Glo-stof en Drosters: Luister weer


Glo-stof

Aanstaande Donderdag (17 Oktober om 20:00) kan luisteraars uitsien na ‘n DUBBELDOOR-bederf. Dis reg, ja, twee radiodramas en albei opdragwerke.

RSG, die ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie het ‘n nuwe projek begin om jong talent na die radio te bring.

Danksy ‘n borgskap van die ATKV het twee dramaturge – Retief Scholtz en Herschelle Benjamin – opdrag gekry om dramas vir die finaliste van die kompetisie te skryf. Scholtz is by RSG-luisteraars bekend om sy dramas DOP en Karel se oupa wat reeds in Radioteater uitgesaai is.

Die spelers in Scholtz se Die prys van glo-stof is Brendan Eloff (Hoërskool Monument), Minke Marais (Hoërskool Noordheuwel), Julian Robinson (Helpmekaar Kollege) en Matian Barnard (Hoërskool Menlopark). Tobie Cronjé kan ook gehoor word met Leon van Nierop as die regisseur.

Kyk die video oor Glo-stof:

Van links is Minke Marais, Brendan Eloff, Tobie Cronjé, Julian Robinson en Matian Barnard.

Hierdie darma bied aan hoërskoolleerders die unieke geleentheid om hulle talente voor die mikrofoon te wys. RSG, ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie bied met trots ‘n tienerstorie aan waarin individualisme, koppigheid, voortvarendheid en dryfkrag lei tot ‘n baldadige avontuur.

Vier deelnemers aan die Toneelspelkompetisie speel die rolle van drie uiteenlopende kinders en ‘n elf wat in ‘n bos verdwaal, en dan desperaat na ‘n slaapplek soek met die hulp van ‘n kaart. Maar hoe gemaak as die spulletjie nie kan ophou met argumenteer nie? Meningsverskille en selfbeeldprobleme staan vierkantig in die pad om hulle doel te bereik. So beland hulle al bakleiende in die vreemde woonplek van ‘n ou man met spesiale kragte, so wys soos die geelhoutbome van die Knysna Bos.

Met die hulp van atmosferiese byklanke, en die samewerking van die bekende akteur Tobie Cronjé, word nuwe jong talent opgelei in die fynere kunsies van radiodrama. Minke Marais is Lila, ‘n beterweterige beheervraat wat dink sy is in beheer van die groepie. Sy kry stewige teenkanting van Tim, gespeel deur Matian Barnard, ‘n rugbyspeler met ‘n vrees vir spinnekoppe. Saam met hulle is CJ (Brandon Eloff), ‘n perfeksionis wat altyd by die feite hou, maar wat nie noodwendig rigting kan hou nie. En dan is daar Timmy, gespeel deur Julian Robinson. Hy is ‘n vlieënde elf wat die kinders omklits met sy lewensenergie. DIE PRYS VAN GLO-STOF sal jou nie net laat skater van die lag nie, maar ook in wonderwerke laat glo. Die stuk is spesiaal deur Retief Scholtz vir hierdie leerders geskryf.

Drosters

In Benjamin se Drosters sal Greteli Fincham (Hoërskool Stellenbosch), Francois van der Merwe (Hoërskool Bellville), Angelo Bergh (Hoërskool Langenhoven), Adri Waterboer (Hoërskool Bellville)  en Graeme Watson (Hoërskool Swartland) gehoor word. Die regisseur is Johan Rademan.

Van links is Francois van der Merwe, Johan Rademan (regisseur), Graeme Watson, Angelo Bergh, Adri Waterboer en Greteli Fincham. Foto deur Cassi Lowers

Michelle is alweer besig om te dros, of in haar eie woorde: “ek staak skool…” Haar maats Ruben, Sammy-Jo, Nicolaas en Pietie word egter vir die eerste keer, en uit die bloute na haar huis genooi vir ‘n partytjie. Hier ontdek hulle ‘n heel ander Michelle en ‘n “geheim” wat ‘n reuse-impak op hulle lewe het.

Die spelers is Greteli Fincham as Michelle, Graeme Watson as Ruben, Adri Waterboer as Sammy-Jo, Angelo Bergh as Nicolaas en Francois van der Merwe as Pietie. Die stuk is ‘n opdragwerk deur Herschelle Benjamin, bekend om die bekroonde verhoogstuk In Slavenhuis 39. Die drama is in samewerking met die ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie geskep.