Luister weer: die komiese drama, Erfporsie


Donderdagaand 6 Junie om 20:00 kan jy in RSG se Radioteater luister na Ronel Mostert se drama vir smulpape, Erfporsie, met Roeline Daneel in die hoofrol. Die skrywer Ronel Mostert se vorige RSG radiodramas was die gewilde Bosluisie en daarna Spieëlbeeld.

 Lilian is ‘n bobaas sjef wat oorreed word om haar suksesvolle bistro te verruil vir ‘n posisie by ‘n gastehuis op ‘n spoggerige wynplaas. Gou blyk dit ‘n positiewe verandering te wees as sy nuwe hoogtes bereik met haar verruklike geregte… Maar is alles so idillies as wat dit voorkom?

In die rolverdeling is daar ook Dean Balie, André Weideman, Elsabé Daneel, Nic de Jager, asook Leon Kruger en Margit Meyer-Rödenbeck.

Die regisseur is Amor Tredoux.

Erfporsie is Donderdagaand 6 Junie om 20:00 uitgesaai.

Klik hier om te sien watter dramas is te hoor in die res van die seisoen.

Die regisseur Amor Tredoux skryf:

Amor Tredoux

En hier het ek weer ‘n eerste.

In ‘n loopbaan wat strek oor meer as vier dekades, het ek gereeld my draai agter die mikrofoon gemaak in produksies soos Mannheim Sage en Wolwedans in die Skemer, en meer onlangs, Laat Vrugte en die huidige RSG-middagstorie Stoom. Maar op Donderdag 6 Junie om 20:00 maak ek my buiging duskant die glas as regisseur, met Ronel Mostert se Erfporsie.

Mens is nooit te oud om te leer nie. En léér het ek geleer…

By my mede-regisseurs… engele met spierwit rein harte wat my goedgunstiglik deur ‘n doolhof van administrasie gelei het.

By Seepunt se SABC personeel in die algemeen, en Arehan Brand in besonder… nog ‘n engel met spierwit tekkies… wat my met volksvreemde goed soos ‘publishing’ gehelp het – dis nou techno-speak vir die opgeneemde produksie in Johannesburg kry dat die ding uitgesaai kan word.

En dan was daar die formidabele Cassi Lowers, wat verantwoordelik was vir die tegniese versorging van Erfporsie. Sy het my hand gevat en gelei as my broek gebewe het.

Ek het van meet af besef ek moet, as rookie regisseur, my omring met die bestes om die saak te laat slaag.  Cassi het in my skoot geval. Ons Kaapse radiodrama is geseënd met haar wat al ons opnames tegnies behartig. Sy is ‘n vakkundige met ‘n paar fyn ore en aanvoeling vir die waarheid. Veral as dit by perspektiewe kom. As dit nie reg is nie, tuimel die gehoorbeeld wat in die luisteraar se verbeelding posvat, inmekaar.

Erfporsie is baie visueel geskryf, en was nogal ‘n uitdaging op daardie gebied. By opname moes ons dikwels die teenoorgestelde nader- en wegdowery doen as wat logies sou voorkom, om die korrekte illusie te skep.

Dan was daar die gedugte span spelers.

Van links na regs is Margit Meyer-Rödenbeck, Amor Tredoux (regisseur), Roeline Daneel, Leon Kruger, Elsabé Daneel, André Weideman. Heel bo is Dean Balie en heel onder buig Nic de Jager die knie. (Foto: Nic de Jager)

As jou rolverdeling reg is, kry die stuk vanself lewe. ‘n Magiese proses.

Ek het Roeline Daneel, een van ons talentvolste radiospelers, nadergehark vir die hoofrol, Lilian, en onthou sy het ‘n ma.

Elsabé was heel opgewonde om ‘n mikrofoon te deel met haar spruit, en so het sy aan boord gekom as die sjarmante Rina in Erfporsie.

Haar korrelkop man, Org, is gespeel deur die man met die fluweelstem, Nic de Jager. Hy het ook gesorg vir ateljee grappies om die moraal hoog te hou.

Veelsydige Dean Balie bring humor en warmte aan die rol van Wim. Mens kan nie anders as om hom lief te hê nie.

Margit Meyer-Rödenbeck is nog ‘n geliefde aktrise wat lanklaas ‘n draai kom maak het by die mikrofoon. Sy sorg vir die sports… maar laat ek nie my mond verbypraat nie.

Leon Kruger, ondanks slapelose nagte weens ‘n nuwe baba in die huis, en André Weideman, wat uit ‘n griepbed opgestaan het vir opnamedag, bring waarde aan die produksie as die broers Louis en Darius, die romantiese helde in die storie – of nie?

Die teks het hom geleen tot gebruik van musiek vir bou van atmosfeer en spanning. Die klankbaan van die rolprent, The Importance of being Earnest, met musiek deur Charlie Mole, was vir my ‘n inspirasie en ek het kwistelik daarvan gebruik gemaak om Erfporsie ‘n lekkerluister-ervaring te maak.

Ek hoop luisteraars geniet Erfporsie soveel as wat ek dit geniet het om daaraan te werk!

Hier is ‘n greep uit die klankbaan deur Charlie Mole: