‘Die Selle’ = heerlike klug met wetenskapfiksie-krulstertjie


Die Selle is ‘n klug met ‘n wetenskapfiksie-(krul)stertjie.

Dis Herman Cronje se debuut-radiodrama. Hy het die tweede plek daarmee behaal in die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2018.

Die Selle is Donderdagaand 18 April 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai, met spelleiding deur Renske Jacobs.

Die storie in ‘n neutedop

’n Welgestelde, spoggerige vrou kom te hore van ’n rewolusionêre prosedure waarvolgens die kloning van ’n mens vervolmaak is deur varke te transmuteer om uiteindelik die voorkoms en persoonlikheid van ’n gasheermens aan te neem. Sy is ongelukkig getroud met ‘n bombastiese narsis en besluit om die nuwe prosedure (sonder haar man se medewete) op die proef te stel….

Die twee kort klankuittreksels gee jou ‘n proesel van wat op jou wag:

 

Luister na die volledige drama:

Die inspirasie

Varkman of manvark?

Die tempo van vooruitgang in mediese tegnologie laat almal na hul asem snak.  Mense wat tot 200 jaar oud sal word, is reeds gebore. Navorsing in orgaan-kweking in ‘n gasheer organisme is ver gevorderd.  Dié tegnologie maak dit moontlik om menslike organe in varke se liggame te kweek, in plaas van om lank te wag vir ‘n orgaanskenker.  Alhoewel die vooruitgang fantastiese nuus is, wakker dit ook talle etiese vrae aan.

Maar dit is nie die enigste ontwikkeling wat ons in die laaste 100-jaar gesien het nie.  Feminisme het die vrou bevry soos nog nooit tevore nie.  Die man dra nie noodwendig meer die broek nie.  In sekere kringe is daar selfs fluisteringe dat sommige feministe hul sienings dalk te ver vat…

En hier lê die inspirasie vir die storie: Wat gebeur as ‘n ekstreme feminis die hoof is van ‘n mediese maatskappy wat menslike organe in varke kweek?  Wat gebeur as hulle al meer en meer menslike organe in ‘n vark kweek?  Wanneer klassifiseer die vark as ‘n mens?  En wanneer is die man nie meer ‘n vark in die oë van ‘n ekstreme feminis nie?

‘Die Selle’ ondersoek die reaksie van gewone boeremense wanneer hul rustige plaaslewe direk bots met die wêreld van genetiese modifikasie in die hande van ‘n ekstreme feminis.

Is ‘n varkman en ‘n manvark dieselfde?  Of is dit net die selle?

Die skrywer

Herman Cronje, die skrywer

Herman Cronjé is gebore en getoë aan die voet van die pragtige Platberg in Harrismith.  Hy het op ‘n plaas groot geword en later jare ingetrek dorp toe. Herman is die agterkleinkind van Emma DM Venter, skrywer van onder andere “En toe daar vrede kom” en “Ou Kamferboom” wat deur Unie-Volkspers in die vroeë veertigs gepubliseer is.

Van 5-jarige ouderdom af was dit duidelik dat Herman sy oumagrootjie se liefde vir skryf geërf het.  Sy oom, wyle Rocco van Pletzen, oud-leraar aan die Universiteit van die Vrystaat, het vir hom ‘n tikmasjien as geskenk gegee kort voor hy graad een toe is.  Daar is net een voorwaarde gestel – die tikmasjien moes stories skryf.

Die een na die ander storie het uit die tikmasjien gevloei en Herman se liefde vir skryf het in ‘n skrywersdroom verander.  Na skool het hy siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy sy liefde vir skryf in talle gedigte uitgeleef het.

Op 32-jarige ouderdom verhuis hy na die mooie Kaapstad.  Met die trek, ontdek hy weer sy tikmasjien.  Die droë lint is vervang en hy begin toe dadelik aan sy debuut-radiodrama skryf….

Volgens Herman word hy snags wakker met idees vir ‘n volgende storie en maak dadelik notas daarvan.  Hy glo vas sy kreatiefste idees kom uit sy onderbewussyn.

Regisseursnota

Renske Jacobs, die regisseur

Dit was ‘n plesier om met ‘n komiese teks te kon werk. Ek het lanklaas so lekker gelag tydens ‘n produksieproses. Herman Cronje se dialoog vloei moeiteloos sonder dat ‘n mens ooit voel dis geforseerd.

Tydens die versorging van die teks en die opname, was tydsberekening die belangrikste element wat ek in gedagte moes hou. Wanneer dit kom by komedie en veral klug (wat baie fisies is) kan tydsberekening ‘n produksie maak, of breek.

Komiese tydsberekening is nie iets wat jy sommer aanleer nie. Jy word daarmee gebore. Dis hoekom een ou n storie sal vertel en niemand sal dit snaaks vind nie, maar wanneer die gelukkige mens wat met komiese tydsberekening gebore is dieselfde storie vertel, loop die trane van die lag!

Dit was dus uiters belangrik om die regte akteurs in die rolle te plaas – hulle moes gesout wees en radio as medium goed ken en n fyn aanvoeling he vir tydsberekening.

Die sukses van die byklanke het net soveel van tydsberekening afgehang. Dit moes op presies die regte plek geplaas word om by te dra tot die ritme en vloei van die stuk. Soms is dit amper stylisties, wat die surrealisme van die storie beklemtoon. Alles moes egter uiteindelik n eenheid vorm sodat die luisteraar dit kan waardeer vir wat dit is:

Die rolverdeling

Paul Luckoff

BERTUS SLABBERT Paul Luckhoff

Vriendelike, plat-op-die-aarde boere-oom.
Effe onder pantoffel regering.
Betsie se man.

Ria Smit

BETSIE SLABBERTRia Smit

Effe dominerende, dog vriendelike boeretannie.
Bertus se vrou.

Karen Wessels

MAGDA RETIEFKaren Wessels

Bertus se pedantiese laatlam sussie.
Ryk, snobisties en beterweterige stadsvrou – oorspronklik van die platteland.
Deon se vrou.

Jacques Botes (Deon Retief)

DEON RETIEF – Jacques Botes

Bombastiese narsis. Suksesvolle besigheidsman.
Magda se man.

Eloise Cupido (Dr Pietersen)

DR PIETERSENEloise Cupido

Vurige feminis.
Hoof wetenskaplike by Tweekor.

Francois Stemmet

DOMINEEFrancois Stemmet

Konserwatief en hoogdrawend.
Die enigste dominee in die kontrei.

Johny Klein

EDDIEJohny Klein

Die Slabberts se bekkige plaashulp.

 

Die Selle se rolverdeling – Karen Wessels (Magda) Johny Klein (Eddie) Ria Smit (Bets) Jacques Botes (Deon) Paul Luckhoff (Bertus) Francois Stemmet (Dominee)

Paul Luckhoff (Bertus Slabbert)

Ria Smit (Bets Slabbert)

Karen Wessels (Magda Retief)

Francois Stemmet (Dominee)

Johny Klein (Eddie)

In die tegniese hokkie – Olebogeng Monana (byklanke) Renske Jacobs (regie) Bongiwe Thomas (redigering)