Stille Waters: Luister weer


Stille Waters oor ‘n moord en intriges op ‘n klein, windverwaaide dorpie, deur Anton Treurnich, word op 31 Oktober 20:00 uitgesaai. 

DIE STORIE

Die Karoo

Die luisteraar word ingenooi in die wêreld van ‘n klein dorpie in die Karoo. Die karakters lyk aanvanklik soos al die mense op ‘n klein dorpie wat mens sal gewaar by die kerk, of by die handelshuis, of in die straat. Dit word egter gou duidelik dat die intriges dieper loop as wat die oog kan sien en dat die verhoudings tussen al die karakters en veral een vrou op die dorp – Anna van Rooy – nie so eenvoudig is, of was, nie.

Anna van Rooy sterf en dit op sig self dompel nie die mense van die dorpie in rou nie. Sy was immers nie ‘n gewilde inwoner nie en het skynbaar oral waar sy gaan vyande gemaak. Dis wanneer die bewyse daarop dui dat sy nie dood is aan natuurlike oorsake nie, dat die inwoners van die dorpie in rep en roer is.

Almal word skielik verdagtes, want elkeen het ‘n verskuilde rede gehad om Anna te wou wegmaak. Frederick, die dominee, het geen geheim gemaak daarvan dat Anna hom grensloos irriteer nie. So ook nie Suné, die eienares van die handelshuis nie. Rowena, die politieke raadslid, en Anna het ook nie om dieselfde vuur gesit nie en Arend Onderstroom, die enigste nuwe inkommer, se motiewe kom ewe verdag voor. Niemand se verweer en verskonings hou water nie, behalwe dié van Sersant Ronnie Malan, wat nie verdink word van enige vuil spel nie en dan ook as selfaangestelde speurder aan die stuur van die ondersoek staan.

Dinge is nie altyd soos wat dit lyk nie …

DIE KARAKTERS

Frederick Blom (gespeel deur Chris van Niekerk)
Frederick is die dominee van die dorp en nie te ver van aftrede nie. Hy vertel vir almal op die dorp dat sy vrou tien jaar gelede oorlede is, maar sy het hom eintlik gelos vir die koorleier in sy vorige gemeente. Hy het sy oog op Anna van Rooy se huis, vir wanneer hy die pastorie moet verlaat, waar hy meer tyd kan bestee aan sy liefde vir rose.

Arend Onderstroom (gespeel deur Charlton George)
Arend is oud-lid van die Suid-Afrikaanse weermag. Hy is ‘n waterwyser. Hy gebruik wiggelary – die mikstok lei hom na die water toe. Hy is nie soseer ingestel op finansiële gewin as wat hy glo dat opoffering nodig is om die natuur se guns te wen nie.

Suné Landsberg (gespeel deur June van Merch)
Suné besit die handelshuis op die dorp. Sy het altyd ‘n oop hand en hart vir mense wat probleme het. Sy het grootgeword in die Barberton-distrik en kom uit ‘n arm mynwerkersgesin. Sy is na Standerd 7 uit die skool en het by ‘n bordeel begin werk waar die myners haar begin vertrou het met hul gesmokkelde diamante. Sy het haar donker verlede probeer afsweer toe sy na die dorpie toe getrek het.

Rowena Libbok (gespeel deur Martelize Kolver)
Rowena is die politieke raadslid van die distriksmunisipaliteit. Sy het haar vingers in planne vir ‘n skaliegasprojek naby die dorp. Haar kinders is in ‘n privaatskool.

Ronnie Malan (gespeel deur De Klerk Oelofse)
Ronnie is in sy twintigs en onlangs aangestel as die polisiesersant op die dorp. Hy kom effe bot oor en is emosioneel aan die afgestompte kant.

Die geselskap van Stille Waters v.l.n.r. Chris van Niekerk, De Klerk Oelofse, Frieda van den Heever, Martelize Kolver, Charlton George en June van Merch.

Cassi Lowers, ons tegniese en akoestiese towenaar, se tradisionele selfie, saam met die akteurs. Agter v.l.n.r. Chris van Niekerk, Frieda van den Heever, Martelize Kolver, Charlton George en June van Merch. Middel: De Klerk Oelofse.

REGISSEURSNOTA

Frieda van den Heever

Om ‘n radiodrama of enigiets wat Anton Treurnich skryf te kan aanpak, is ‘n voorreg. Om met akteurs van hierdie kaliber te werk, ‘n eer en ‘n leerskool.

Elkeen van die akteurs het ook ervaring van leef in ‘n klein dorpie. Die kompleksiteit en omvang van verhoudings en netwerke tussen mense is soms veel groter as in stede en die implikasies strek veel dieper.

Om die atmosfeer van hierdie dorpie wat op ‘n kol in die drama beskryf word as “afgeleef, droog en windverwaai” en soos iets uit ‘n Spaghetti Western te skep, was dus die grootste deel van ons werk.

Om die moedeloosheid en byna fatalistiese kollektiewe gemoed van die dorpie in die motiewe, stemgebruik, handeling en agtergrondmusiek te impliseer, is waar my en Cassi, ons tegniese ekspert, en die akteurs se fokus geval het.

Frieda van den Heever

DIE SKRYWER

Anton Treurnich

Anton Treurnich is ‘n storieverteller van formaat – akteur, aanbieder en skrywer en veral bekend vir draaiboeke van onder meer Die Byl en Die Ontwaking. RSG-luisteraars sal hom veral ken vir sy boeiende middagvervolgverhale wat oor die afgelope dekade of wat al op lug gehoor kon word.

Anton woon al vir ‘n paar jaar in George saam met sy gesin waar hulle steeds betrokke is by teaterwerk.

FOTO’S

“Haal daai kamera uit my gesig uit, dis nie televisie nie, dis radio!” June van Merch en Martelize Kolver.

Die dorpenaars klets. Martelize Kolver, Charlton George, June van Merch en Chris van Niekerk.