Afkoeling: donker komedie vol kinkels


AFKOELING deur Martyn le Roux. Luister Donderdag 13 Junie om 20:00 in Radioteater

Die bekroonde radiodramaturg Martyn le Roux – bekend om RSG-radiodramas soos Bloedlyn, Dagboek van ‘n wurm en verlede jaar se Hittegolf – is terug met nog ‘n donker komedie propvol kinkels.

DIE STORIE

Dit is steeds snikheet in die Kaap en die Vermaak-gesin is in ‘n doodloopstraat. Amanda is in matriek, sy verwag ‘n baba en is uit die skool geskors. ‘n Dwelmbaas is op die gesin se spoor en soek die boks met sy “ware”. Arme Danie se studies is opgeskort en hy sit sonder werk. Boonop het ma Linda én ouma hul laaste bietjie geld uitgedobbel.

Maar wat het van Pa Fanus geword? En wat was daardie skoot wat in die waenhuis geklap het? Het die kefferbrak Elvis toe gesneuwel?

Die spelers is James Borthwick, Franci Swanepoel, Elize Cawood, Mandi Baard, Kaz McFadden, Denver Vraagom en Duncan Johnson. Die regisseur is Kobus Burger.

Luister hier na ‘n klankgreep:

Regisseursvisie deur Kobus Burger

Kobus Burger

Martyn le Roux is ‘n gedugte en verbeeldingryke radioskrywer. En as ‘n mens ‘n teks van hom optel, is dit die speelbare radio-dialoog en die kleurryke karakters wat dadelik opval.

Verlede jaar het RSG sy komiese radiodrama Hittegolf uitgesaai. Dit was een van die jaar se gewildste uitsendings. En die Vermaak-gesin met die hardhorende Ouma, die bure se keffende brak Elvis asook die malligheid wat die hitte veroorsaak, het vir talle pryslose momente gesorg.

Afkoeling is die opvolg en as ‘t ware die afsluiting van al die intriges wat Le Roux in sy eerste drama losgetorring het.

‘n Mens wil nie te veel oor die storie verklap nie, want die drama begin reeds met ‘n belangrike ontknoping.

Buiten die Vermaak-gesin is daar nou ook twee nuwe karakters wat sorg vir bykomende vet in die vuur. En dis nodeloos om te sê: dit is steeds snikheet en almal se koppe raas so ‘n bietjie.

Afkoeling kan heeltemal op sy eie bene staan. En sou ‘n luisteraar dalk nie na Hittegolf geluister het nie, sal daar ‘n kort terugflits wees was konteks bied aan waar die gesin hulle bevind. [Andersins, klik hier vir meer inligting en die potgooi van Hittegolf voor jy op Donderdag 13 Junie om 20:00 vir Afkoeling regskuif.]

Ek was bevoorreg om met ‘n uitmuntende span spelers te werk. James Borthwick is tans in ‘n internasionale produksie van Phantom of the Opera te sien. Hy was vir ‘n paar dae tuis tydens ‘n kort vakansie weg van die musiekspelverhoog. En dis toe wat ons al die spelers saam in die ateljee kon kry.

DIE SKRYWER – Martyn le Roux

Martyn le Roux

In 1982 verwerf Martyn le Roux ‘n BA-graad in drama en toneelkunde aan Kovsies.

In die jare daarna is hy intensief betrokke by verhoogproduksies as speler en/of regisseur. Hy dien ook in die dagbestuur van Radio Kampus en word daar as hoofomroeper aangestel. Hy is vir vir drie jaar lank omroeper by Radio Kampus.

In die jare tagitg het hy sy eie teatergroep in Oos-Londen en voer ‘n hele aantal Afrikaanse en Engelse toneelstukke op.

In 1989 verhuis hy na die Boland, vestig hom in Wellington en bedryf daar sy eie fotografie-ateljee. Hy verhuis later na Paarl en raak weer by die onderwys betrokke.

Hy werk ook vir ‘n aantal jare as joernalis en fotograaf by Paarl Post en ontdek hier sy talent vir skryf en veral kreatiewe skryfwerk. Hy begin skryf stories en draaiboeke, maar net vir die plesier daarvan.

In 2014 neem hy deel aan RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie met die teks Bloedlyn (met spelleiding deur Renske Jacobs). Dit is ‘n weerwolfriller wat in 2016 met ‘n ATKV Mediaveertjie vir beste radiodramateks bekroon word. Die jaar daarna word dit tydens die Liberty-radiopryse bekroon as Beste Dramaprogram.

Le Roux volg Bloedlyn op met Dagboek van ‘n wurm, wat vir vier ATKV Mediaveertjies benoem word – beste teks, beste regisseur, beste akteur en beste aktrise. Dit wen drie van die vier benoemings – beste teks (Le Roux), beste regie (Renske Jacobs) en beste akteur (Paul Luckhoff).

Hittegolf, wat onder die spelleiding van Anrich Herbst opgevoer is, is vroeër vanjaar vir ‘n ATKV Mediaveertjie benoem as beste teks. Die kunsjoernalis Robyn Sassen het dit beskryf as ‘n “beautifully crafted work”.

DIE ROLVERDELING

Die Afkoeling-rolverdeling. Agter van links is Kobus Burger (regisseur), Mandi Baard, Duncan Johnson, Elize Cawood, Franci Swanepoel en Kaz McFadden. Voor staan Denver Vraagom en James Borthwick. Foto: Mandi Baard

FANUS VERMAAK – JAMES BORTHWICK
LINDA VERMAAK – FRANCI SWANEPOEL
AMANDA VERMAAK – MANDI BAARD
OUMA – ELIZE CAWOOD
DANIE VERMAAK – KAZ MCFADDEN
DE LANGE – DUNCAN JOHNSON
DASSIE – DENVER VRAAGOM

Tegniese versorging

Die tegniese en akoestiese versorging is deur Bongiwe Thomas, Patrick Monana, Neria Mokoena en Johann Pieterse.

Musiek

Die klankbaan bevat musiek deur Pink Floyd, Sia, Craig Armstrong, Nina Simone asook Santa Esmeralda (met Leroy Gomez).

Die akteur Kaz McFadden sê hy versier sy tekste terwyl hy vir ‘n produksie voorberei. Hier is die voorblad van Kaz se teks nadat hy daarmee klaar is.

Kobus Burger (regisseur) en Denver Vraagom wat die rol van Dassie in Afkoeling vertolk. Foto: Mandi Baard

James Borthwick, Franci Swanepoel, Elize Cawood (met haar rug na die kamera) en Kaz McFadden in die voorgrond tydens die opname van “Afkoeling” deur Martyn le Roux. Foto: Mandi Baard