Luister weer na ‘Roadtrip’


Donderdag 6 Desember: ROAD TRIP deur Corné Joubert
Road Trip is ’n spanningsverhaal deur Corné Joubert. Twee vroue ry agter vryheid aan. Een pad wat lelik skeefloop. Jana en Stephanie, stadsmeisies en beste vriendinne, vat die pad die Karoolandskap in om hulle koppe skoon te kry en nuwe avonture te beleef. Die avontuur wat hulle inwag, is nie heeltemal die soort wat hulle in gedagte gehad het nie. Daar skuil meer om die volgende draai as net rustige plase met hubare boere.

Hierdie wipwaentjierit-drama het ook ‘n tikkie liefde en ‘n spanningslyn wat die luisteraar gaan laat naels kou.

DIE STORIE

Jana Grobler en Stephanie Gericke, stadsmeisies en beste vriendinne, vat die pad die Karoolandskap in om hulle koppe skoon te kry en nuwe avonture te beleef. Hulle albei is amper dertig en voel ietwat onvergenoegd met hulle lewens – hulle beroepe en hul (gebrek aan) liefdesverhoudings. Jana is oorgehaal om iemand te ontmoet, terwyl Stephanie oor haar onlangse liefdesteleurstelling probeer kom.

Die avontuur wat hulle inwag, is egter nie aanvanklik heeltemal die soort wat hulle in gedagte gehad het nie. Daar skuil meer om die volgende draai as net rustige plase met hubare boere. Mandas is ‘n berugte karakter in die afgeleë landskap waar hulle hulle bevind. Sy ongelukkige verlede, psigiese versteuring en kennis van die veld maak Jana en Stephanie die ideale “prooi” vir meer as net diefstal. Slegte paaie, ‘n band wat bars en swak selfoonseine help nie juis nie.

Sal hulle onverwagse ontmoeting met Gawie du Toit, ‘n skaapboer van die omgewing en Sentoor Waterboer, waterwyser en vriend van Gawie, hulle tot hulp wees of sake net vererger?

Die Skrywer Corné Joubert

Kort biografie
Corné studeer kuns by UP en werk daarna as onderwyser, entrepreneur en kunstenaar. Sy skryf vanaf 2012 deeltyds en skryf en vervaardig sedertdien vele verhoogproduksies, onder andere “ Melusine van Arcadia “ (Woordfees en Aardklop) wat verwerk word as ‘n kortfilm vir KYKNET se Silwerskermfilmfees 2015. Sy is ook kunstenaar vir die projek “Lilith”, wenner van die PPC kortfilmafdeling 2015 en medewenner vir die ATKV Woordveertjie 2018 vir haar teks “Broei” as deel van die produksie “Deurnis” by Aardklop 2017. Corné werk vanaf haar studio in Pretoria as beeldende kunstenaar en skryf aan verskeie projekte. Sy skryf die Radiodrama “Road trip” in 2017 en is dankbaar dat dit op RSG uitgesaai word.
Oor ROAD TRIP
Die storie is geïnspireer deur ‘n road trip wat ek in Januarie 2017 deur dieselfde beeldskone landskap gedoen het. Om deur ‘n landskap te beweeg maak mens bewus van waar jy in jou eie lewe trek en help jou soms onbewustelik om ‘n ander roete in te slaan as jy by ‘n kruispad in jou lewe kom. Die twee karakters Jana en Stephanie se avontuur dwing albei om hulle eie verskuilde krag te herondek.

REGISSEURSNOTA

Frieda van den Heever

Omdat dit my eerste poging tot regie van ‘n radiodrama was, het ek geweet die rolverdeling gaan eintlik die belangrikste aspek daarvan wees:

Die uiters gemaklike verhouding tussen Jana en Stephanie, wat spruit uit ‘n jarelange vriendskap, was behalwe vir die intrige en spanning, die mees essensiële bestanddeel van hierdie drama, omdat meeste daarvan afspeel in die kar.

Ek was dus gelukkig om vir Roeline en Cintaine, wat self baie goeie vriendinne is en mekaar goed ken, te kon kry in hierdie rolle.

Charlton was ook uit staanspoor die eerste keuse vir Mandas – en geensins op grond van “type casting” nie. Charlton is ‘n sagsinnige, uiters sensitiewe en intelligente mens wat nie ‘n vlieg sal seermaak nie, maar hy kan in sy hoedanigheid as akteur uitstekend transformeer om psigies versteurde karakters die lig te laat sien.

Geon se gemoedelike aard, sy plattelandse herkoms, sy ongelooflike vermoë om in die radio-ateljee byklanke te maak wat eg klink en ‘n wye verskeidenheid karakters te kan speel het hom die rol van Gawie besorg en Chris Majiedt, met sy ryk stem en aanslag, was ook voor die hand liggend as Sentoor Waterboer.

Ek was van die begin af ingestel op die egtheid van die karakters. Dis ‘n realistiese verhaal en die skrywer het die dialoog gemaklik en eg geskryf. Die skreiende kontras tussen die tonele wat fokus op Mandas, wat ietwat uitgelig is in vertolking en byklanke, en die gemoedelike “road trip”-atmosfeer was ‘n verdere fokuspunt.

Die tema van die lewe as ‘n pad is seker die mees voor die hand liggende. Alle paaie is nie glad en geteer nie, soms loop die pad skeef. Soms lei grondpaadjies na goue geleenthede. Die lewe loop nie eintlik soos ‘n lyn nie, dit beweeg in sirkels. Ons leef tussen pole: goed en sleg, vrede en oorlog, liefde en haat, begin en einde. Dis nooit eintlik net die een of net die ander nie en “Road Trip” is tekenend van hierdie paradoks.

Die geselskap saam met Cassi Lowers, ons briljante tegniese en akoestiese versorger!

DIE KARAKTERS

Charlton George

Mandas (Charlton George)
Mandas is ‘n veldbewoner wat berug is daarvoor om mense te besteel, aan te rand en veel erger goed aan vroue te doen. Hy word ook verdink van moord en mense in die plaaslike omgewing is voortdurend op die uitkyk vir hom. Hy het ongelukkige kinderjare gehad en funksioneer byna soos ‘n dier op jag na prooi in die veld. Hy bly honger vir wraak.

Roeline Daneel

Jana Grobler (Roeline Daneel)
Jana is ‘n eksentrieke taalredakteur en uitlegkunstenaar. Sy is optimisties, lief vir die lewe en saam met haar is daar, soos sy self sê, “never a dull moment”. Sy beskryf haarself as ‘n goeie vangs vir enige man. Sy is vasberade om haar beste vriendin uit haar put van selfbejammering oor haar onlangse liefdesteleurstelling te kry op hulle “road trip”.

Cintaine Schutte

Stephanie Gericke (Cintaine Schutte)
Stephanie is ook amper dertig, soos Jana, en is ‘n aktrise, fotograaf en digter. Sy is vasgegom aan haar foon en verslaaf aan sosiale media. Sy sukkel om oor haar verhouding met Ben, “wat agt jaar van haar lewe gesteel het” te kom. Sy is Jana se oudste vriendin.

Geon Nel

Gawie du Toit (Geon Nel)
Gawie is ‘n goedhartige, suksesvolle skaapboer van die omgewing. Hy is amper veertig, enkellopend en baie behulpsaam.

Chris Madjiedt

Sentoor Waterboer (Chris Madjiedt)
Sentoor is ‘n waterwyser en loodgieter. Hy is ‘n regte platjie – in sy woorde: “oud, maar nog lank nie koud”.

Die geselskap. Vlnr is Frieda van den Heever (regisseur), Geon Nel, Cintaine Schutte, Chris Madjietdt, Roeline Daneel en Charlton George

Die geselskap saam met Cassi Lowers, ons briljante tegniese en akoestiese versorger!

Cassi en Frieda aan’t koukus

Roeline Daneel (Jana) en Cintaine Schutte (Stephanie) in aksie