Luister weer: Kulkiekies


KULKIEKIES, ‘n drama deur Deon Johnston oor  gevare van sosiale media, word op Donderdag 12 Desember om 20:00 op RSG uitgesaai. Christelle Webb-Joubert is die regisseur.

Die storie

Hannes, is glad nie beïndruk met sy ma se alewige foto’s van hom op haar Facebook bladsy nie. Om die waarheid te sê, hy pes dit! Een aand is daar huismoles by die bure en Hannes verfilm die hele petalje met sy selfoon en plaas dit op sy eie sosiale media. Waar trek mens die streep met foto’s en video’s van jou kinders (en jou bure) op sosiale media. Wanneer word menseregte aangetas of jou reg op privaatheid? Dikwels kan onskuldige handelinge lei tot groot tragedies.

SKRYWERSNOTA – Deon Johnston

Deon Johnston

Nie lank na die ark toentertyd op die rotse geloop het, begin my loopbaan by die destydse TRUK in die Staatsteater as n verhoogbestuurder vir die Afrikaanse Drama Departement. In 1991 skryf ek my eerste verhoogdrama, SIRKOLOGIE,  en dié word daardie jaar aangewys as die beste Afrikaanse produksie by die Windybrow Kunstefees in Johannesburg. ʼn Paar kleiner verhoogdrama’s volg, maar dis die opspraakwekkende en hoogs omstrede MET ʼn OMPAD HUIS TOE in 2004 wat mense laat regop sit het.

In 2016 skryf ek my eerste volwaardige radiodrama. SKINK VIR MY N WHISKY is daardie jaar ʼn finalis in die RSG / SANLAM radiodrama-skryfkompetisie en is in 2018 uitgesaai. KULKIEKIES is dus my tweede radiodrama vir RSG en is inderwaarheid by die 2017 RSG /Sanlam radiodrama-skryfkompetisie se slypskool gebore.

Vir toelating tot die slypskool daardie jaar moes deelnemers vooraf ʼn werkstuk inhandig wat dan uiteindelik jou toelating tot die slypskool was. Die opdrag was, skryf ʼn kort dramatiese toneel tussen ʼn ouer en ʼn kind oor die gebruik van selfone aan die etenstafel. Beide Kobus Burger en Leon van Nierop het baie gunstige kommentaar gelewer op my werkstuk, en dis waar KULKIEKIES die lig gesien het.

REGISSEURSNOTA – Christelle Webb-Joubert

Ek is daagliks bewus van die gevare van sosiale media, en juis daarom was ek opgewonde oor die teks. My hoop is dat ouers nie net hulle kinders aan hulle eie lot sal oorlaat nie. Weet wat aangaan op jou kind se foon. Maak tyd om met jou kind te gesels. Jy as ouer het egter ook ‘n verantwoordelikheid om ‘n goeie voorbeeld te stel. As jou lewe om jou foon en sosiale media draai, kan jy nie jou kind kwalik neem as hy of sy jou voorbeeld volg nie.

KULKIEKIES is besonders klankryk. Soms vertel net klank die storie. Dit was ‘n tegniese uitdaging, maar met Bongi Thomas en Evert Snyman aan my sy, kon ons prentjies met klank skep soos nog nooit tevore.

AKTEURS

LINDA – Carmin Coetzer (kyk video hieronder)

HANNES – Brandon Eloff

OUPA – Tobie Cronje

CHRISTINE – Michelle Botha

JORRIE – Stefan Vermaak

DEAN – Richard van der Westhuizen