Nog net twee weke: Jeugdrama oor aborsie


Die romanskrywer en regisseur Helena Hugo het ’n jeugdrama oor aborsie geskryf wat die luisteraars op die punt van hul stoele gaan hou. Dit is ’n onthutsende tema en verhaal wat met vertedering aangepak is. Gewis ’n radiodrama wat die land gaan laat gons.

Uitsending: Donderdag 15 November om 20:00: Nog net twee weke deur Helena Hugo

Die storie

Esta is in graad elf, die enigste kind van liefdevolle ouers wat vir haar ’n blink toekoms beplan. Hoewel sy presteer, is sy die laaste tyd parmantig en ongelukkig. Haar ma dink dis eksamen-stres, maar Esta het net twee weke oor om te besluit of sy haar geheim met haar ouers wil deel of alleen deur die trauma van aborsie wil gaan.

Nog net twee weke is ‘n eietydse jeugdrama wat ouers én hul tieners diep sal roer.

denkbaar.

Helena Hugo (Foto: Lux Verbi, fotograaf Hanneri de Wet.)

Helena Hugo, skrywer en regisseur vertel:

Om ’n geregverdigde drama oor aborsie te skryf en boonop tieners by die verhaal te betrek, is nie maklik nie.

Nog net twee weke, wat voorheen om verskeie redes afgekeur is, het jare lank in my kas gelê voordat ek dit weer uitgehaal het, krities daarna gekyk en stuk vir stuk oorgeskryf het. Ek het van voor af navorsing gedoen, talle webwerwe besoek, artikels gelees, selfs ’n bibliografie oor Marie Stopes, die moeder van moderne geboortebeperking na wie aborsieklinieke wêreldwyd vernoem is. Vraag is, wat is noodsaaklik, feite of emosie? Ek het tot die slotsom gekom dat statistieke die pyn en hartseer letterlik onderstreep en dus nie geïgnoreer kan word nie.

Nog net twee weke is Esta se verhaal, maar ook dié van duisende ander.

Daar is altyd meer as een kant aan ’n saak en as skrywer is dit vir my nodig om simpatiek na elke standpunt te kyk. Karakters kom elkeen met sy eie pakkie ervarings en toekomsdrome. Dikwels is hulle vasgevang in die plek wat hulle teen wil en dank moet volstaan, ’n plek waar hulle deur omstandighede en verwagtings van ander letterlik gevange gehou word. Hoe moeilik om soms uit te breek en jou lewe te leef soos jy wil? Hoe erg om in ’n hoek gedryf te word deur jou eie roekeloosheid?

Esta en Stiaan reageer ooglopend verskillend. Stiaan is hard en selfs wreed, Esta onseker en bang. Albei kom te staan voor die gevolge van hul eie onverantwoordelikheid of in hulle geval dalk blote onnoselheid. Ons leef immers in verligte tye en inligting is vrylik bekombaar, sê jy.

Ja, webwerwe is veronderstel om die waarheid te praat, maar waar staan ons as ouers? Gesels ons met ons kinders? Is ons eerlik met hulle en met onsself? Waag ons dit om hulle nie op voetstukke te plaas nie en hul menslikheid te erken. Sal ons in alle redelikheid besef dat ons sterkinders ook kan faal?
Ek hoop jy luister na Nog net twee weke met ’n oop gemoed en kry, soos ek, nuwe insig in ’n eeuoue dilemma.

Die spelers

Saskia Pocock (Foto Munro Nel)

Luan Jacobs (Foto Iris Grace)

Die spelers is Saskia Pocock (Esta), Luan Jacobs (Stiaan), Susan Coetzer, Richard van der Westhuizen, Natania van Heerden en Shemane Harris.

Susan Coetzer

Natania van Heerden