Karel se Oupa is oor verlies, deernis en aanvaarding


Karel se Oupa kry gestalte rondom die verhaal van drie geslagte Karel’s wat elkeen verlies – en aanvaarding – op sy eie manier ervaar en moet kry. Karel se Oupa, ʼn stuk wat met deernis delf in die lewe van ʼn gesin soos dié wat ʼn mens al teëgekom het, steun op die gedagte dat ouers is nie veronderstel om hul kinders te begrawe nie.

As jy wil weet watter ander dramas nog hierdie seisoen op jou wag, klik hier.

DIE SKRYWER – RETIEF SCHOLTZ

Retief Scholtz

Retief Scholtz voltooi ‘n B.Com (Hons) in Bedryfsielkunde by die NWU, Potchefstroom kampus in 2006 en ‘n Drama Diploma  in 2010 by MATC in Pretoria.

Retief se skryfwerk sluit die volgende in: DOP (2016), genomineer vir 5 Naledi Nominasies en 4 KKNK Kanna nominasies, waar Scholtz wen vir Beste Nuutgeskrewe Teks; Karel se Oupa (2017) is genomineer vir 4 Naledi teatertoekennings en Weerkaats (2017) word aangewys as die Aardklop Hartsvriende se Gunsteling Produksie by Aardklop 2017. Scholtz word met die Fiësta toekenning vir Beste Opkomende Kunstenaar in 2018 bekroon. DOP en KAREL SE OUPA word beide verwerk vir RSG Radio Teater.

Drie nuwe toneelstukke is te sien in 2019. SLAAF (2017), ‘n 24-minute Silwerskermfees Kortfilm, is genomineer vir Beste Teks.

Retief dien as mede-skrywer op twee Drama-reekse vir kykNET: Dwaalster (2018) in samewerking met Nicola Hanekom en Alles Malan (2018) saam met Corné en René van Rooyen. Scholtz is tans besig met die ontwikkeling van ‘n ligte drama vir kykNET in samewerking met Beer Adriaanse en skryf ook vir die Telenovela – Arendsvlei.

In die klankgreep vertel Retief waar die gedagte aan Karel se Oupa vandaan kom:

Luister na die volledige drama:

Negejarige Karel du Toit kan met sy oupa oor enige iets gesels. Oupa Karel beantwoord rustig sy kleinseun se vrae, behalwe een vraag wat hy nie weet hoe om te antwoord nie. Met gesprekke wat nie meer vermy kan word nie, en die realiteit wat ongenooid aan die voordeur klop, raak die aand vir almal betrokke een wat hulle nooit sal vergeet nie. Karel se oupa is ʼn stuk wat met deernis delf in die lewe van ʼn gesin. Dit steun op die gedagte dat ouers nie veronderstel is om hulle kinders te begrawe nie, en dat spyt dikwels te laat kom. Gebaseer op die idee, konsep en inspirasie van Kosie Smit.

REGISSEURSNOTA DEUR CHRISTELLE WEBB-JOUBERT

Christelle Webb-Joubert

Karel se Oupa was in 2017 te sien by die Mark teater in Johannesburg. Ek het met opset nie die toneelstuk gekyk nie, want ek wou die storie op my eie manier vertel.

Ek was egter verheug toe ek die vier akteurs kon kry wat te sien was in die verhoogstuk, Tobie Cronje, Neels Clasen, Esmeralda Bihl en Ian Roelofs.

Dit was ‘n voordeel dat hulle die karakters reeds baie goed geken het. Ons kon net voortbou op die egtheid van die karakters asook die intimiteit wat so deel is van radioteater.

Dit was so ‘n groot fees om saam met die 10-jarige Ian Roelofs te kon werk. Hy was so goed voorberei en ‘n regte klein seuntjie wat net die heeltyd wou knoppies druk op my regisseursbank.

Verwag ‘n opregte storie, met mense van vlees en bloed en wat sukkel met allerdaagse kwessies. Voorwaar ‘n greep uit die regte lewe.

AKTEURS

Tobie Cronje – Oupa Karel Brink

Tobie Cronjé en Ian Roelofs in Retief Scholtz se drama, Karel se oupa.

Tobie Cronje is een van Suid-Afrika se bekendste sterre. Hy is ‘n bekende naam in Suid-Afrikaanse films en hy het ook in verskeie oorsese koproduksies en films opgetree. Hy speel soms klavier. En die jaarlikse pantomime is nie dieselfde sonder Tobie as die gruwelike skelm of die grand dame nie.

Hierdie jaar is hy in “Dwaalpad Huis Toe” op RSG gehoor en lees tans voor uit die boek “Hans Steek die Rubicon Oor” deur Rudi van Rensburg.

Neels Clasen – Karel Junior

Neels Clasen

Neels het in verskeie teaterproduksies, televisiereekse en films opgetree, waaronder Binnelanders, Platteland en vele meer.

Hy was ook al skrywer en regisseur van kortfilms, die Ghoema Musiektoekennings 2017-2019, en ander verhoogproduksies. Karel se oupa is die eerste keer wat Neels speel vir die radio.

Esmeralda Bihl – Emma Gabriels

Esmeralda Bihl

Esmeralda is bekend vir haar hoofrol in Athol Fugard se “Valley song”, met regie deur Athol Fugard, wat in die Mark teater in Johannesburg gedebuteer het en daarna na getoer London, Ierland, Australië, Kanada, Singapoer, Los Angeles en New York getoer het.

Esmeralda was ook te sien in “cherry orchard (regie deur Janet Suzman) by die Birmingham repertory Theatre in die UK, asook in “Nothing but the truth”, saam met John Kani by die Lincoln centre in New York. Sy is al meer as 20 jaar in die bedryf en is vir vele toekennings benoem.

Ian Roelofs – Kareltjie du Toit (kleinseun van Karel Brink)

Ian Roelofs

Ian is ‘n regte boerseun wat hou van motorfiets ry, visvang, jag en toneel speel. As jy hom vra hoe oud hy is, antwoord hy vining: “Tien, amper elf”.

Ian was ook in die verhoogproduksie van Karel se oupa, maar word ook gereeld gesien in die sepie, 7de laan.

Hy het egter gou in fliekgangers se harte gekruip as die outistiese Alexander in die rolprent, Raaiselkind.

Charlie Bouguenon – Willem du Toit

Charlie Bouguenon

Charlie se loopbaan het in teater en musiekblyspele begin. Gedurende die afgelope dekade en ‘n half het hy opgetree op verhoë deur tien lande oor vier kontinente.

In 2009 het Charlie sy aandag gevestig op die silwerskerm en die kassie met sy film debuut in Ordinary People.

Charlie se stem kan ook gereeld op die radio gehoor word. Hy speel Sebastiaan Vermeulen in Leon Van Nierop se Hartebreker op RSG. Hy is tans in produksie met Scandal as Timothy en binnekort as Denzel in Getroud met Rugby. Hy is ook binnekort te sien in Chris Vorster se teaterklug: Aaptwak by Innibos.

Rika Sennett – Ouma Ans

Rika Sennett

Dis onmoontlik om Rika se meer as 40 jaar in die bedryf op te som, aangesien sy al in elke denkbare medium gewerk het. Meer onlangs was sy te hoor as Sofia Bester in die middagvervolgverhaal, Dwaalpad Huis Toe op RSG.

Rika is ook ‘n Associate Member of the Imperial Society of Teachers of  Dancing (Classical Ballet – Cecchetti Method) en sy is ‘n internasionaal gekwalifiseerde Stott Pilates afrigter en bedryf haar eie studio. Sy is met die akteur James Borthwick getroud en hulle het twee dogters, Kate en Hannah.