‘n Wonderwerk vir Kersfees gegrond op ware verhaal


Kersdag (25 Desember): ‘N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers
Die bekroonde skrywer Riana Scheepers het vanjaar se opdrag-Kersdrama, ’n Wonderwerk vir Kersfees, geskryf. Dit is losweg gegrond op ’n ware verhaal en karakter en word op Kersdag uitgesaai. Dit beloof om een van die hoogtepunte van die seisoen te wees.

Sarah is ‘n weduwee wat saam haar gesinnetjie op ‘n plot woon en ‘n lewe maak van ‘n klein boerderytjie en dit wat haar plotjie kan lewer.  Sy het ‘n padwinkeltjie  waar sy vars produkte uit haar tuin en tuisgemaakte produkte soos konfyt en gemmerbier verkoop aan verbygangers. Sy hou met lewensmoed en harde werk die gesinnetjie bymekaar.

Hul enigste vervoermiddel is ‘n ou bakkie wat saans langs die huis parkeer word. Dan is daar ‘n krisis en Sarah en haar gesin moet van die plaas vlug. Op ‘n bonatuurlike manier slaag Sarah daarin om die bakkie met haar huis se sleutels aan te skakel… Die drama is op ‘n werklike gebeurtenis gegrond.

Skrywersnota: Riana Scheepers

Die “wonderwerk” van ‘n Wonderwerk vir Kersfees is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis en was die inspirasie vir hierdie verhaal. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.

Regisseursnota: Johan Rademan

Ná die geweldige brande wat Knysna en George aan die Tuinroete die afgelope twee jaar deurgemaak het, bring ons ook hulde aan die inwoners van die dorpe en omliggende dorpe wat met die volle omvang van die vreesaanjaende vure gekonfronteer is.

Uit die as en roet van die dorpies het die lewe nuwe betekenis gekry en het baie mense als wat hul ooit gehad het verloor. Lewensverlies was aan die orde van die dag en daarom is die drama, nie net oor die Kersfeestema nie, maar ook in die brandseisoen in die Kaap, so gepas en aangrypend.

Riana Scheepers vang die kleindorpse-karakters stewig vas en omskep hul tot die juwele wat hul is. Die akteurs het werk van hoogstaande gehalte gelewer en met Joanie Combrink (Sarah Barnard), Mariechen Vosloo (Marie Barnard), Dean Balie (Wilhelm Barnard), Anrich Herbst (Krisjan Maritz) en Rolanda Marais (Leentjie) het dit gevoel of ek met die A-span werk.

Die vertolkings waar Sarah se aardsheid in die bosdorpie jou oorrompel, met uitmuntende spel van haar seun Wilhelm, sal jou lank bybly. Krisjan, die profeet, probeer die res van die gesin oortuig dat die jong Marie ‘n onbevlekte swangerskap het, maar hoe suksesvol hy dit deurvoer moet die dramaliefhebbers self oordeel. Ons RSG-luisteraars het fyn ore en ‘n fyn aanvoeling vir goeie spel. Die kameerolletjie van Leentjie stel die toonaard van die soms vergete en uitgelewerde gemeenskappies in ons land – dié slag in die boswêreld van die Grootvoete. Geniet en wees dankbaar!

Wanneer jy dalk diep in ‘n braaivuur tuur op Kersdag en oor die drama peins onthou asb om die kole te blus na die braai.

Vreugdevolle Kersdag.

Die karakters en spelers

Sarah Barnard – Joanie Combrink. Sarah is ‘n weduwee wat saam haar gesinnetjie op ‘n plot woon en ‘n lewe maak van ‘n klein boerderytjie en dit wat haar plotjie kan lewer.  Sy het ‘n padwinkeltjie  waar sy vars produkte uit haar tuin en tuisgemaakte produkte soos konfyt en gemmerbier verkoop aan verbygangers. Sy hou met lewensmoed en harde werk die gesinnetjie bymekaar.
Marie Barnard – Mariechen Vosloo. Sarah se swanger, effe stadige dogter.
Wilhelm Barnard – Dean Balie. Sarah se slim seun. Hy sit nie om dieselfde vuur as Krisjan, sy suster se kêrel, nie.
Krisjan Maritz – Anrich Herbst. Marie se aanstaande. Hy is die doring in die vlees, en draai Marie om sy pinkie.
Leentjie – Rolanda Marais

Die Wonderspan: Anrich Herbst, Rolanda Marais, Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Johan Rademan (RSG-regisseur), Dean Balie en Riana Sheepers (skrywer). Voor: Cassi Lowers (tegnies)

Rolanda Marais, Johan Rademan en Joanie Combrink werk in die Seepuntateljee aan Riana Scheepers se drama vir Kersdag, ‘n Wonderwerk vir Kersfees.

Die hele gesinnetjie en aanstaande bymekaar: Ma Sarah (Joanie Combrink), die aanstaande, Chrisjan (Anrich Herbst), Wilhelm die slim seun (Dean Balie) en Marie, die swanger effens stadige dogter (Mariechen Vosloo)

Anrich Herbst (Chrisjan) en Dean Balie (Wilhelm) sit nie langs dieselfde vuur in die drama van Riana Scheepers waarin ‘n huis afbrand en ‘n wonderwerk gebeur nie.

Roanda Marais (Leentjie) en Joanie Combrink (Sarah)

Rolanda Marais en Joanie Combrink in die rolle van Leentjie en Tant Sarah in Riana Scheepers se drama, ‘n Wonderwerk vir Kersfees.

Chrisjan (Anrich Herbst) is die doring in die vlees, want hy draai sy meisie Marie (Mariechen Vosloo) om sy pinkie, totdat die noodlot toeslaan