Luister weer: Army-drama uit 80’s


‘n Hele kaserne vol akteurs vat jou terug na die verpligte 2-jaar dienspligtydperk in die laat 70’er en 80’er jare in Suid-Afrika. Agter(v.l.n.r) Cassy Lowers (tegnies), André Terblanche (Jaws), Conradie van Heerden (Donsie), Jacques Bessinger (Speknek). Voor is Anrich Herbst (Kpl Lemmer), Wessel Pretorius( Murray), DeKlerk Oelofse (Stadler) en Johan Rademan (RSG-regisseur).

Die joernaliste Heléne en Bun Booyens het saam geskryf aan Korporaal Lemmer en die rowers.

Luister op 28 November om 20:00 na dié drama oor die Army.

‘n Vyftal jong manne oftewel skoolverlaters word aan die naakte werklikheid van nasionale diensplig tydens die apartheidsjare onderwerp in ‘n uiters getroue weergawe van dít wat soveel jong mans veral in die jare 70 en 80 in die gesig gestaar het.

Jy ontvang jou oproepinstruksies om as voyeur saam met die rowers in te val wat aanmeld in die weermagkaserne. ‘n Briljante teks deur die pa en dogter Booyenskombinasie wat jou met deernis, nostalgie en soms afgryse sal vervul. Die sluier op lewe in die sewentiger- en tagtigerjare van nasionale dienspligtiges word gelig op ‘n manier wat weergaloos is. Elke karakter wat geskep is vir hierdie verbeelde wereld word voortreflik uitgevoer deur ‘n stewige span akteurs soos Gerard Rudolf, Anrich Herbst, Leon Kruger, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, André Terblanche, Conradie van Heerden en Jacques Bessinger. Regisseur Johan Rademan neem die vierde muur as’t ware weg met sy styl van regie, en maak jou deel as voyeur in die intieme omgewing van die jong weermagrekrute.

Jong SA soldate in die destydse bosoorlog

In die Bos oorlog

Spanwerk met regie deur Johan Rademan, tegniese versorging deur Cassi Lowers en spel deur Gerard Rudolf (die verteller).

 

 

Anrich Herbst (Kpl Lemmer) luister aandagtig na ‘n paar instruksies van Johan Rademan (RSG-regisseur) voordat hy die troepe laat aantree.