Luister weer: Liewe Pynappel


Donderdag 4 April: Liewe Pynappel deur Anna Greenfield

RSG se nuwe dramaseisoen begin op 4 April om 20:00 met Anna Greenfield se Liewe Pynappel, wat verlede jaar die prys vir beste jong skrywer (jonger as 30 jaar) in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2018 ontvang het.

Die storie

’n Ietwat siniese jong swanger vrou is totaal toegewyd aan haar ongebore baba en glo dat mans nie tot liefde in staat is nie.
Tot sy haar jonger sussie se kêrel beter leer ken…

Dit is ‘n uiters onderhoudende, moderne drama. Amusant en in sy genre ‘n juweel. ‘n Soort Bridget Jones-verhaal vir ‘n nuwe geslag.

Die luisteraar word ingenooi in die wêreld wat Elsa, die hoofkarakter, skep deur briewe wat sy skryf vir haar ongebore baba. Elsa is hoogswanger en haar ginekoloog het voorgestel sy begin skryf vir “Pynappel” (Elsa se naam vir haar baba omdat sy nie die geslag wil weet voor die tyd nie) om haar gewaarwordinge en gevoelens in hierdie tyd met haar te deel. Die idee is om dan die briewe as e-posse te stuur na ‘n rekening toe en om eendag, as haar kind agtien is, vir hom/haar die wagwoord te gee sodat hy/sy die briewe kan lees.

Elsa is amper dertig en enkellopend nadat die pa van haar kind die pad gevat het toe hy hoor sy is swanger. Sy woon weer vir haar laaste trimester en die tyd wat sy kraamverlof gaan hê by haar ouers. Haar ma is, in haar woorde “sonder ‘n filter gebore” en praat aanhoudend terwyl haar pa op sy beurt weer nie ‘n woord sê nie na hy ‘n paar jaar terug ‘n beroerte gehad het. Haar sussie, Liechen, is 24 en ‘n regte millennial en Elsa kan nie byhou met al die boyfriends wat sy date en dan weer fire nie. Dis ook deur Liechen wat Elsa vir Dewald ontmoet, al het hulle mekaar al ‘n heel paar keer toevallig vantevore raakgeloop: in die supermark en in ‘n ry by ‘n kroegrestaurant se badkamer. Elsa beskryf Dewald (‘n prokureur) as arrogant en aaklig en ‘n regte wysneus.

Lulu, Elsa se ma, beveel aan dat sy aansluit by ‘n “mammaklub” waar vrouens met kinders mekaar ondersteun en raadgee. Elsa is eers glad nie te vinde daarvoor nie, maar namate sy inskakel by hierdie groep, vorm sy onverwagse vriendskapsbande en ontstaan ‘n gevoel van kameraderie tussen haar en die ander ma’s.

Ons deel in al hierdie wedervaringe van Elsa, van haar laaste trimester af tot na die geboorte van haar baba. Die swanger pakkies wat nie meer pas nie, die cravings, die hormone, die uitbarstings, die vrese, die lagbuie, die kontraksies, die vreugde van ‘n nuwe baba en, wie weet, dalk nóg ‘n paar verrassings…

Die karakters

Cindy Swanepoel

Elsa – Cindy Swanepoel
Elsa is bykans dertig. Sy is baie swanger en bietjie neuroties en sinies. Haar kêrel het haar “soos ‘n vrot vel gelos” toe hy uitvind dat sy swanger is en pad gevat Brussels toe. Elsa is kunssinnig en sensitief, maar glad nie op haar mond geval nie, veral nie met die hormone wat sorg vir ekstra cravings en uitbarstings nie. Sy is vasberade om vir Pynappel (haar naam vir haar baba waarvan sy nie die geslag wil weet nie) alleen groot te maak en ‘n gelukkige lewe te gee. Sy woon tans by haar ouers vir haar laaste trimester en die maande wat sy nog kraamverlof het.

Stian Bam

Dewald – Stiaan Bam
Dewald is ‘n prokureur in sy mid-dertigs. Hy is baie sjarmant met hope selfvertroue, ‘n karaktertrek wat vir sommige mense mag lyk na arrogansie. Hy het dit egter nie altyd maklik of breed gehad toe hy jonger was nie en sy ma het hom en sy tweelingsussie op haar eie in ‘n woonstel grootgemaak.

Ilana Cilliers

Liechen – Ilana Cilliers
Liechen is vier-en-twintig en Elsa se jonger sussie. Sy is ‘n regte millennial en niemand kan byhou met al die boyfriends wat sy date en dan weer fire nie. Al vermoed Elsa meeste van haar romanse bly maar op sosiale media. Sy werk as ‘n assistent by ‘n tydskrif in Kaapstad en doen omtrent alles in die lewe aanlyn.

Susanne Beyers

Lulu – Susanne Beyers
Lulu is Elsa se ma. Sy praat aanhoudend en sê die mees onvanpaste goed. Sy is, in Elsa se woorde, “nie met ‘n filter gebore nie”. Sy is ook obsessief oor haar eie en almal anders se gewig, veral Elsa s’n. Sy was, toe sy jonger was, erg oorgewig en toe sluit sy aan by Shake It Off. Nou is sy een van hulle ambassadeurs wat landwyd reis. Sy woon saam met haar man, Jack, in Oranjezicht. Jack het verlede jaar ‘n beroerte gehad en sukkel om te praat en om te beweeg. Nie dat Lulu hom ooit eintlik ‘n kans gegee het om iets te sê vóór sy beroerte nie. Dit gesê, versorg Lulu Jack baie goed. Sy bad hom, voer hom, gaan stap met hom, lees vir hom die koerant, boelie hom om te gaan fisioterapie doen tape vir hom al sy rugby op VCR.

Kolla
Kolla is ‘n ouer mamma by die mammaklub waar Elsa aansluit, op haar ma se aandrang. Sy het ‘n tweeling van net oor die jaar wat deur ‘n surrogaat in die lewe gebring is, met die gevolg dat baie mense aanvanklik aanneem sy is hulle ouma. Sy is vriendelik, oopkop en warm. Sy skakel baie goed in by die res van die mammas in die klub omdat sy so jonk van gees is.

Brigitte
Brigitte is nog een van die mammas by die mammaklub waar Elsa aansluit. Sy is ‘n hippie in elke sin van die woord. Sy is ‘n joga-instruktrise en ‘n vegan. Sy het ook alternatiewe medisynes vir alles van kraam tot kindersiektes. Sy probeer Elsa oortuig om sommer ‘n watergeboorte in haar jacuzzi te hê. Haar kinders het name uit Cat Stevens-liedjies, soos Moonshadow en Peace Train. Haar man, Bernard, hou van vleis en mediese fondse (anders as sy).

Chantel
Chantel is die benoude mamma in die mammaklub. Janey, haar eerste kind, is nog net ‘n paar maande oud. Sy praat vinnig en stuur die heeltyd voice notes. Sy vra baie raad en vertrou nog nie haar eie oordeel as dit kom by mawees nie. Sy double check alles met die ander ma’s in die groepie.]

REGISSEURSNOTA

Hierdie radiodrama het uit die staanspoor diep in my hart gekruip. Die skrywer het ‘n rou en eerlike prentjie van swangerskap weergegee waarmee ek werklik kon identifiseer. Nie die gepoetsde, sosiale media weergawe nie, die ware een. Soms effe aan die swaar kant en ander kere wonderbaar en skreeusnaaks. Soos swangerskap en ouerskap oor die algemeen maar is. Ek dink werklik hierdie drama gaan wyd aanklank vind: ouer mense en veral ook jonger mense sal Elsa se wêreld en al haar wedervaringe deel en verstaan.

Dit was my oogmerk om hierdie drama so eg moontlik te laat klink en te vertrou dat die sjarme daarvan juis in die egtheid opgesluit lê. Die skrywer het die teks en die dialoog so realisties, gemaklik en onpretensieus geskryf dat ons werklik net die woorde van die papier af moes kry in die ateljee.

Ek het ook van die begin af vir Cindy Swanepoel gehoor in die rol van Elsa, ek kon myself nie verhelp nie. Ek wou eers afsien van die idee omdat Cindy in Johannesburg woon en ons in die Kaap opneem en omdat haar beskikbaarheid beperk is weens haar werk as aktrise op ‘n sepiestel, maar toe probeer ons en maak planne en toe Cindy die dag voor die mikrofoon inskuif was ek baie dankbaar dat ons voortgegaan het daarmee. Die res van die geselskap moes uiteraard ook goed kon toneelspeel, maar meer as dit wou ek innemende, plesierige, innoverende akteurs daar hê wat selfloos sou instaan vir mekaar en byklanke maak en vir Cindy ondersteun omdat sy so baie “aan die woord” is in hierdie drama.

Die ensemble en samewerking was onverbeterlik. Ons het uit die maag gelag, soms ‘n traan gepink, mekaar se siele uitgetrek, rondgehardloop van bakboord tot stuurboord in die ateljee en baie moeg, maar diep tevrede laatmiddag huiswaarts gekeer. Wat ‘n vreugde om saam met Anna, Cassi en elkeen van hierdie akteurs hierdie drama te kon aanpak!

DIE SKRYWER

Anna Greenfield

Anna Greenfield woon in Melkbosstrand en was 29 toe sy Liewe Pynappel geskryf het. Dit is haar tweede radiodrama en die tweede keer dat sy inskryf vir RSG/Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

‘n Paar sinne oor Anna, deur Anna:

Anna praat graag oor haarself in die derde persoon, want sy’s vreeslik belangrik.

Sy huil baie maklik, soos in emosionele lewensversekeringadvertensies, of as sy inskryf vir kompetisies en niks wen nie.

Anna het onlangs iemand se mamma geword. Dis die grootste prys wat enige iemand kan wen.

En nou huil sy eers, want niemand anders sal ooit weer so belangrik wees nie.

Die geselskap van Liewe Pynappel v.l.n.r. Lindie Stander, Frieda van den Heever, Crystal Donna Roberts, Susanne Beyers, Ilana Cilliers, Cintaine Schutte, Cindy Swanepoel en die lang haan onder die henne wat agter staan Stian Bam

Die akteurs saam met Anna Greenfield, die skrywer.

Anna Greenfield, die skrywer van Liewe Pynappel, en Cindy Swanepoel wat die hoofkarakter Elsa vertolk.

Cassi Lowers, ons tegniese en akoestiese towenaar, se tradisionele selfie.

 

Die akteurs in aksie

Cindy en Ilana, wat susters is in die drama.

Cindy Swanepoel, Lindie Stander, Cintaine Schutte en Crystal Donna Roberts koek saam om die mikrofoon in ‘n oomblik wat almal gesukkel het om nie uit te bars van die lag nie.

 

Die “skildery” wat Frieda van den Heever, die regisseur en Cassi Lowers, die klanktowenaar, vanuit die kajuit beskou. Die klok sê 14:17 en Cassi moet al begin nekstrek teen hierdie tyd.

Langer video