees sedert Korreltjie kantel se magiese begin tydens RSG Kunstefees en dit blyk asof hierdie kreatiewe projek se gô nog lank nie uit is nie!