Nuwe middag vervolgverhaal = Brulsand


BRULSAND is Charles J Fourie se nuwe vervolgverhaal wat Donderdag 12 Des, 14:45, net voor Spitstyd, begin. Dit is vol spanning en intrige, geheime en ook humor.

Dit speel af teen die agtergrond van ’n fiktiewe dorpie iewers diep in die Noord-kaap duskant die Witsand Natuurreservaat, waar die wêreldbekende Kalahari brulsand voorkom. Hier het die tyd stil gestaan, en die gemeenskap leef op baie vlakke nog in die verlede – of sukkel om te aanvaar dis 2019.

Die Storie

Dis nog ’n baas en klaas gemeenskap met reëls wat deur dié wat het, in stand gehou word. Op die oppervlak is dit ‘n vreedsame dorp en is daar selfs planne om ’n nuwe nedersetting te ontwikkel, om inwoners uit die stad hierheen te lok. Tussen die skinder, skelmstreke en onmin, is daar ook heelwat om oor te lag, jeens die vreemde mengsel van inwoners wat almal iets het om weg te steek.

Dan word die skynbare plattelandse rustigheid verbreek wanneer daar kort voor Kersaand ’n moord op die dorp gepleeg word. Die gebeurtenis sal die vernis-laag vinnig laat kwyn en die dorp se inwoners in rep en roer bring. Veral wanneer ‘n jong speurder, Herbert Jantjies, van Upington gestuur word om die moord te ondersoek, en hom vasloop in ’n gemeenskap wat so vreemd en komies is, dat mens mag dink jy is op ‘n Leon Schuster rolprentstel.

Die sentrale lokaliteit is dan ook ’n gastehuis met ’n restaurant waar die dorp se inwoners nie net kom aflaai nie, maar ook oplaai. En die gastehuis behoort aan Belinda Leroux, vrou van die hoof sakeman op die dorp, Basjan Leroux. Haar dogter is die 25-jarge Ansie Leroux, wat lankal uit die huis wou kom maar deur haar ma vasgehou word by die gastehuis, waar sy boonop vir haar ma werk.

Die distrik se polisie-hoof, Dalene Jafta, is al lank ’n inwoner op die dorp en sal moet bontstaan as die eerste moord gepleeg word, want min weet sy en die ander inwoners dat hierdie moord die eerste van twee moorde sal wees. Haar 25-jarige dogter, Jolene Jafta, wat toevallig op dieselfde dag as haar beste vriendin, Ansie Leroux, gebore is, werk ook by die gastehuis vir Ansie se ma. Jolene het egter drome om eendag haar eie restaurant op die dorp te vestig en ’n meester veldkos-sjef te word.

Die aantreklike enkel-ma, Christa Cronje, het ‘n hele paar jaar gelede op die dorp kom bly. Sy is die plaaslike eiendomsagent wat ook vir Basjan Leroux bystaan met planne om ’n moderne woonkompleks buite die dorp op te rig. Christa is egter geskok as sy van die moord verneem, aangesien sy vroeer ’n verhouding met die slagoffer gehad het. En wanneer haar seun, Francois Cronje, opdaag om oor die moord te skryf, na hy aangestel is as distriks-joernalis, moet Christa baie dinge verduidelik.

Voeg tot hierdie mengsel die reisende-verkoopsman Fanie Louw wat twee keer ’n maand oorslaap om sake te doen met die boere, en die plaaslike sekuriteitshoof, Dirk Dippenaar, wat op sy dag in Irak diens gedoen het….en jy het ’n netwerk van karakters wat almal ’n goeie rede sou hê om ’n moord te pleeg.

Met verloop van 60 episodes, sal ’n string geheime en verwantskappe tussen die dorpsmense onthul word. Maar die groot vraag is: wie is volgende op die moordenaar se lys?? En soos die verdagtes een na die ander uitgeskakel word deur speurder Herbert Jantjies, kom ons nader aan die raaisel. Wie is die moordenaar? Is daar meer as een?  En wat is die rede vir hul vendetta met die moorde?

Luister na die klankgreep om ‘n voorsmakie te kry van die drama wat op jou wag:

Luister Episode 1 indien jy dit misgeloop het:

Donderdag 12 Desember 2019

Basjan ontmoet Jakob op die duine buite die dorp, en word deur ’n skerpioen gesteek. Belinda is opgewonde oor die Duitsers wat by die gastehuis kom oorbly. Ansie en Jolene moet bontstaan om alles gereed te kry vir die belangrike gaste. Basjan dreig om Jakob iets aan te doen as hy nie die oordragvorms teken nie.

Die Rolverdeling

Martin Jansen vertolk die rol van Jakob Maritz – ‘n afgetrede wynboer wat ‘interessante plantjies’ kweek.

Jakob Maritz – Martin Jansen
60 jaar oud. ’n Afgetrede wynboer.

Lochner de Kock

Basjan Leroux – Lochner de Kock
55 jaar oud.
Sakeman op die dorp met heelwat belange en ook politieke aspirasie.
Getroud met Belinda Leroux.

Henrietta Gryffenberg

Belinda Leroux – Henrietta Gryffenberg
50 jaar oud en getroud met Basjan.
Sy is baie betrokke by gemeenskapsake, en besit ’n gastehuis op die dorp.
Haar dogter is Ansie Leroux.

Carmin Coetzer

Ansie Leroux – Carmin Coetzer
25 jaar oud. Dogter van Belinda en Basjan.
Sy help haar ma uit by die gastehuis. Sy wil eintlik gaan swot en wegkom van haar ouers se suur verhouding – maar haar ma hou haar vas.
Sy is in ‘n verhouding met Francois Conje.

Heidi Mollentze

Christa Cronje – Heidi Mollentze
45 jaar oud.
Plaaslike eiendomsagent wat in die geheim ’n verhouding met Basjan Leroux het. Vroeer het sy en Jakob Maritz ‘n affair gehad en lank terug was Fanie Louw, die verkoopsman haar romantiese afleiding.
‘n Ware mannejagter.
Sy is die ma van die joernalis, Francois Cronje.

Anton Dekker

Fanie Louw – Anton Dekker
65 jaar oud. Verkoopsman van die lang pad.
Fanie moet twee keer ’n maand in die distrik kom bestellings neem. As hy die distrik besoek, slaap hy oor by die gastehuis.

Eloise Cupido

Dalene Jafta – Eloise Cupido
45 jaar oud. Hoof by die plaaslike polisiestasie.
Sy is geskei van haar man Chris Jafta wat tans iewers in Kaapstad woon. Sy ken die inwoners se talle geheime maar hou meesal die stories vir haarself.
Haar dogter is Jolene Jafta.

Sue Pyler by die MSL trofee in die ateljee

Jolene Jafta – Sue Pyler
25 jaar oud.
Haar ma is die polisiehoof op die dorp.
Sy werk ook by die gastehuis in die kombuis en is ’n talentvolle sjef wat graag eendag haar eie restaurant wil besit.

David Louw

– Dirk Dippenaar – David Louw
40 jaar oud.
Plaaslike sekuriteitsfirma-eienaar en hy werk ook vir Basjan Leroux en is baie lojaal teenoor sy baas.
Hy is ’n man van min woorde en baie geheime.

Pietie Beyers

Francois Cronje – Pietie Beyers
25 jaar oud.
Die pas-aangestelde plaaslike distriks-koerantjoernalis.
Sy ma is Christa Cronje, en hy weet nie wie sy pa is nie. Hy en sy ma het ’n noue verhouding, en hy sleep vlerk by Ansie le Roux.

– Herbert Jantjies – Johny Klein
30 jaar oud.
Jong speurder van Upington wat die eerste moordsaak op die dorp kom ondersoek.
Hy is jare gelede deur kaptein Dalene Jafta opgelei as speursersant.

Johny Klein vertolk die rol van speursersant Herbert Jantjies. Anton Dekker speel die nimlike Fanie Louw.

‘n Ikoniese paartjie – Henrietta Gryffenberg (Belinda le Roux) en Lochner de Kock (Basjan le Roux).

Carmin Coetzer en Pietie Beyers speel die rolle van die verliefde paartjie, Ansie en Francois

Die dorp in veilige hande.. Eloise Cupido as kaptein Dalene Jafta en David Louw as die plaaslike sekuriteitsman Dirk Dippenaar.

Heidi Mollentze speel die rol van Christa Cronje en David Louw is die plaaslike sekuriteitswag, Dirk Dippenaar

Henrietta Gryffenberg en Carmin Coetzer speel ma en dogter

Pietie Beyers (Francois Cronje) en Anton Dekker (Fanie Louw)

Sue Pyler (Jolene Jafta) & Heidi Mollentze (Christa Cronje)

Sue Pyler & Eloise Cupido speel ma en dogter

Die Skrywer – Charles J Fourie

Charles J Fourie

Charles J Fourie is ‘n skrywer en regisseur wat in televisie, film, teater en radio werk. Fourie het sy eerste toneelstuk as dramastudent in die Windybrow-teater in 1985 opgevoer en het in dieselfde jaar die Henk Wybenga-beurs ontvang as die belowendste student.

Hy het die afgelope amper 30 jaar meer as 60 werke geskryf vir die verhoog wat in Suid-Afrika en Brittanje opgevoer is. Hy werk ook sedert 1995 as televisie-draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger.

Vir RSG het Fourie oa die trilogie: Inferno, Purgatorio en Paradiso en die dramas: Praatmaar (2005), Beseringstyd (2008) en Offer (2013) geskryf. In 2015 wen hy die RSG/Sanlam radiodramaskryfkompetisie met Vergifnis.

As filmregisseur voltooi hy in 2015 sy eerste film wat geskoei is op sy bekroonde toneelstuk Agterplaas. In opdrag van RSG verwerk hy Agterplaas ook as ‘n middagvervolgverhaal wat in 2017 uitgesaai word.

Die Regisseur – Renske Jacobs

Renske Jacobs

Dit is ‘n plesier om hierdie storie van Charles op te voer. Ons neem tans ‘n blaaskans – ons sal aan die einde van Jan en Feb 2020 die laaste 20 opneem, en ek is so bly daaroor omdat ek nie wil hê die ervaring moet verby wees nie.

Omdat Charles se karakters so duidelik en volrond is, het die akteurs van die begin af pens en pootjies in die rolle geklim. Een van die akteurs het na ‘n paar opnames opgemerk dat die teks so goed geskryf is, daar hoef nie gefokus te word op enige iets anders behalwe as om net met oorgawe te speel nie – die dialoog en die storie vloei moeiteloos.

Charles slaag ook daarin om ‘n onderliggende komiese aanslag deurlopend in sy storie in te weef. Iets wat glad nie maklik is vir baie skrywers nie. Komiese aanvoeling is nie iets wat ‘n mens sommer kan aanleer nie – dis n gawe waarmee jy gebore word.

Die storie speel in die Noord-Kaap af, maar meeste van die karakters is nie boorlinge van daardie wêreld nie. Al bly hulle al lank op die dorp, is hulle almal ‘inkommers’ wat jare gelede soontoe getrek het. Daarom praat slegs enkele van die karakters met n streeksaksent – kaptein Dalene Jafta, haar dogter, Jolene, speursersant Herbert Jantjies en die dorp se sekuriteitsman, Dirk Dippenaar.

Ons vertrou ‘n ieder en ‘n elk en ‘n inkelte sal hierdie storie geniet. Ons het baie pret tot dusver gehad om dit te skep, en ons hoop die wat luister kan elke weeksdagmiddag kom deel in die uitbundige energie wat uit ons storie straal.