Luister weer: ‘Grootpad na Kleinkop’


Die Vrystaat

Grootpad na Kleinkop, ‘n spanningsdrama deur Lee Doubell – ‘n voormalige wenner van die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie – word Donderdag 07 November om 20:00 uitgesaai.

Grootpad na Kleinkop is Lee Doubell se puik spanningsdrama wat handel oor ‘n bejaarde egpaar, Gawie en Susan, wat op hul plaas deur rowers aangeval en oorrompel word. Beleef saam met hulle hul senutergende ervaring en identifiseer met hul emosies van skok, vrees, paniek, magteloosheid, geloof en hoop in ‘n situasie wat te dikwels landwyd in Suid Afrika ervaar word.

Die rolverdeling sluit in Anton Dekker, Elize Cawood, Cindy Swanepoel, David Louw en Patrick Monana.  Grootpad na Kleinkop is opgeneem in Johannesburg onder spelleiding van Duncan Johnson.

LUISTER NA ‘n KLANKGREEP UIT DIE DRAMA:

Die bejaarde paar, Gawie en Susan, word op hul plaas oorrompel en in die kattebak van hulle motor geboender. In hierdie beknopte ruimte na wie-weet-waar word hulle met hulle eie verhoudings en sterflikheid gekonfronteer. Al is dit ‘n traumatiese belewenis, bied Doubell se verhaal ook helende salf.

Regisseur Duncan Johnson skryf:

Duncan Johnson

Lee Doubell het ‘n baie goeie en slim teks, gelaai met spanning, geskryf. Die onderwerp vir die drama is iets wat ons te gereeld in ons land ervaar. Net die aanhoor of noem van die onderwerp ontlok diep emosies by die luisteraar. En om dan hierdie situasie waarin die bejaarde egpaar hulle bevind, te gebruik om die egpaar se verhouding onder die vergrootglas te plaas, is ‘n briljante idee.

Om al hierdie redes wou ek niks aan Lee Doubell se teks verander nie. Al wat ek as regisseur kon doen, was om die akteurs die vryheid te gun om uiting aan hul talent te gee en die storie so eerlik moontlik te hou.

Die spelers

Elize Cawood

Anton Dekker

Die bejaarde egpaar word gespeel deur Anton Dekker en Elize Cawood.

Cindy Swanepoel

David Louw

Die ander spelers is Cindy Swanepoel en David Louw en Patrick Monana.

 

Cindy Swanepoel

Cindy Swanepoel en David Louw

Anton Dekker en Elize Cawood.