Luister weer: ‘Klippe wat val’


16 Mei: Klippe wat val deur Philip Rademeyer

Die dramaturg en regisseur Philip Rademeyer se Klippe wat val het die afgelope jaar tydens verskeie kunstefeeste opslae gemaak en teaterpryse ingepalm. Eben Cruywagen het dit vir die radio verwerk en dit het op Donderdag 16 Mei om 20:00 op RSG gedebuteer met Ronel Geldenhuys as regisseur.

Dean John Smith en Wilhelm van der Walt is albei met kykNET Fiësta-pryse bekroon vir hul vertolkings en sal in die radiodrama gehoor word met Susanne Beyers en June van Merch wat die rolverdeling voltooi.

Regisseursnotas

Ronel Geldenhuys

Toe ek die teks van Klippe wat Val die eerste keer lees, het ek geskrik. Dit was ‘n uitstekende teks. Kosmies. Subtiel en rou. Die storie outentiek vasgelê in die psige en geskiedenis van die Afrikaner, bruin en wit.

Ek het ‘n effense paniek ervaar oor twee uitdagings wat hulleself van meet af aangemeld het.

Eerstens was ek gekonfronteer met rolle waar twee volwasse mans onder andere ook die karakters as kinders moes vertolk. Dis een ding om daarmee weg te kom op die verhoog waar die gehoor outomaties deel word van wat bekend is as ‘suspension of disbelief’. Hoe op aarde sou ons die luisteraar van die radiodrama, wat slegs op gehoor aangewese is, oortuig dat mans kinders is? Na jare as animasieregisseur weet ek al – stemme ‘aansit’ werk nie. Daar sou net een genade wees – rou, eerlik kindwees in die koppe van die akteurs. As die akteur se kop reg dink, as die beelde vir hulle helder is, het ek al geleer, is die beelde vir die luisteraar helder.

Gelukkig het hierdie vrees verdamp nadat ek die stuk op die verhoog gesien het. Philip Rademeyer is nie net ‘n talentvolle skrywer nie maar het as regisseur met groot vaardigheid die akteurs gelei om presies te doen wat ons op mikrofoon moes regkry. Hulle het nie te hard probeer nie. Hulle het net jonk geword. Ek was dankbaar, wetende dat die grootste struikelblok nie werklik ‘n struikelblok sou wees nie.

Tweedens, met net vier spelers in ‘n radiodrama van 82 minute wat in sy totaliteit buite op ‘n plaas vol klippe afspeel, moet ‘n mens slim wees om jou luisteraar gefasssineer te hou. In die verhoogweergawe was ‘n ekstra karakter teenwoordig. Gideon Lombard en sy kitaar. Met ‘n geniale pluk-pluk aan sy snare het hy die skapie, die hond of net die regte atmosfeer opgetower. Vir ons radioteater was Gideon nie beskore nie. Daar was net een uitweg. Ek moes die perfekte musiek in die hande kry as temamusiek en brûe. Ons sou ook subtiel net die regte agtergrondklanke moes inwerk vir die radiogehoor om die oor van die luisteraar onbewus te bind aan die spel.

Groot was my vreugde toe ek een oggend in die huis van ‘n vriendin wakker word met die ongewone klank van Osvaldo Golijov in my ore en die eerste gedagte wat in my kop kom is: Dis die musiek van Klipppe Wat Val! Ek hoop die genot wat dit my gegee het om net die regte stukkies te soek vir ons temamusiek en musiekbrûe val net so reg op ore van die luisteraars.

Wilhelm van der Walt

Dean John Smith

Toe loop ons twee hoofspelers, Wilhelm van der Walt en Dean Smith boonop weg met die Fiësta toekennings vir beste manlike speler en beste byspeler in die verhoogweergawe van Klippe Wat Val. Ek was nie seker of ek verlig moes wees en of die ekstra druk om ‘n goeie eindproduk te lewer, meer paniek by my veroorsaak het nie.

Dinsdag 23 April is ek SABC toe vir die opnames. In my sak was twee middelslag klippe, effens groter as ‘n man se vuis, ‘n sakkie wasgoedpennetjies en ‘n bondel wit gewaste, ongestrykte wasgoed. Dis nou vir die byklanke wat die akteurs in die ateljee moet maak terwyl ons opneem. Ek het bietjie gevoel soos ‘n variasie van Mary Poppins. Daar was ‘n opgewonde knop in my maag. Sal ons vandag reg laat geskied aan hierdie kosmiese storie?

Die veranderinge van die verhoog na die radio? Waar Dean op die verhoog die rolle van die twee ma’s vertolk het, is hulle in die radioteater deur Susanne Beyers en June van Merch gespeel. Op die verhoog het jy die verlate plaaswerf met baie klippe gesien. In die radioteater het ons werf droë gras ten einde die luisteraar te help om die visuele beelde vir hulleself makliker op te tower. Op die verhoog het alles buite afgespeel. In die radioteater het Magriet in haar eie slaapkamer binnenshuis gesterf. Ons het ook die honde, die skapie en die ‘dooie babas’ in die klankwêreld opgetower.

Die akteurs het my nie teleurgestel nie. Wilhelm van der Walt, Dean Smith, Susanne Beyers en June van Merch se spel was deur die bank rou, eerlik en professioneel. Waar Wilhelm en Dean nie so deurleg is in radiotegniek soos Susanne en June nie, het hulle sensitiwiteit en vinnige reaksies op regie meer as opgemaak vir die gebrek aan ervaring.

Die volgende dag was mengdag saam met Cassi Lowers. Dis waar alles bymekaarkom. Spel, byklanke en musiek moet verweef word met die regte aanslag en tydsberekening. Ek glo in die ‘superpowers’ van Cassi. Sy kan stukkies spel letterlik uitrek as ek dit stadiger wil hê, musiek op net die regte plekke onder die spel ingooi. Wanneer dit kom by die byklanke van honde wat grom en blaf en reageer, skep sy ‘n meesterstuk wat van die hond nog ‘n byspeler maak. Mens sien en ruik en voel daai hond as sy met hom klaar is.

Mag Klippe Wat Val hoog vlieg op 16 Mei om 8nm tydens uitsending.

Ken jy die musiek van die Argentynse komponis Osvaldo Golijov?
Hier is ‘n proesel:

Lees hier meer oor die res van die dramaseisoen: ‘Wilhelm Tell’, ‘Klippe wat val’ en ander dramas