Die poppe dans (amper)


Die bekroonde radioskrywer William Oosthuizen se Doller as kopaf is ‘n situasiekomedie met klugtige momente. Dit het op Donderdag 21 November in Radioteater gedebuteer met onder andere Louis van Niekerk en Elize Cawood in die rolverdeling.

DIE STORIE

Freek is verveeld in die tehuis waar hy woon en besluit om vir hom ‘n “speelding” te bestel, al twyfel sy vriende Dawid en Hardus oor dié waagstuk. Dit maak veral vir die kuise Mara die josie in en sy en die ander vroue probeer hul bes om die stukkie tegnologie te saboteer. Terwyl hulle reken Freek is besig om “kêns” te word, beraam hy ‘n plan wat Mara heeltemal onkant betrap. ‘n Vrolike, vermaaklike komedie propvol kinkels.

Luister na ‘n klankgreep uit die drama:

Die sterbelaaide rolverdeling bestaan uit Louis van Niekerk, Tobie Cronjé, Paul Lückhoff, Rina Nienaber, Ria Smit, Elize Cawood, Rika Sennett en Heidi Mollentze.

Kom vergeet jou sorge saam met dié knap span spelers wat die koppe gaan laat rol…

Die regisseur is Kobus Burger. Die tegniese en akoestiese versorging is deur Bongiwe Thomas en Evert Snyman junior.

“Doller as kopaf” was ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2018.

Luister na die volledige drama:

DIE REGISSEUR, KOBUS BURGER, SKRYF…

Kobus Burger

William Oosthuizen

William Oosthuizen is waarskynlik een van die mees veelsydige radioskrywers. Van sy hartverskeurende Ons gaan huis toe, wat sowat ses jaar gelede die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie gewen het; tot die moordraaiseldrama Die voëlhok wat verlede jaar uitgesaai is. Sy jongste drama, Doller as kopaf, is ‘n ligte komedie vol klugtige momente, en dit bied ‘n string kostelike karakters wat vir enige akteur ‘n plesier is. En soos een van die akteurs opgemerk het, die keurigste taal!

Dit was daarom vet pret om hierdie poppe-gaan-dans-drama op te neem en selfs vir Marilyn Monroe ‘n kans te gee om vir Freek en Fifi op te kikker! Doller as kopaf gaan die luisteraar vir ‘n uur of wat van sy of haar sorge laat vergeet met goedige situasiekomedie wat tog ook die onskuld van liefde besing.

DIE KARAKTERS

Elize Cawood en Tobie Cronjé. (Foto’s deur Heidi Mollentze)

Freek is verveeld met die lewe. Hy soek ‘n bietjie opwinding. Vertolk deur Paul Lückhoff.

Hardus is Freek se lojale vriend. Hy is ‘n wewenaar maar sterk vir Freek in sy kwaad. Vertolk deur Tobie Cronjé.

Dawid is getroud met Mara en gaan gebuk onder al haar opdragte. Vertolk deur Louis van Niekerk.

Mara steek haar neus in almal se sake. Sy sou maklik die Matrone kon wees. Sy glo sy is nog jonk en hopeloos té vroeg na die tehuis gestuur. Vertolk deur Ria Smit.

Ria Smit as Mara, en Heidi Mollentze as Fifi… en later ook Matrone

Leah is ‘n sagte mens en oujongnooi. Sy moet ook maar later net die opdragte uitvoer… Vertolk deur Rika Sennett.

Ta Betsie is seniel en effe doof. Sy mis elke keer die punt. Vertolk deur Elize Cawood.

Johanna is Mara se vriendin en verlang ook soms, net soms, na ‘n bietjie opwinding. Later word sy ‘n fluitjieblaser… Vertolk deur Rina Nienaber.

Louis van Niekerk, Paul Lückhoff en Tobie Cronjé met Heidi Mollentze in die voorgrond

Fifi is ‘n prikkelpop en amper-amper ‘n mens. Sy is die oorsaak van al die konsternasie. Vertolk deur Heidi Mollentze.

 

 

Ons sal moet kophou… voorbereiding voor die opname van Doller as kopaf.