Luister weer: Wilhelm Tell


Die appel, die kruisboog, die pa en die arme seun

In die ou Germaanse sages word die verhaal van die Switserse baasskut Wilhelm Tell, wat met sy pyl en boog ‘n appel van sy seun se kop moes afskiet, al deur die eeue heen oorvertel.

Op Donderdag 9 Mei om 20:00 in Radioteater kan die argiefdrama Wilhelm Tell uit die pen van die Duitse dramaturg Friedrich von Schiller gehoor word. Schiller sou vanjaar 260 jaar oud gewees het.

In Schiller se drama, wat deur D.F. Malherbe in Afrikaans vertaal is, is Tell die held wat eers sy pad alleen na vryheid wil oopskiet maar later die vryheid van sy hele volk help wen.

Die sterbelaaide rolverdeling onder spelleiding van wyle Jacques Loots (van Koöperasiestories-faam) sluit in Patrick Mynhardt, Emgee Pretorius, Gerhard Viviers, Kosie Eloff, Tromp Terre’Blanche, Danie Joubert, Johannes Conradie, Nic Swanepoel, Christelle Human, Willem van der Berg, Isobel Terre’Blanche, Francois de Bruyn en Pieter Hauptfleisch.

DIE STORIE

Wilhelm Tell is in 1804 geskryf, maar speel in die dertiende eeu af. Die goewerneur Gessler se perderuiters jaag ‘n boer tot in die meer, maar die baasskut Wilhelm Tell probeer die man red. Dit lei tot ‘n onderonsie tussen hom en die goewerneur.

Die boere, jagters en vissers is eenvoudige, godvresende mense wat glo dat elkeen sy menseregte uit die Hand van die Skepper ontvang. Geen keiser of koning kan hulle hul vryheid skenk nie.

Tell word deur die goewerneur uitgedaag en gevra om ‘n appel van sy seun se kop af te skiet. As Tell nie daarin slaag nie, sal sy eie kop moet rol.

Hoewel die drama in die era van die Nazi-regime opgevoer is, is dit in 1941 in Nazi-Duitsland verbied. Adolf Hitler het ‘n sluipmoordaanval op hom deur ‘n jong Switserse man (later die “jong Wilhelm Tell” genoem) oorleef en later gesê hy is spyt dat Schiller die Switserse baasskut in ‘n drama moes verewig.

DIE REGISSEUR

Die akteur Jacques Loots (wat op 3 Oktober 1991 oorlede is) was veral geliefd by TV-kykers vir sy rol as Genis in PG du Plessis se Koöperasiestories. Buiten dat hy ook te sien was as die Oupa in Orkney snork nie, was hy ‘n gepubliseerde digter.

Hy het al op sewejarige ouderdom begin toneel speel in Koster in Noordwes, waar hy grootgeword het.

Loots was ‘n emfiseemlyer en is in sy huis in Bethulie in sy slaap oorlede.

DIE SKRYWER

Friedrich Schiller

Johann Christoph Friedrich von Schiller (10 November 1759 tot 9 Mei 1805) was ‘n Duitse digter, filosoof, geskiedkundige en dramaturg.

In die laaste sewentien jaar van sy lewe het hy met die invloedryke Johann Wolfgang von Goethe bevriend geraak. Goethe het ook die regie van die heel eerste opvoering van Wilhelm Tell behartig. Hulle het ook saamgewerk aan ‘n bloemlesing met kort, satiriese verse.

Hoewel Wilhelm Tell in Switserland afspeel, het Schiller die land nooit besoek nie. Hy het op vertellinge deur Goethe (wat al in Switserland was) en navorsing oor die land en sy mense staatgemaak.

Schiller is ook bekend om sy drama Maria Stuart wat deur die romansier Karel Schoeman in Afrikaans vertaal is.

Lees hier meer oor die ander dramas wat die res van die dramaseisoen te hoor is.