Geliefde skrywers se werk in nuwe drama-seisoen


Radiodramas uit die penne van Chris Barnard, Pieter Fourie, Audrey Blignault, Piet Cillié, Elise Muller en Leon van Nierop is by RSG se tweede Radioteater-seisoen van 2019 ingesluit. In samewerking met die ATKV is daar ook twee opdrag-jeugdramas deur Herschelle Benjamin en Retief Scholtz wat vanaf Oktober op Donderdae om 20:00 uitgesaai sal word.

RSG se Radioteater word van 3 Oktober tot 26 Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Elise Muller

Die seisoen skop op Donderdag 3 Oktober af met ‘n radio-verwerking van Elise Muller se klassieke kortverhaal, Die vrou op die skuit, wat deur André Kotzé vir die eter aangepas is. Muller sou vanjaar haar 100ste verjaardag gevier het. Joanie Combrink het die regie behartig van hierdie juweel uit die Afrikaanse letterkunde. Dit is in 1957 met die Hertzogprys bekroon en debuteer nou as volwaardige drama met Simoné Benjamin (van Mina Afrika-faam) in die rolverdeling.

Lees meer oor Die vrou op die skuit.

Chris Barnard

‘n Week later word Chris Barnard se 80ste verjaardag herdenk met Op die pad na Acapulco, ‘n argiefdrama uit 1975. Barnard het dit destyds geskryf ter viering van die halfeeu-feesviering van Afrikaanse radio. Joey de Koker was die regisseur met Louw Verwey en Johan Botha in die rolle.

Op Donderdag 17 Oktober kan ‘n dubbeldoor van jeugdramas gehoor word – Retief Scholtz se Die prys van glo-stof en Herschelle Benjamin se Drosters. Die radiodramas vorm deel van ‘n projek wat die ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie saam met RSG aangepak het. Leerders wat tydens die kompetisie uitgeblink het, kan in albei dramas gehoor word. Die regisseurs is Leon van Nierop en Johan Rademan onderskeidelik. Die spelers in Scholtz se drama is Brendan Eloff (Hoërskool Monument), Minke Marais (Hoërskool Noordheuwel), Julian Robinson (Helpmekaar Kollege) en Matian Barnard (Hoërskool Menlopark). In Benjamin se drama sal Greteli Fincham (Hoërskool Stellenbosch), Francois van der Merwe (Hoërskool Bellville), Angelo Bergh (Hoërskool Langenhoven), Adri Waterboer (Hoërskool Bellville)  en Graeme Watson (Hoërskool Swartland) gehoor word.

Martyn le Roux

Die bekroonde radioskrywer Martyn le Roux se Die blikslim handel oor ‘n savant in ‘n tragikomedie wat luisteraars diep gaan roer. Renske Jacobs is die regisseur en dit word op Donderdag 24 Oktober uitgesaai. ’n Savant (Pietie Beyers) wat rolprente – van draaiboeke tot vervaardigers en akteurs soos die palm van sy hand ken – ontmoet ’n aanvallige nagraadse sielkundestudent tydens ‘n rolprentvertoning. Aanvanklik is hy vir haar ’n interessante gevallestudie, maar kort voor lank ontwikkel daar ’n hegte vriendskap tussen hulle wat haar lewe permanent sal verander.

Anton Treurnich

Dan volg Anton Treurnich se speurverhaal – ‘n tipiese whodunnit? getiteld Stille Waters (31 Oktober) – en vervolgens ‘n voormalige wenner van die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie, Lee Doubell, se Grootpad na Kleinkop (7 November) met Elize Cawood en Anton Dekker in die hoofrolle met spelleiding deur Duncan Johnson.

Van Nierop se Koelkop (14 November) is ‘n onthutsende blik op tegnologie, die huwelik en egskeidings met die akteur Hans Strydom wat die hoofrol vertolk.

William Oosthuizen se Doller as kopaf (21 November) is ‘n komedie wat in ‘n aftree-oord afspeel waar ‘n robotpop genaamd Fifi die oues(en veral die preutses) op hol jaag. Louis van Niekerk, Tobie Cronjé, Elize Cawood, Paul Lückhoff, Rina Ninaber en Julie Strydom is van die spelers met Kobus Burger as die regisseur.

Die joernaliste Heléne en Bun Booyens het saam geskryf aan Korporaal Lemmer en die rowers (28 November). ‘n Vyftal jong manne oftewel skoolverlaters word aan die naakte werklikheid van nasionale diensplig tydens die apartheidsjare onderwerp in ‘n uiters getroue weergawe van dit wat soveel jong mans veral in die jare 70 en 80 in die gesig gestaar het.

Die regisseur Helena Hugo behartig die spelleiding van Michiel Potgieter se Die tjello (5 Desember), wat ‘n finalis was in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2018.

En in Deon Johnston se Kulkiekies (12 Desember) word die gevare van ouers wat foto’s van hul babas en kinders op sosiale media plaas, in ‘n wekroep-radiodrama verken. Die regisseur is Christelle Webb-Joubert.

Helena Mellett se liefdesverhaal Man op die maan (19 Desember) word deur die akteur-regisseur Anrich Herbst opgevoer.

Audrey Blignault

Piet Cillie

Op Kersdag (25 Desember) volg twee Kersdramas volg. André Kotzé het Audrey Blignault se Die Krismisbokkie en Piet Cillié se Die engeltjie wat agtergebly het vir die radio verwerk. Dit word deur die aktrise-regisseur Amor Tredoux opgeneem.

Pieter Fourie

Die jaar sluit op ‘n hoë noot af met Pieter Fourie se immergroen Faan se trein, wat op Donderdag 26 Desember gehoor kan word. Die rolverdeling sluit in Marthinus Basson en Johan Botha. Die regisseur van hierdie argiefdrama is Eben Cruywagen. Faan se trein word steeds bestempel as die grootste lokettreffer in die Afrikaanse dramaskat tot nog toe. Dit is ook later deur Koos Roets verfilm.