Luister weer: Man op die Maan


Helena Mellett se liefdesverhaal Man op die maan (19 Desember) word deur die akteur-regisseur Anrich Herbst opgevoer.

RSG RADIOTEATER – MAN OP DIE MAAN

Skrywer: Helena Mellet

Uitsending 19 Desember 2019

Die storie

Op ‘n plaas op die kaapse platteland boer ‘n man (Charl) en sy een dogter (Carli) met ‘n klomp beeste. Die ander dogter (Bella) is die eienaar van ‘n gallery op Stellenbosch, en kom kuier bietjie vir ‘n naweek op die familieplaas. Mina, die plaashuis se huishoudster en Bella deel ‘n geheim oor die “man op die maan” – een wat hulle met niemand deel nie, tot iets gebeur wat almal tot in hulle fondamente skok.

Intussen het Carli ‘n ogie op die nuwe veearts op die dorp (Hennie) en gaan kuier sy dalk té gereeld om “raad te kry” vir haar beestetrop.

Hennie se ma (Moira) dink weer Charl is ‘n goeie vangs, maar sal hy die beleefdheid beantwoord?

Waar is Carli en Bella se ma? En wie is die man op die maan?

Hierdie radioteater produksie sal jou geboeid hou by jou luidspreker en op diep plekke raak.

Die tema is van ‘n volwasse aard.

Regisseursnota deur Anrich Herbst

Die (volwasse) tema van selfdood is ‘n uitdagende een, deels omdat dit ‘n sensitiewe onderwerp is agv die ontsaglike pyn wat dit veroorsaak, en deels omdat dit baie “gewigtig” kan wees om daarmee om te gaan en sodoende moeilik verteerbaar kan raak vir die luisteraar van so ‘n radiodrama. My eerste doel as regisseur was om die swaar nie te ontken nie, maar om dit so effektief moontlik oor te dra sonder om ‘n “moëe” produksie tot gevolg te hê. Ek was dankbaar vir die ander (ligter) temas in die drama wat hierdie taak vergemaklik het (asook vir die gebruik van musiek – sien hierna).

‘n Verdere uitdaging was die vele musiekbrûe wat die skrywer aanbeveel het. Ek het elkeen van hulle streng beoordeel en agtergekom dat elkeen van hulle nodig was. Dit het etlike ure se fyn luister na musiek geneem om die regte oorgange te bewerkstellig. Gelukkig het die skrywer leiding gegee deur die tema musiek aan te beveel as ‘n bekende liedjie van Laurika Rauch (Kyk hoe Glinster die Maan), en dit het my in die Afrikaanse musiek genre laat opeindig met liedjies van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock – (beide bekende radioteater akteurs nogal).

Radioteater het uit die aard van die saak te doen met die teater van die verbeelding, en ek het uit vorige produksies as regisseur uit my foute geleer om veral aandag te gee aan duidelike aanduiding van die verskillende ruimtes waarin die drama afspeel. Ek hoop ek het hierdie keer beter daarin geslaag.

Die opname het heerlik verloop, en die skrywer (en haar oom en tannie) het ook die oggend van die 3de Desember 2019 by ons aangesluit. Dis wonderlik wat gebeur wanneer radioteater akteurs “stem” gee aan karakters wat tot dusver bloot op papier bestaan het. Die storie neem ‘n lewe van sy eie aan en ons skep saam aan ‘n nuwe entiteit (met die hulp van ons bekwame en geduldige klanktegnikus, Cassi).

Ek hoop jy kuier lekker saam met die Noltes op Houmoed.

Spelers:       

Roeline Daneel

BELLA – ROELINE DANEEL

Mandri Sutherland

CARLI – MANDRI SUTHERLAND

CHARL – ALBERT MARITZ

Lee-Ann van Rooi

MINA –  LEE-ANN VAN ROOI

MOIRA – LINDIE STANDER

Jacques Bessinger

HENNIE –  JACQUES BESSENGER