Hoërskoolleerders in twee nuwe RSG-opdragdramas


Onderskrif: van links is Graeme Watson, Greteli Fincham, Adri Waterboer, Francois van der Merwe, Angelo Bergh, Kobus Burger van RSG, die dramaturg Herschelle Benjamin, Gerrie Lemmer van die ATKV, Matian Barnard, Julian Robinson, die dramaturg Retief Scholtz, Minke Marais en Brendan Eloff.

RSG, die ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie gaan vanjaar twee mini-radiodramas met deelnemers van die kompetisie opneem en uitsaai.

Danksy ‘n borgskap van die ATKV het twee dramaturge – Retief Scholtz en Herschelle Benjamin – opdrag gekry om dramas vir die finaliste van die kompetisie te skryf.

Die kompetisie se eindronde is in Mei vanjaar in Kaapstad se Kunstekaap-teater aangebied. Die derde ronde was onder andere ‘n radiodrama-oudisie wat in RSG se Seepuntse drama-ateljee gehou is. RSG se uitvoerende regisseur: drama, Kobus Burger, en die aktrise en radiodrama-regisseur, Joanie Combrink, was die beoordelaars.

Scholtz en Benjamin het ook die oudisies bygewoon en toe die stemme vir hul onderskeie radiodramas gekies.

Scholtz se drama gaan in Johannesburg opgeneem word en Benjamin s’n in Kaapstad.

Die spelers in Scholtz se drama sal wees Brendan Eloff (Hoërskool Monument), Minke Marais (Hoërskool Noordheuwel), Julian Robinson (Helpmekaar Kollege) en Matian Barnard (Hoërskool Menlopark).

In Benjamin se drama sal Greteli Fincham (Hoërskool Stellenbosch), Francois van der Merwe (Hoërskool Bellville), Angelo Bergh (Hoërskool Langenhoven), Adri Waterboer (Hoërskool Bellville)  en Graeme Watson (Hoërskool Swartland) gehoor word.

Die twee radiodramas sal later vanjaar op RSG uitgesaai word.

RETIEF SCHOLTZ (skrywer van dramas soos DOP en Karel se oupa, wat albei deur RSG verwerk en uitgesaai is) vertel:
‘Wanneer ’n vryskutskrywer ’n oproep kry vir ’n opdragwerk is dit heerlik – jy kan nog ’n maand se huur betaal! Wanneer daardie oproep dan boonop ’n splinternuwe inisiatief is, is dit dubbellekker.

RSG in samewerking met die ATKV, om vir hoërskoolleerders die geleentheid te bied om deel te wees van ’n radiodrama, is een van daai dubbellekker projekte.

Die groep talentvolle jong akteurs is deur verskeie rondes wat ‘n radiodrama-oudisie ingesluit het voor die finale groep gekies is. Dit was vir beide ons as skrywers en vir die deelnemers ’n wonderlike ervaring om in die ateljee tyd te spandeer tydens hulle oudisies.

Vir my as skrywer is dit heerlik om ’n storie op te droom vir die stemme wat ek gehoor het en vir die leerders ’n lekker avontuur om in ’n radio ateljee te kon optree! Dis opwindend om vir die jong stemme te kan skryf.

Ek was uitgeboul deur die wonderlike storievertelvermoë wat die leerlinge het deur slegs hulle stemme te gebruik.

Radiodrama is ’n wonderlike medium waar die gehoor die geleentheid gegee word om hul eie prentjies te skep met die storie wat hulle hoor. Ek sien uit daarna om ’n nuwe storie saam met die leerders te vertel!’

HERSCHELLE BENJAMIN (skrywer van die verhoogdrama In Slavenhuis 39 waarvoor hy vanjaar ‘n Woordtrofee-toekenning tydens die US Woordfees ontvang het as beste opkomende kunstenaar) vertel:
‘Ek is verskriklik opgewonde om ’n radiodrama vir hierdie spesifieke groep talentvolle leerders te skryf. Elkeen van hulle het ’n verskillende soort stemkwaliteit en hulle praat elkeen hul eie soort  Afrikaans – van Namakwalands, plattelands tot Kaaps.

Dit het my weer opnuut laat herinner aan my voorliefde vir die diversiteit van my geliefde moedertaal, Afrikaans. Die louere rus nou op my om ’n drama te skryf wat aan elkeen van hulle die geleentheid sal gee om hul stemme en speltalent te wys in ’n storie wat RSG-luisteraars sal laat dink en vir hulle ook sal inspireer.

Ek pen elke dag so ‘n klein bietjie van die drama neer en wil nie nou al baie daaroor sê nie, maar die titel van die radiodrama sal óf “DIE RYMKLETSER EN SY BARBS” óf “DROSTERS” wees.

Ek sien uit om dit klaar te skryf en om uiteindelik die eindproduk op RSG te hoor.’