Drama oor tegno-slaaf tiener


Die afgeslote lewe van tegnologie-verslaafde

Koelkop, ‘n drama oor ‘n tegnologie-verslaafde tiener, is geskryf en geregisseer deur Leon van Nierop. Luister Donderdagaand 14 November 2019 om 20:00 na dié drama.

Plaashuis

Sy ouers is bekommerd. Hul 16-jarige seun, met die bynaam Koelkop, ly aan internet-uitputting. Sy vriend het onlangs selfdood gepleeg nadat hy so verslaaf geraak het aan sosiale media, dat hy ingestort het.

Nou beland Chase en sy ouers in ‘n afgeleë plaashuis sonder selfoon-ontvangs of die internet. Chase kry onttrekkingsimptome. Hy en sy ouers begin ‘n lang, internet-lose nagreis na die dag. En hulle probeer saam met hul getraumatiseerde seun oorleef.

Is dit moontlik dat jongmense sodanig aan die internet, selfone en sosiale media  verslaaf kan raak, dat hulle hoegenaamd nie daarsonder kan funksioneer nie? Sommige ly aan internet- en Youtube-uitputting. Daar is selfs gevalle waar kinders senu-instortings gehad het wanneer hulle nie ure op die internet kon deurbring nie.

vlnr Christopher van der Westhuizen, Leon van Nierop, Hans Strydom en Janine Opperman.

In Leon van Nierop se drama Koelkop, word ‘n gesin gedwing om vir ‘n naweek in ‘n afgeleë plaashuis deur te bring. Daar is geen internet of selfoonontvangs nie. En die sosiale-media-verslaafde seun, Chase, kry onttrekkingsimptome en begin ineenstort. Dit kort nadat sy beste vriend selfdood gepleeg het nadat hy te lank aan die internet verslaaf was en skielik daarsonder moes leef. Nou moet ‘n gesin ‘n naweek oorleef waarin hulle liefde vir mekaar tot die uiterste getoets gaan word. En dit saam met ‘n seun wat paniekaanvalle begin kry. Hulle leer van voor af hoe sterk ‘n gesin se liefde vir mekaar moet wees om hierdie eietydse uitdaging te oorleef.

Hans Strydom keer terug na die radio in die rol van Chase se pa, Janine Opperman speel die rol van sy ma, en die blink, jong akteur Christopher van der Westhuizen speel Chase.

Koelkop is spesiaal vir die radio geskryf en opgevoer deur Leon van Nierop.

Hans Strydom as Braam, Janine Opperman as Vera en Christopher van der Westhuizen as Chase in Koelkop Radioteater 14 November..jpg